Landdros gaan haar nie aan Malema-saak onttrek  

Julius Malema spreek sy ondersteuners buite die Johannesburgse hooggeregshof toe. (Foto: EFF/Twitter)

Landdros Twanette Olivier het Donderdagmiddag in die streekshof in Oos-Londen beslis dat sy haar nie aan die saak teen die EFF-leier, Julius Malema, en sy lyfwag en medebeskuldigde, Adriaan Snyman, gaan onttrek nie.

Dit volg nadat Malema se regspan Woensdag aangedui het dat hulle ʼn aansoek gaan bring dat Olivier haar aan die saak onttrek. Die aansoek is Donderdagoggend in die hof ingedien.

Malema het Woensdag tydens ʼn uitbarsting in die beskuldigdebank beweer dat Olivier hom en Snyman nie onpartydig behandel nie. Die uitbarsting het gevolg nadat sy vir een van die staatsgetuies vrae gevra het om sy getuienis duideliker te stel.

Die EFF sê Olivier het die getuies oor ʼn video wat vroeër in die hof gewys is, gelei om sekere waarnemings en gevolgtrekkings te maak wat strydig was met die gevolgtrekkings wat die getuies aanvanklik gemaak het.

“Landdros Olivier se gedrag was bevooroordeeld en ook ʼn skending van Malema se regte. Sy het haar rol as landdros om neutraal te bly versuim,” meen die party.

Olivier het Donderdag gesê sy het geen vooroordeel getoon nie en dat sy binne die wet as landdros opgetree het.

Die video wys hoe Malema ʼn geweer afvuur en dan aan Snyman oorhandig. Malema se regspan het aanvanklik vasgeskop daarteen dat die video in die hof vertoon word, maar Olivier het Maandag bevind dit mag wel as bewys aanvaar word.

Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder vir gemeenskapsveiligheid, sê egter indien Malema onskuldig was, sou sy regspan sekerlik die geleentheid aangegryp het om dit te bewys. “Die videobewyse is egter baie duidelik.”

Hy meen die aansoek is bloot ʼn vertragingstaktiek van Malema in ʼn poging om geregtigheid uit te stel.

“Dit is niks meer as ʼn doelbewuste misbruik van die regstelsel om die verrigtinge onnodig te vertraag nie,” sê Broodryk.

Malema en Snyman staan tans in die Oos-Londense streekshof tereg op grond van ʼn klag wat deur AfriForum aanhangig gemaak is.

Hierdie klag is gelê nadat ʼn video na vore gekom het waarin dit voorkom dat Malema ʼn vuurwapen in die openbaar afvuur. Die video hou verband met ʼn voorval op 28 Julie 2018 by die Sisa Dukashe-stadion in Oos-Londen toe ʼn vuurwapen afgevuur is tydens die viering van die EFF se vyfde verjaardag.

Volgens Broodryk sal AfriForum voortgaan om die saak noukeurig te monitor, ongeag hoeveel keer dit uitgestel of vertraag word om te verseker dat Malema tot verantwoording geroep word.

“Politici moet daaraan herinner word dat hulle nie bo die wet verhewe is nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.