Landbank ‘wil boere snoer’

Carel van der Merwe, ‘n Noord-Kaapse boer, is in hegtenis geneem kort nadat hy in die hof verskyn het. (Foto: Facebook)

“Speel die bal en nie die man nie.”

Só het Johan Victor, regsverteenwoordiger van Carel van der Merwe, ʼn Noord-Kaapse boer wat in ʼn stryd met die Landbank gewikkel is, vandeesweek gesê nadat Van der Merwe vir minagting van ʼn hofbevel in hegtenis geneem is.

Van der Merwe, van Vanwyksvlei in die Noord-Kaap, het die afgelope week in die hof verskyn nadat Henk Strydom, ʼn prokureur wat namens die Landbank optree, ʼn beskermingsbevel teen hom gekry het. Die bevel spruit uit inskrywings wat Van der Merwe op sosiale media gemaak het oor die behandeling wat hy die afgelope ruk by die Landbank en sy agente, onder wie Strydom, gekry het.

Victor sê nou die bevel en gevolglike inhegtenisneming belemmer boere se vryheid van spraak en is ʼn poging deur die Landbank om ontevrede boere se monde te snoer.

Die Landbank word nou reeds geruime tyd daarvan beskuldig dat hy boelietaktiek teen boere wat in die moeilikheid beland het, gebruik om hulle van hul plase af te skop. Dit het fel kritiek uit verskeie oorde veroorsaak.

Van der Merwe, by wie die Landbank R80 miljoen soek, het in ʼn plasing onder andere verwys na ʼn span mense wat eers op die verkeerde plaas opgedaag het en dat ʼn wag by ʼn plaashuis ingebreek het om toegang tot die perseel te verkry, asook na ʼn helikopter wat gebruik is om laag oor sy plaas te vlieg.

Strydom, van die prokureursfirma Strydom & Bredenkamp Ingelyf in Pretoria, het daarna die tussentydse bevel teen hom gekry. In sy aansoek voer hy aan Van der Merwe versprei “deurlopend vals inligting oor hom op openbare platforms en dat dit sy werk beïnvloed en sy lewe bedreig”.

Die bevel is ook uitgebrei om die maatskappy National Real Estate en die Landbank in te sluit omdat hulle glo ook beskerming teen Van der Merwe benodig.

‘n Uittreksel uit die hofaansoek wat Strydom ingedien het.

Van der Merwe was vandeesweek in die hof op Carnarvon waar die aansoek, dat die bevel permanent toegestaan moet word, aangehoor is. Hy is kort nadat die hofverrigtinge verdaag het, in hegtenis geneem omdat hy kwansuis aanhou om inskrywings oor die gebeure op sosialemediaplatforms te maak.

ʼn Polisieoffisier het ingegryp en Van der Merwe is vrygelaat. Uitspraak in Strydom se aansoek is tot Woensdag voorbehou.

Victor bestempel die gebeure as ʼn aanval op vryheid van spraak en sê dit is ʼn poging om Van der Merwe te muilband. Hy sê, ten spyte van die Landbank se stelling dat sake soos dié “geïsoleerde voorvalle is”, kontak regsverteenwoordigers van boere oor die land hulle oor soortgelyke optrede van die Landbank en sy agente.

Hy verwys ook na sogenaamde slapp-hofsake, strategiese hofsake teen openbare deelname, wat gebruik word om mense se monde te snoer. Hierdie soort hofsake belas mense met die koste om hulself in ʼn hofsaak te verdedig tot hulle eindelik hul kritiek of teenkanting staak.

Die poging om Van der Merwe te dwing om enige kommentaar oor die gebeure te weerhou, lyk na ʼn poging om ook enigiemand anders wat kritiek op die Landbank en sy agente waag lewer, te intimideer om dit nie te doen nie, sê Victor.

Hy sê indien iemand aanvoer hy word belaster, is daar geykte regsroetes wat gevolg kan word.

Victor sê indien Van der Merwe verwys na wagte wat by ʼn verkeerde plaas afgelaai is, soos wat die geval wel was, of na ʼn helikopter wat dae lank heen en weer oor sy plaas gevlieg het – kwansuis om skape te tel – soos die geval ook was, en dat hy boere daarteen wil waarsku, is dit sy reg om dit te doen.

“Ons kan en wil nie teruggaan na ʼn situasie waar mense nie mag skryf of sê wat hulle wil nie. Ons het vryheid van spraak nodig, anders is ons op ʼn afdraande pad,” sê Victor.

