Landelike misdaad ‘meer as net statistieke’

(Foto: Bongani Mbatha/ANA)

Altesame 18 plaasaanvalle en twee plaasmoorde is in Januarie en Februarie vanjaar aangemeld.

“Hoewel dit laer is vergeleke met dieselfde tydperk verlede jaar – toe 38 plaasaanvalle en vyf plaasmoorde aangemeld is – moet ons daarteen waak om net op statistieke te fokus.”

TLU SA sê hy is bekommerd dat Suid-Afrikaanse owerhede meer op misdaadsyfers as op misdaad self konsentreer.

“Agter hierdie syfers is die werklikheid van traumatiese lewensverlies, voedselsekerheid wat bedreig word en werksgeleenthede wat in gedrang kan kom.

“Hoewel daar ʼn afname is in die aantal plaasaanvalle en -moorde wat in die eerste twee maande van die jaar aangemeld is, wil TLU SA lede van die publiek waarsku om bewus van hul veiligheid te bly en landelike veiligheid ʼn prioriteit te maak,” sê Gawie Lötter, TLU SA se dienstebestuurder.

Hy sê in die lig van die komende verkiesing is dit maklik vir mense om hulle teen politieke partye se beloftes blind te staar.

“Suid-Afrika se kommersiële boere is onder druk en dit word deur onrealistiese politieke beloftes vererger.

“Die moeilike beleidsomgewing waarbinne landbouers moet boer, skep nie die nodige vertroue vir buitelandse beleggings nie. Kernaspekte soos landelike veiligheid en werkende infrastruktuur – wat kragvoorsiening insluit – neem daagliks af en dra geensins tot ekonomiese groei in Suid-Afrika by nie.”

(Foto: Verskaf)

Volgens Lötter het die afgelope somer se hoë temperature – en die gepaardgaande droogte wat op ʼn kritieke groeityd groot dele van die land getref het – baie plase in ʼn rampspoedige situasie gelaat met sommige boere wat selfs hul hele oes verloor het.

Bennie van Zyl, TLU SA se hoofbestuurder, het bygevoeg dat plase as die “ruggraat van die samelewing dien”.

“Plase voorsien noodsaaklike voedsel en dra tot die ekonomie by. Voedselsekerheid is een van die land (en enige ander) se belangrikste stabiliseerders. Gegewe Suid-Afrika se werkloosheid en gepaardgaande armoede, des te meer,” sê hy.

“Ons kan nie bekostig om enige van ons voedselproduseerders te verloor nie. ʼn Regering wat nie besef dat sy grootste bate inderdaad suksesvolle kommersiële boere is nie, is uiters kortsigtig.

“Dié boere behoort gekoester te word en alle nodige voorsorgmaatreëls moet getref word om hulle in produksie te hou.”

Hy sê landelike veiligheid bly steeds die staat se verantwoordelikheid, “maar weens die gebrek aan  staatsprestasie speel die boere ʼn groot rol”.

“Die hele Suid-Afrika, en veral politieke partye, moet dus landelike veiligheid as ʼn uiters hoë prioriteit beskou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

annie ·

Die ANC wil alles vat en verniel. Cyril was toe maar soos al die ander kaders en nes Zuma; groot show en ‘n nonsensprater. Wie kan oorvat waarop ons kan hoop vir beterskap? Ons moet nie lag vir Haïti nie. Die kans is goed vir ‘n soortgelyke sirkus.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.