KZN-suidkus se krane én beursie loop leeg weens wanadministrasie

(Foto: Unsplash)

Derduisende inwoners van die KwaZulu-Natalse suidkus moet al weke lank sonder lopende water klaarkom nadat voormalige munisipale werkers van die Ugu-distriksmunisipaliteit vermoedelik die munisipaliteit se waterstelsel gesaboteer het.

Kommer bestaan nou dat die suidkus vanjaar aansienlik minder vakansiegangers weens die voortslepende waterkrisis gaan ontvang – dít nadat die Covid-19-pandemie die plaaslike ekonomie die afgelope jaar lamgelê het.

George Henderson, plaaslike raadslid, sê huishoudings van Hibberdene tot Port Edward is al langer as twee weke sonder water. Henderson skat dat tussen 200 000 tot 300 000 inwoners tans geraak word.

Inwoners aan die suidkus ondervind egter al jare lank probleme met hul watertoevoer en ervaar jaarliks vier tot vyf wateronderbrekings van dié aard.

Die skuld word vierkantig voor die deur van die Ugu-distriksmunisipaliteit gelê wat vroeër vanjaar betrek is by bewerings van tenderbedrog, finansiële wanbestuur en die betaling van spookwerkers. Die bewerings hou verband met sowat R30 miljoen in vrugtelose en verkwistende uitgawes by die munisipaliteit.

Meer as 100 munisipale werkers is boonop afgelê en dit is vermoedelik van dié werkers wat agter die jongste wateronderbreking sit.

Margate se hoofstrand. Foto: Wikipedia

Henderson sê die munisipaliteit kommunikeer glad nie met inwoners oor wanneer die watertoevoer herstel sal word nie aangesien hulle kwansuis nie enige inligting onbewustelik aan die vermeende saboteurs wil verskaf nie.

Dit terwyl sommige inwoners snags water het waarna hulle krane weer soggens opdroog. Raadslede word intussen oorval met klagtes.

“Ugu is onbevoeg,” sê Henderson prontuit. “Ons vra al die laaste vyf jaar dat Umgeni Water by Ugu moet oorneem. Daar is ook al versoek om Ugu onder administrasie te plaas, maar daar is net geen politieke wil nie.

“Vakansiegangers gaan nie hiernatoe kom as daar nie water is nie en meer as 80% van ons ekonomie draai om toerisme. Dit is ’n nagmerrie. Hulle is besig om ons ekonomie te verwoes.”

Barry Smit, voorsitter van die Margate-belastingbetaler- en inwonersvereniging, sê oor die 15 000 mense in Margate ervaar probleme met hul watertoevoer. “Toerisme is Margate se bloedlyn.

“Ons ekonomie het ’n groot knock gevat met Covid-19. Ons besighede probeer weer op die been kom, maar die waterprobleem het ’n groot impak op toerisme. Ons voel magteloos. Ons is afhanklik van water.”

Volgens Smit lyk dit of Margate Beach, Ivongo, Shelly Beach en Ramsgate se watertoevoer aan die herstel is.

Johan Etzebeth, ’n inwoner van Ramsgate, sê vandeesmaand is die vierde Desembervakansie wat die gebied ’n afname in toerisme beleef. “Ons winkeltjies is leeg. Dit lyk soos spookdorp. [Die munisipaliteit] het met ons geld weggeloop.”

Maroela Media het Vrydag ’n navraag aan die Ugu- distriksmunisipaliteit gerig en wag op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Cd ·

Die aantal huise wat hier in die mark is,is n bewys van die swak administrasie.

Samuel ·

Soms wonder ‘n mens of alle soortgelyke voorvalle nie doelbewus georkestreer word nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.