Landswye afsondering vir 21 dae afgekondig

Pres. Cyril Ramaphosa (Foto: Presidensie/Twitter)

Pres. Cyril Ramaphosa het Maandagaand die land toegespreek en streng maatreëls, waaronder ʼn algehele landswye afsondering (“lockdown”), afgekondig om die verspreiding van die nuwe koronavirus (Covid-19) te bekamp.

Dit volg ná ʼn vergadering van die nasionale bevelraad Sondag waar onder andere die sosio-ekonomiese trefslag van Covid-19 en die uitwerking daarvan op die armes, kwesbares en werkers, bespreek is. Ramaphosa het Sondag ook met sakeleiers by die Uniegebou vergader waarna hy met leiers van al die opposisiepartye wat in die parlement verteenwoordig word, byeengekom het.

Ramaphosa het Suid-Afrikaners bedank wat tot dusver die beperkings toegepas het wat vroeër ingestel is. “Talle moes moeilike besluite en opofferings maak, maar almal het bepaal dat dié besluite en opofferings absoluut noodsaaklik is as ons land hierdie ramp gaan oorleef.”

Hy het spesiaal dankie gesê aan gesondheidsorgwerkers, dokters, verpleërs en paramedici wat op die gevegsfront is van die pandemie, asook aan die onderwysers, grensposbeamptes, polisie- en verkeersbeamptes en almal wat leiding geneem het.

Sedert die nasionale ramptoestand aangekondig is, is ʼn rits maatreëls in plek gestel, waaronder ʼn verbod op byeenkomste van meer as 100 mense, ʼn beperking op internasionale reise, skole en ander opvoedkundige instansies wat gesluit is en ʼn verbod op die verkope van alkohol ná 18:00.

“Ons benadruk dit: die mees doeltreffende manier om besmetting te voorkom, is deur basiese veranderinge in individuele gedrag en higiëne,” het Ramaphosa gesê. Hy doen dus weer ʼn beroep op almal om gereeld vir minstens 20 sekondes lank hande te was of handreinigers te gebruik; om jou mond en neus te bedek as jy nies of hoes, om nabye kontak te vermy met persone wat verkoue- of griepsimptome toon, en om in die algemeen kontak met ander persone te voorkom.

“Toe ek die land verlede week Sondag toegespreek het, was daar wêreldwyd 160 000 Covid-19-gevalle. Vandag is daar meer as 340 000 gevalle wêreldwyd. In Suid-Afrika het die getal gevalle binne slegs agt dae sesvoudig vermeerder van 61 gevalle tot 402 gevalle. Hierdie getal sal bly styg.”

Ramaphosa het gesê dit is duidelik uit die ontwikkeling van die siekte in ander lande dat onmiddellike, vinnige en buitengewone optrede nodig is om ʼn “enorme katastrofe” te voorkom. “Ons prioriteit in hierdie stadium is om die verspreiding van die siekte te voorkom. Ek is besorg dat ʼn skielike toename in besmettings te veel druk gaan plaas op ons gesondheiddienste en persone sal dan nie toegang kry tot die sorg wat hulle benodig nie. Ons moet alles in ons vermoë doen om die hoeveelheid besmettings te verminder en die verspreiding van die siekte oor ʼn langer tyd te vertraag.”

Ramaphosa het gesê die volgende paar dae is baie belangrik. “Sonder beslissende optrede sal die getal besmettings vinnig toeneem van ʼn paar honderd na tien duisende, en binne ʼn paar weke na honderde duisende. Dit is uiters gevaarlik vir ʼn land soos ons sʼn waar ʼn groot deel van die bevolking immuniteitsgebrek het weens MIV en TB en hoë vlakke van armoede en wanvoeding.”

Hy het bygevoeg die lande wat vinnig en dramaties opgetree het, was baie meer doeltreffend om die verspreiding van die siekte te bekamp.

Algehele afsondering

“Die nasionale beheerraad het gevolglik besluit om ʼn algehele afsondering vir 21 dae in te stel. Dit tree Donderdag, 26 Maart, om 23:59 in werking.

“Dit is ʼn beslissende maatreël om miljoene Suid-Afrikaners teen infeksie te beskerm en die lewens van honderde duisende mense te red. Alhoewel hierdie maatreël ʼn groot impak sal hê op mense se lewens, ons samelewing en die ekonomie, sal die koste baie groter wees om dit uit te stel.”

