Laaste gestrande SA’ner uiteindelik uit Soedan

Só lyk die suide van Khartoem. (Foto: AFP)

Die laaste (bekende) Suid-Afrikaner wat die oorloggeteisterde Soedan wou verlaat, is op pad huis toe.

Deon du Toit het Sondag in die vroeë oggendure ná ’n moeisame reis in Port Soedan aangekom en is tans daar by vriende aan huis.

Dr. Imtiaz Sooliman, direkteur van die noodledigingsorganisasie Gift of the Givers, sê die nodige dokumentasie is reeds afgehandel en indien alles volgens plan verloop, sal Du Toit vanaand al op ’n skip na Saoedi-Arabië kan klim.

Du Toit sal na verwagting teen Maandag laatmiddag in Jeddah aankom van waar hy ’n vlug na Suid-Afrika sal kan haal.

Du Toit sal moontlik teen Woensdag veilig terug in Suid-Afrika kan wees na gelang van vlugbeskikbaarheid.

Gift of The Givers dra kennis van drie Suid-Afrikaners in Soedan wat ondanks die voortslepende konflik besluit het om in dié land aan te bly.

Skotse terriërs nog in Kaïro

Adam, Nyala en Isla kort nadat hulle herenig het. (Foto: Verskaf)

Adam Young, die Suid-Afrikaner wat agterbly het in ’n poging om sy gesin se twee honde op ’n vlug terug na Suid-Afrika te kry, is tans nog in Kaïro in Egipte.

Young se vrou, Ilse, sê die Egiptiese owerhede weier om die permitaansoek vir die twee Skotse terriërs sonder bloedtoetse te verwerk. Young het die bloedtoetse vanoggend laat doen.

“Ons hoop dat hulle teen Dinsdag of laastens Woensdag kan uitvlieg. Intussen sit hulle in ’n woonstelletjie in Kaïro … Ek dink Adam én die hondjies is al bietjie gefrustreer,” sê Ilse.

Sooliman sê die leierskapstryd en veiligheidsituasie in Soedan is steeds uiters wisselvallig en onvoorspelbaar.

Lees al Maroela Media se berigte oor die vlugtog uit Soedan hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.