Van der Merwe, in sy persoonlike hoedanigheid, is reeds gesekwestreer en veg ʼn afsonderlike hofstryd teen die Landbank om sy boerdery te behou. Hy doen aansoek om in sakeredding geplaas te word terwyl hy die boerdery, wat gesteier het onder ʼn jarelange droogte, omkeer.

Een van Van der Merwe se eiendomme, ʼn 80 000 ha-plaas tussen Vanwyksvlei en Fraserburg, is waarskynlik een van die grootste in private besit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Di ·

Kyk dis skokkend om te sien hoe ver hulle nie sal gaan om boere van plase af te kry nie. SKAAM my vir “sekeres” in die land wat al net soos die korrupte, skelm regering optree. Iemand moet opstaan teen hierdie spul, dis nie ‘n afsonderlike geval hierdie nie!

Dries ·

Wie is in beheer van Landbank. Dit kan net kaders wees. Dit klink vir my dit is deel van die onteienings strategie van die ANC

Di ·

WIE ANDERS! Die korrupte spul is ORAL aangestel. Gaan kyk gerus “Waarheid met MAX” op showmax – DIT was ‘n eyeopener vir my

Anel ·

Pleks kry die boere ‘n gesamentlike interdik teen die Landbank!!! Wil die spul nog kos in hul pense hê more!

Swerwer ·

Die hele Landbank storie is in elk geval net tot voordeel van die Regering en daar word nie ‘n duit omgegee vir die boer wat kop bo water moet probeer hou nie. Kyk seker hoeveel grond hul so vinnig moontlik indie hane kan kry vir die opkomendes.

SjN ·

80 000 hektaar is mos baie meer werd as die uitstaande Landbankverpligting soos vermeld, is dit nie deel van hul grondonteiening strategie nie?

domheks ·

Kan ‘n paar boere nie saam ‘n tipe Landbank stig nie? Daar is darem seker welaf boere wat ‘n plan kan beraam teen cANCer en kie!

Elize ·

Die Landbank is gekaap. Hierdie is vuilspel deur die regering om hulle van hulle plase af te skop sonder dat die regering hulle hoef te betaal. Hulle moet net onthou dat dinge soos vloede en droogtes nie mensgemaak is nie.

Bertie ·

Die prokureursfirma is die groot gogga in hierdie sage. ‘n Ondersoekende joernalis kan gerus hierdie firma se geskiedneis ondersoek. Hulle tree al vir jare soos die Mafia op. Ek moet seker sê dat al hierdie stellings “na bewering” so is, anders word ek ook in hegtenis geneem?

Frank ·

Ek verneem dat dieselfde prokureur ook namens landbank optree in Limpopo in verband met vee transaksies so ‘n ondersoek kan dalk net ‘n vuil byenes oopkrap

Christelle ·

Vat plaasmoorde en droogtes nou te lank om die boere te breek en uit te roei? Nou wil hulle dit van n ander kant af begin. Pleks dat ons boere meer ondersteuning en beskerming kry. SA was n land wat bekend was vir sy uitvoer produkte, maar nou moet die basiese voedselprodukte ook al ingevoer word! Die regering beter begin wakker word!

philippus ·

Ek kry die in druk dat iewers is n prokerower besig om handiest te gries om verder te kan boelie… dis maar die In druk wat ek vorm. Ek is mos geregtig op n opinion onder die vryheid van spraak

Frank ·

Nou wonder ek of Strydom die verhaal van die pot lensie-sop ken…..

Oosieoos ·

Alles net om die boere van die plase af te kry en dan speel sommige mense lekker saam maar die wiel draai altyd

Gaitsigubib ·

“Ellende wag vir julle wat rampe teen ander beplan, wat op die bed le en dink om kwaad te doen, wat dit vroeg in die more gaan uitvoer omdat hulle die mag in die hande het. Hulle begeer n stuk grond en vat dit, huise, en le beslag daarop. Hulle kul n man uit sy huis uit, n mens uit sy besitting uit” Miga 2:1-3

Gaitsigubib ·

Julle mag maar my Christelike boodskappe plaas, of hou julle nie daarvan nie?

philippus ·

die anner dag bel Maroela Media my en vra my hoekom ek my maandelikse debiet order gekanseleer het… toe vertel ek die dame mooi, jou sensor raad is on in gelig en as jy wettige kommentaar plaas waarvan hulle nie hou nie, verwyder hulle dit…. so julle en CNN en al die woke en liberale siekes, is een en die selfde… julle sal ook nie hou nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.