Lance James steeds in hospitaal

Die legendariese Lance James het in Junie 2019 by Maroela Media gekuier. (Foto: Maroela Media)

Die countrykoning Lance James is steeds in die hospitaal en sy toestand word as ernstig maar stabiel beskryf.

“Dit gaan nie goed met ons ‘Big Daddy’ nie, maar ons bid en vertrou Lance sal spoedig herstel,” het Lydia Winchester Dinsdag gesê.

Lydia, wat reeds die afgelope 35 jaar die sanger se skakelbeampte is, het bygevoeg die countrylegende neem dit nou net “een dag op ʼn slag”.

Maroela Media het berig Lance (82) is in Januarie in ʼn hospitaal in Johannesburg met hartprobleme opgeneem. Hy het kort daarna ʼn terugslag beleef, nadat hy in die hospitaal geval en sy heup gebreek het. Hy het ʼn noodheupvervanging ondergaan en ook gesukkel met ʼn hardnekkige infeksie ná die operasie.

Sy dogter Chanel en kleinseun Tyron het intussen vanaf Londen ingevlieg om saam met Lance en sy uitgebreide familie te wees.

“Ons wil vir sy duisende aanhangers ʼn reusedankie sê vir jul ondersteuning, omgee en liefde wat sedert sy opname in die hospitaal ingestroom het. Ons vra verder dat julle vir Lance in jul gebede en gedagtes sal dra. Hy veg tans vir sy lewe, maar ons bly vol hoop dat hy spoedig sal aansterk.”

Lydia het bevestig Lance word steeds in die hoësorgeenheid van die hospitaal versorg en sy besoeke word volgens die eenheid se reëls streng ingeperk.

Lance se stem het reeds diep spore in die plaaslike musiekbedryf getrap met sy countrymusiek en hy was radio-omroeper by Springbok Radio van 1954 tot 1985. Van sy grootste treffers sluit in “Dankie”, “Vicki” en “Ahoy, Madagaskar Ahoy!”. Tydens Huisgenoot se 2009-Skouspel is hy vir sy lewenslange bydrae tot Afrikaanse en Suid-Afrikaanse musiek vereer en het ook in 2019 soortgelyke erkenning van die FAK ontvang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Pampoen ·

Ons dink aan jou Lance! Sterkte en beterskap word jou toegewens.

Agter die skerms..... ·

Lance James, jy was my dadda se held, jy is nog steeds my en my mamma se held. Jy is net ‘n held in ons oe. jy sing fantasties God het jou geseen. Ek het trane in my oge waar ek hier sit. Jy is ‘n man wat kan sing Lance. Word asseblief gesond. God seen jou

VanAfrika ·

Mag onse Liewe Heer Lance se siekte genees en hom sommer gou gesond huis toe sal stuur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.