Die landswye afsondering sal uitgevoer word kragtens die Wet op Rampbestuur en behels die volgende:

  • Vanaf 23:59 op Donderdag, 26 Maart 2020 tot middernag op Donderdag, 16 April, moet alle Suid-Afrikaners by die huis bly.
  • Persone wat kwytgeskeld is van dié afsondering is die volgende:
    • gesondheidsorgwerkers (staat en privaat), nooddienspersoneel, sekuriteitdienste (soos polisiebeamptes, verkeerspolisie, mediese personeel in die Weermag, soldate en ander persone wat nodig is vir ons reaksie op die pandemie)
    • persone wat betrokke is in die vervaardiging, verspreiding en verskaffing van kos en basiese goedere, noodsaaklike bankdienste, instandhouding van krag-, water- en telekommunikasiedienste, laboratoriumdienste, en die verskaffing van mediese en higiëniese produkte. ʼn Volledige lys van noodsaaklike personeel sal binnekort gepubliseer word.
  • Individue sal nie hul huise mag verlaat nie, buiten onder streng beheermaatreëls soos mediese sorg, om kos, medisyne en ander voorraad te koop en ʼn welsynstoelaag in ontvangs te neem.
  • Tydelike skuilings wat aan die nodige higiëniese standaarde voldoen sal geïdentifiseer word vir haweloses. Persele word ook geïdentifiseer vir persone wat in kwarantyn geplaas moet word of moet self-isoleer en dit nie tuis kan doen nie.
  • Alle winkels en ondernemings sal gesluit word buiten apteke, laboratoriums, banke, noodsaaklike finansiële en betalingsdienste (insluitend die JSE), supermarkte, vulstasies en gesondheidsorgverskaffers.
  • Maatskappye wat noodsaaklik is vir die vervaardiging en vervoer van kos, basiese goedere en mediese voorraad se deure sal ook oopbly. ʼn Volledige lys van kategorieë van ondernemings wat hul deure moet oophou, sal binnekort gepubliseer word.
  • Maatskappye wie se bedrywighede voortgesette prosesse benodig soos smeltoonde en ondergrondse mynboubedrywighede, sal self reëlings moet tref vir die versorging en instandhouding om skade aan hul voortgesette bedrywighede te vermy.
  • Indien persone van die huis af kan werk en maatskappye oor ʼn afstand met hul bedrywighede kan voortgaan, moet hulle dit doen.
  • Voorsorg sal getref word vir noodsaaklike vervoerdienste vir noodsaaklike personeel en pasiënte wat vervoer moet word.

“Hierdie algehele landswye afsondering is noodsaaklik om die ketting van oordrag in die samelewing te voorkom,” het Ramaphosa verduidelik.

Hy het die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) opdrag gegee om te ontplooi en die SAPD by te staan om seker te maak die maatreëls word toegepas.

Maatreëls om die impak op die ekonomie te verlig

“Ons land word nie net in die gesig gestaar deur ʼn virus wat meer as ʼn kwartmiljoen mense wêreldwyd besmet het nie, maar ook die vooruitsig van ʼn erge ekonomiese resessie wat daartoe sal lei dat ondernemings moet sluit en talle persone hul werk gaan verloor. Ons stel dus ʼn paar riglyne op om die impak op die ekonomie te verlig,” het Ramaphosa bygevoeg. “Hierdie is die eerste fase van die ekonomiese reaksie en verdere maatreëls word tans oorweeg en sal ontplooi word soos nodig.”

Hy het gesê ʼn Solidarity Fund is ingestel waar Suid-Afrikaanse ondernemings, organisasies en individue en lede van die internasionale gemeenskap ʼn bydrae kan maak. “Die fonds sal fokus op die voorkoming van die verspreiding van die virus, om die verspreiding te volg, om diegene wat siek is te versorg en om diegene te ondersteun wie se lewens ontwrig is. Die fonds sal bykomend wees tot dit wat ons in die staatsdiens doen.”

Die regering se Solidarity Fund staan onder leiding van Gloria Serobe en adjunkvoorsitter Adrian Enthoven. Besoek www.solidarityfund.co.za om ʼn bydrae te lewer.

“Die fonds sal deur ʼn bekwame span mense geadministreer word uit finansiële instansies, ouditeursfirmas en die regering. Daar sal rekenskap gegee word van elke sent wat bygedra is en die besonderhede sal op die webwerf gepubliseer word,” het hy gesê.

Die regering het reeds R150 miljoen tot die fonds bygedra en die privaat sektor het ook onderneem om die fonds te ondersteun, aldus Ramaphosa. “Ons sal geld spandeer om lewens te red en die ekonomie te ondersteun.”

Die Rupert- en Oppenheimer-families het elkeen R1 miljard aangebied om klein ondernemings en hul werknemers te help wat deur die koronavirus-pandemie geraak word.

“In die dae, weke en maande wat kom, sal ons uithouvermoë, vindingrykheid en ons eenheid as ʼn land getoets word soos nog nooit tevore nie. Ek doen ʼn beroep op ons almal – een en elk – om ons rol te speel. Wees moedig, wees geduldig, toon deernis. Laat ons nooit wanhopig wees nie. Ons ʼn land wat saamstaan, ons sal seëvier. God seën Suid-Afrika.”

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

52 Kommentare

Michael ·

Daar is baie dinge wat onduidelik is soos hoe presies gaan jy kos en medesyne koop?
Die sekuriteits diens sluit dit gewapende reaksie sekuriteits personeel in? Gaan daar vullisverwydering wees?

Hein ·

Michael dis nie die president se werk om die detail te gee nie. Dit word gedoen oor die volgende 2 dae

Johan Venter ·

Michael, baie geldige vra, hopelik sal ons hierdie antwoorde en ander, wat mense hier onder het, oor die volgende dag of so meer duidelikheid kry.

