Laerskoolleerder glo op skooltoer seksueel aangerand

Argieffoto bloot ter illustrasie van ‘n skooltoer. (Foto: Unsplash)

Die polisie op Oudtshoorn in die Wes-Kaap ondersoek ʼn klag van verkragting nadat ʼn laerskoolseun glo tydens ʼn skooltoer deur medeleerders onsedelik aangerand is.

Die 13-jarige slagoffer is ʼn leerder aan ’n laerskool in die Oos-Kaap en is glo tydens ʼn onlangse gr. 7-toer deur drie medeleerders aangerand.

Sers. Chris Spies, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê die polisie op Oudtshoorn se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe ondersoek tans ʼn klag van verkragting.

Drie jong seuns, almal tussen 12 en 13 jaar oud en leerders aan dieselfde laerskool, is sedertdien voorlopig geskors en Woensdag dissiplinêr verhoor vir hul beweerde aandeel in die aanranding, sê Mali Mtima, woordvoerder van die Oos-Kaapse departement van onderwys.

Die uitslag van die verhoor word binne die volgende sewe dae verwag.

Spies het ook gesê die ondersoek is in ʼn gevorderde stadium, hoewel sekere verklarings nog afgeneem moet word.

“Geen inhegtenisnemings in die saak is al gemaak nie.”

Maroela Media verneem die slagoffer se ma het die private speurder Mike Bolhuis kort ná die skooltoer genader om die gebeure op die toer te ondersoek.

Bolhuis het by navraag gesê dit is ʼn uiters sensitiewe saak en word sodanig hanteer. “Dit het uiteraard ʼn hewige impak op die ma’s, pa’s, die skool en die gemeenskap. Almal gee tans hul volle samewerking om te sorg dat dit nooit weer gebeur nie.”

Maroela Media het die skool Donderdagoggend genader om kommentaar, maar is na die departement verwys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.