Landboubegroting ‘bring hoop’

Argieffoto (Foto: Maroela Media)

Agri Wes-Kaap is bemoedig deur die provinsiale departement van landbou se 2024/2025 toewysingsbegroting, soos wat Dinsdag deur minister Ivan Meyer ter tafel gelê is.

Die begroting van R1,018 miljard, wat R57,8 miljoen oftewel 6% meer is as die vorige begroting, word deur die organisasie verwelkom.

“Gegewe die uitdagende fiskale klimaat en menige uitdaging wat deur die landboubedryf in die gesig gestaar word, is die toewysing van fondse ʼn moeilike taak. Agri Wes-Kaap is van mening dat minister Meyer die toewysing van beskikbare fondse goed geprioritiseer het om die heersende uitdagings in ons bedryf te takel”, sê Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap.

Strydom voer verder aan dat die begroting belyn is met minister Meyer se vyf ministeriële prioriteite. “Agri Wes-Kaap glo dat die begroting Meyer in staat sal stel om die duidelike en meetbare doelwitte wat hy as sy prioriteite gestel het, te behaal.”

Meyer se eerste prioriteit, naamlik landbouonderrig, opleiding en navorsing maak aanstaande boekjaar voorsiening vir R48,2 miljoen.

“Hoewel die begroting minder is as in die huidige boekjaar, moet daar in ag geneem word dat die derde herhaling van die “Fly Over”-projek onlangs voltooi is, asook dat nege navorsingsprojekte deur die alternatiewe gewasse-fonds gefinansier is. Dit blyk duidelik te wees dat die departement daarin glo om die bedryf deur wetenskaplikgefundeerde ondersteuning te help groei.”

Verder was daar ʼn merkwaardige toename in die hoeveelheid skole wat hul kurrikulum uitgebrei het deur landbouvakke in te sluit, aldus Strydom.

“Die volhoubaarheid van die Wes-Kaapse landboubedryf bly onderhewig aan die instandhouding en beskikbaarheid van ons natuurlike hulpbronne. Agri Wes-Kaap is daarom verheug om te verneem dat die begroting vir die volhoubare hulpbrongebruik en -bestuur program met R61,4 miljoen, oftewel 46% vergroot is tot R196,2 miljoen.”

Die R97,8 miljoen wat toegestaan is om landbouproduksie te verbeter deur navorsing, met die fokus op versagting en aanpassingsopsies vir boere in reaksie op klimaatsverandering is vir Agri Wes-Kaap ook ʼn positiewe toewysing.

“Gegewe die omvang van skade wat deur verlede jaar se vloede veroorsaak is, is dit verblydend om te verneem dat die rivierbeskermingswerke-begroting met R20 miljoen vergroot is tot R38,5 miljoen. Verder bring die bykomende R38 miljoen wat daar begroot word vir ondersteuning aan vloedskade hoop vir produsente wat hierdeur geraak is, terwyl daar nog gewag word op nasionale finansiële ondersteuning.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.