Landspoedrekordprojek in SA herlewe

Só lyk die nuwe kleure van die Bloodhoud-landspoedrekord se motor. Dié projek is pas herlewe met ‘n nuwe belegger. Andy Green is steeds die bestuurder. (Foto: Bloodhound LSR)

Die Bloodhound-landspoedrekordprojek waarmee uiteindelik ʼn spoed van 1 600 km/h op Hakskeenpan in die Noord-Kaap behaal wil word, gaan voort.

Die poging is einde verlede jaar byna in die wiele gery ná jare se beplanning en mylpale toe die Bloodhound-projek onder finansiële administrasie geplaas is.

Daar is pas aangekondig dat Ian Warhurst, uitvoerende hoofbeampte van Grafton LSR in Brittanje die motor, wat aangedryf word deur ʼn straalenjin en vuurpyle, en die res van die bates gekoop het. Dié projek staan nou bekend as die Bloodhound-landspoedrekord (LSR). Die nuwe hoofkantoor is by die  SGS Berkeley Green Universiteit in Gloucestershire, Engeland.

Die Bloodhound LSR-motor wat eens blou en oranje was, is nou wit en rooi, maar dit kan moontlik verander indien ʼn groot borg toetree, het die nuwe span gesê.

Die span gaan so gou moontlik met die hoëspoedtoetse begin en inligting oor wanneer hulle die landspoedrekord gaan aandurf, sal so gou moontlik aangekondig word.

Warhurst het gesê hulle begin met ʼn skoon lei en hy glo daar is kommersiële waarde in die projek. Hy sal die kontantvloei verskaf en hoop borge en vennote sal aansluit.

Andy Green, die huidige houer van die landspoedrekord, is steeds die bestuurder. Die span gaan eers sy rekord van 763,035 m/h (1 227,985 km/h) breek om te sien hoe presteer die motor en daarna die poging van 1 000 m/h (1 600 km/h) aandurf. Dit beteken dat hy die myl (1,6 km) in 3,6 sekondes sal aflê.

Dit is meer as 20 jaar sedert Green op 15 Oktober 1997 met Thrust SSC die huidige landspoedrekord in die Black Rock-woestyn in Nevada opgestel het.

Die supersoniese Bloodhound-motor het op 26 Oktober 2017 sy eerste toetslopie geslaag toe dit in net agt sekondes van 0 tot 323,478 km/h versnel het. Dié toets was op ’n aanloopbaan in Cornwall in Engeland. Net sy straalenjin is ingespan vir dié lopie.

Die motor weeg sewe ton en is 14 m lank.

Die baan op Hakspeenpan in die Noord-Kaap is reeds gereed. Dié is 20 km lank en 1 km wyd. Plaaslike mense het tonne klippe opgetel om die baan skoon te kry.

Die motor het drie afsonderlike remstelsels, sewe brandblussers en 500 sensors – twee keer meer sensors as ’n F1-motor. Dit is sodat ingenieurs presies kan weet hoe hy presteer. Dit is nie net ’n renmotor nie, maar ook ’n supersoniese TV-ateljee omdat daar 12 kameras aan boord is, insluitend twee in die kajuit.

Die idee is dat die aanslag op die rekord van Hakskeenpan uitgesaai en met die wêreld gedeel word.

Die projek is al 12 jaar oud, het die vorige hoof van die span, Richard Noble, en self ʼn houer van ʼn landspoedrekord gesê. Volgens hom was geld nog altyd die grootste probleem, “maar nou het dit uiteindelik die geldelike steun om dit verder te neem”.

  • Elsabé Brits is ʼn vryskut-wetenskapjoernalis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Ivan ·

Wel hakskeen pan is baaaiiieee groter as n golf baan. Gee hom vir hulle om huise op te bou.

Dieter ·

Dis ‘n riem onder die hart dat sommige rykes eerder geld in sulke projekte belê as om geld vir VIGS wesies te gee. Nee regtig, ek is ernstig.

Cherokee ·

767.269 in myl per uur en 1234.8 in kilometer per uur is die spoed van klank. Dit wissel baie effens met atmosferiese toestande, lugdruk/digtheid ens. maar dit is die basiese syfers. Andy Green is dus geen groentjie nie en het geraak-raak aan die spoed van klank.

Pieter ·

Dit is vir my ‘n goeie ding dat daar darem nog iemand in die wêreld is wat die geld waarvoor hy gewerk het spandeer soos hy wil. Hy laat hom nie van stryk afbring deur skuldigvoel stories van honger kindertjies êrens in Donker Afrika nie. Kindertjies wie se ouers verantwoordelik is vir hulle dilemmas, nie Ian nie.

marco polo ·

Ek stem saam. Dis baie meer interessant om na n landspoedrekord pong te kyk, as na snotneuskindertjies wat nooit enige bydrae tot die samelewing sal maak nie. Buitendien is daar baie werk geskep in die Hakskeenpan omgewing vir mense wat bereid was om klippe op te tel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.