Laaste jong dokters uiteindelik geplaas

(Argieffoto: Jossué Trejo/pixabay)

Die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (Sama) het besluit om sy beplande regsaksie teen die nasionale departement van gesondheid rakende die plasing van pas afgestudeerde dokters voorlopig te laat vaar.

Dít nadat die departement Donderdagmiddag bevestig het dat die laaste 155 mediese interns sonder plasings uiteindelik nou by ’n mediese sentrum, kliniek of hospitaal vir hul internskappe geplaas is. Die afgestuurdes sou teen Donderdagaand hiervan in kennis gestel word.

Dié dokters moes reeds op 1 Julie aangemeld het vir diens, maar was teen einde Junie steeds nie geplaas nie.

Dr. Angelique Coetzee, voorsitter van Sama, sê die plasings volg nadat die vereniging die afgelope week met regstappe moes dreig en agter die skerms met die departement moes onderhandel om te verseker dat die 288 pas afgestuurde jong dokters wat in Maart en April graad gevang het, by mediese fasiliteite geplaas word vir hul internskappe.

Soveel as 133 van die jong dokters is teen verlede week geplaas met die oorblywende 155 wat eindelik teen Maandag by ’n mediese instansie met hul internskap sal begin.

Coetzee sê Sama is ook daarvan in kennis gestel dat 44 Kubaanse interns ook by mediese fasiliteite in Suid-Afrika geplaas is. Dit sluit in 34 Kubaanse interns wat onmiddellik geplaas is en ’n verdere tien wat in Oktober geplaas sal word.

“Ons is natuurlik bly dat die druk wat ons op die betrokke rolspelers uitgeoefen het, ʼn positiewe uitkoms tot gevolg gehad het,” sê Coetzee oor die plasing van Suid-Afrikaanse dokters. “Maar ons sal hierdie proses baie noukeurig op provinsiale vlak monitor, want dit is die provinsies wat Maandag dienskontrakte met die interns moet onderteken sodat hulle Maandag reeds kan begin werk.”

Coetzee sê voorts dat indien die dienskontrakte nie teen dán onderteken word nie, Sama natuurlik sal voortgaan met sy beplande regsaksie teen die departement. ’n Beroep word intussen op interns gedoen om Sama dadelik te kontak sou hulle dienskontrakte nie teen Maandag onderteken word nie.

“Ons wil elke intern wat hierdeur geraak word bedank, veral omdat dit nou voorkom dat die harde werk wat hulle deur die jare ingesit het, geïgnoreer word. Sama verstaan ​​die ongelooflike moeilike reis wat mediese studente moet deurgaan net om aan die begin van hul loopbaan deur só ‘n groot probleem gekonfronteer te word.”

Maroela Media het vroeër berig pas afgestudeerde dokters ondervind jaar na jaar probleme met plasings. Die staat word daarvan beskuldig dat hy nie die kapasiteit óf vermoë het om die plasing van afgestudeerde mediese personeel te kan bestuur nie.

Volgens die nasionale departement van gesondheid is daar vanjaar ’n tekort aan poste weens ’n verhoogde halfjaarinname. Die verhoogde inname word toegeskryf aan die verlenging van die akademiese jaar te midde van die Covid-19-pandemie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

SjN ·

It’s pay back time, stuur hul terug Kuba toe waar hul hoort.

Anel ·

So die kubane kry voorkeur? Vir hoe lank nog? En dan kom daar nig!! Laat hulle is Kuba bly. Ons het hulle REGTIG nie nodig nie. Ins het ons eie.

Harley Davidson ·

Wat ‘n skande,Kubaanse dokters word bo Afrikaanse dokters geplaas maar die Afrikaanse ouers moet belasting betaal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.