Landdros vervolg ná private vervolgingseenheid ingryp

(Foto: Unsplash)

Die burgerregtegroep AfriForum sê sy private vervolgingseenheid het nóg ʼn oorwinning behaal nadat die nasionale vervolgingsgesag (NVG) besluit het om wél ʼn Wes-Kaapse landdros op ʼn aanklag van nalatige bestuur te vervolg.

Gerald Hattingh, ʼn landdros in die Bellville-distrik, het Verna Cloete reeds in 2011 raakgery.

AfriForum sê die NVG het daarna om ʼn “onverklaarbare rede” en teenstrydig met beskikbare getuienis, besluit om hom nie te vervolg nie. Nadat die organisasie se private vervolgingseenheid in 2019 namens Cloete by die saak betrokke geraak het, het die NVG besluit om wel vervolging in te stel.

Cloete getuig nou vandag teen Hattingh.

AfriForum sê uit briewe van die NVG het die eenheid vasgestel dat aangesien die verdagte ’n landdros is, die saak na die direkteur van openbare vervolging (DOV) se kantoor verwys is. Dié het aanvanklik besluit om nie te vervolg nie.

Die organisasie sê die saak is ook deur die “gebruiklike probleme van onvoldoende terugvoer aan klaers en ’n verlore saakdossier belemmer”. Hy sê dit is ʼn toenemende neiging dat klaers nie terugvoer kry van die polisie of aanklaers nie. Dit was volgens hom in hierdie geval ook só.

“Dit bly verbysterend dat daar nog steeds, soos in hierdie geval, dossiere verlore gaan ten spyte van tegnologiese hulpmiddele om dit teen te werk. Die ironie is dat die private vervolgingseenheid ’n kopie van die saakdossier, wat ons van die klaagster gekry het, aan die NVG beskikbaar gestel het,” het adv. Phyllis Vorster, aanklaer by AfriForum se private vervolgingseenheid, gesê.

Die organisasie het die NVG se besluit om nou wel te vervolg, verwelkom.

“Dit is egter jammer dat die saak byna ’n dekade lank moes sloer voordat die NVG sy grondwetlike plig uitgevoer het. Gevalle soos hierdie bevestig waarom ’n instelling soos die private vervolgingseenheid noodsaaklik is om onder meer toe te sien dat geregtigheid geskied deur die nodige druk op die NVG te plaas om sake wat meriete het, te vervolg,” het Vorster gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Cornelius ·

Gebeure soos die laat n mens wonder hoe eties die beskuite en optrede van die NVG is.

Maggies ·

Is daar dan nêrens ‘n instansie wat mens kan vertrou nie? Behalwe AfriForum. Baie dankie dat julle, jul vinger op die pols van geregtigheid hou.

Jakes ·

As ek so na hierdie storie luister dan wonder ek of daar enige regeringsentiteit is wat nog geloofwaardig is? Die regbank is reeds onder die soeklig, die polisie wemel van korrupte mense en kan n mens die NVG vertrou?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.