Landelike veiligheidsplan ‘broodnodig’ dié feestyd

Argieffoto.

Boere is desperaat dat die voorgestelde nasionale landelike veiligheidstrategie in werking gestel word om dié kwesbare gemeenskap, wat toenemend onder aanvalle gebuk gaan, hierdie feestyd te beskerm.

Hoewel die polisie verlede maand sy planne vir ʼn veiliger feestyd bekend gemaak het, meen landbouorganisasies selfs meer moet gedoen word.

Agri SA het reeds in ʼn skrywe aan Bheki Cele, minister van polisie, besonderhede oor die inwerkingstelling van die nasionale veiligheidstrategie geëis, aangesien dit al jare lank sloer.

“Agri SA het ʼn beroep op Cele gedoen om hierdie proses te prioritiseer en te bespoedig ten einde landelike veiligheid te pak,” sê Uys van der Westhuijzen, voorsitter van Agri SA se sentrum vir uitnemendheid, oor landelike veiligheid.

“Die strategie bied die beste manier om die misdade wat boerderygemeenskappe raak, te hanteer, mits dit behoorlik geïmplementeer en van die nodige hulpbronne voorsien word. Dit moet dringend omvattend by elke landelike polisiestasie in werking gestel word.”

Cele het nog nie op die organisasie se brief gereageer nie.

Die polisie se jongste misdaadstatistieke skets ʼn donker prentjie van die stand van sake in Suid-Afrika. Die land is nie net een van die gewelddadigste ter wêreld nie, maar daar is nou al 76 moorde per dag. Die aantal plaasmoorde tussen Julie en September het boonop vanjaar vir ʼn derde opeenvolgende jaar toegeneem.

“Weens die uitgestrektheid van landelike boerderygebiede en die lang afstande van dienssentrums en die polisie af, is die boeregemeenskap meer kwesbaar vir landelike misdaad en hulle moet op mekaar staatmaak vir hulp in noodsituasies soos ʼn plaasaanval,” sê van der Westhuijzen.

“Die blitsoperasies wat die polisie in die vooruitsig stel, tesame met hul verskerpte pogings om hierdie misdade te bekamp, moet ingesluit word in die polisie se operasionele planne vir die landelike boerderygebiede aangesien Suid-Afrika nie kan toelaat dat misdaad die lewens van die boerderygemeenskappe of hul eiendom gedurende die feestyd bedreig nie.”

Hugo Pretorius, voorsitter van TLU SA se veiligheidskomitee, sê dit was nog nooit so duidelik soos nou nie dat die uitvoering van die landelike veiligheidsplan die sleutel is tot die bekamping van misdaad in landelike gebiede.

“Die veiligheidsplan sou doeltreffend kon funksioneer as dit reeds in die begin doelgerig saam met boere en ander rolspelers behoorlik van stapel gestuur is. Van uitstel het nog uitstel gekom en ons is baie naby aan afstel,” sê hy.

“Die feestyd is reeds die tyd waar meer opportunistiese misdade gepleeg word, met misdadigers wat hulle veral op die landelike omgewing toespits.”

Intussen maan Agri SA boere om ekstra waaksaam te wees oor die Kerstyd.

“Agri SA doen ʼn beroep op boerderygemeenskappe om meer bedag te wees tydens die feestyd en om te verseker dat hul beskermende maatreëls in plek is. Hoewel hierdie maatreëls nie alle misdade kan voorkom nie, kan dit ʼn aanval vertraag of voorkom en mense die geleentheid gee om alarm te maak,” sê Kobus Visser, Agri SA se direkteur van landelike veiligheid.

“Ons weet dat boeregemeenskappe reeds lofwaardige werk doen om mekaar te beskerm, maar hierdie inisiatiewe moet gedurende die feestyd verskerp word.”

Visser het ook plaaslike polisiestasies aangemoedig om saam te werk om misdaad in landelike gebiede deeglik te ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

FM ·

Realiteit

Ons is op ons self aangewese. Die Staat sal en kan niks doen nie. Hulle is bankrot besteel en onbevoeg.

Waar gemeenskappe saamstaan en paraat bly, gaan dit effe beter.

Om die aksie self te neem is voorwaar die enigste, werkbare oplossing.

Harley Davidson ·

Identifiseer die feite sonder om ppolities korrek te wees en slegs dan kan ‘n oplossing gevind word.

Jacobus ·

Die boere sal moet leer om op te hou hulp vra van die regering, en veral met Cele daar. Die ANC stel nie belang in die veiligheid van boere nie, die ANC soek net hulle plase. Sluit aan by veiligheidstrukrure en bewapen en beveilig jouself en sien om na mekaar. Die dae wat die regering die boere se belang op die hart gedra het is vir altyd verby.

Swerwer ·

Implimenteer eie Landelike veiligheidsplan en stuur die Regering waarheen ook al. As jul vir die Kommuniste wag, gaan jul die res van jul lewens wag. Die Kommando’s moet weer op been gebring word maar almal in die Kommando’s voor 1994 kan registreer, die daarna, jammer dit is te onveilig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.