Jannie van Niekerk ·

Ek beskou dit as huisarres en ek dink dit gaan ons wankelende ekonomie in chaos dompel.

Michael ·

Suid Afrika sal oorleef ,as almal saam werk waarin ek twyfel. Baie sien die as n vakansie tyd om rond te beweeg. Stenger maatreëls moet geïmplementeer word om dit te verhoed, kyk na Rusland hul plan werk om onnodige mense op straat te he. Suid afrika is net n sirkus met net teveel narre tussen ons wat reëls nie kan volg nie.

Willem ·

Ek wil ook nou weet. As ek ń verstopte drein het wat dan. Hierdie lockdown is heeltemal verkeerd aangepak

Hein ·

‘n Verstopte drein is die minste van jou bekommernisse. Daar is manier om dit self te hanteer mens het nie professionals nodig vir so iets nie.

Johan Venter ·

Wat van die Private sekuriteitsfirmas en hul reaksie-eenhede? Dan ook as mens se huis skade tydens in inbraak opgedoen het, sal jou versekeringsmaatskappy nog diens kan lewer of die herstellers van die skade. En wat van indien mens stormskade opdoen bv waar ‘n stuk van die huis se dak afgewaai het. Wat van as ‘n waterpyp in jou dak gebars het en die huis is oorstroom of as die geiser gebars het? Wat van as jou kar probleem opgetel het en moet na ‘n hersteller ingesleep word?

Johan Venter ·

Jims, maar natuurlik is jy reg en skewe antwoord of opmerking pas nie in die tyd nie. Veral nie as mens probeer help nie. Ek vra daai vrae nie vir my onthalwe nie, ek werk by ‘n versekeringsmpy, en vra daai vrae vir die mense wat hier lees se onthalwe, omdat dit geldig is. En as jy ‘n elektriese probleem in die tyd optel en jou huis slaan aan die brand? ‘n Paar weke gelede het ‘n kennis van my erge skade opgedoen, die waterpyp in sy huis se dak het gebars, die huis het oorstroom, muurbehangsels, beddens, meubelment is vodde, kombuiskaste, matte, jy noem dit. Nee, so iets gebeur mos net met ander mense.

Johan Venter ·

Ek sien ook elders word berig dit sal ‘n katestrofe wees as instansies wat doodskiste vervaardig hul deure moet sluit.

Magda ·

Dankie Ramaphosa – Dit is n baie groot besluit, maar dink dit is nodig. Is baie bekommerd want ja daar is meer vrae as antwoorde, maar ek glo dat alles vandag vir almal duidelik gestel sal word.

Anel ·

Dit is die see onder die eendjie se stert uitruk. Wat gaan hulle in die winter doen? Ons tot September aanhou?

twaalfboor ·

Ja Anel…. vir solank as wat dit nodig is totdat julle mense ore kry.

Hein ·

Anel as mense nie gaan begin saamwerk nie gaan ons begin op eindig in ‘n “state of emergency” dit beteken jy het niks meer regte nie behalwe die reg om te lewe. Dit is in die konstitusie. So werk saam met die lock down 3 weke is nie so lank nie. Dit kan verleng word as die situasie nie verbeter nie.

twaalfboor ·

Ai mense…. wat verstaan julle nie? Ñ nood toestand word nie om dowe neute afgekondig nie. Jou lewe is in gedrang…. los die verstopte drein en die asblik.

Hein ·

Andre ek moet nie die kommentaar hier lees nie want dit maak my briesend kwaad en jy sal vind dat dit meestal net ons ou volkie is wat kla oor alles.

Johan Venter ·

Graag hoor ek van jull, ook as jou huis erge stormskade opgetel het, ‘n waterpyp het in die dak gebars en jou huis is oorstroom, meubels en als sopnat. Wat van as daar ‘n brand ontstaan, wat van die skade na die brandweer die brand geblus het? Gaan bly jy tydelik elders en die huis staan net so? Losieshuise en hotelle se deure is dan toe. Wat van die Pirvate sekuriteitsfirmas met gewapende opvolg reaksie as mens se lewe in gevaar is?

Reinhardt ·

Hiers die alternatief, wat as jy of jou familie siek word en daar is geen mediese dienste beskikbaar om hul lewens te red nie? Hou op kla en besef tog dat hierdie n moeilike maar nodige besluit was. Dankie Ramaphosa.

Hein ·

Ag asseblief mense word groot die hele wêreld is in ‘n lockdown en julle gaan aan of dit net SA is. Die is nie ‘n grap nie. Ekonomie kan weer opgebou word lewens kan nie terug gekry word nie. My ma sit met borskanker en ek is seker baie ander mense het familie met ‘n swak immuun stelsel wat nie die virus sal oorleef nie. Hou bietjie op selfsugtig wees.

Johan Venter ·

Hein, niemand is selfsugtig nie, van die vrese en vra is baie relefant, lees wat het ek hier bo onder André se kommentaar geskryf. Ek het ook elders hoër op reageer.

Anoniem ·

Ja Hein ek is een van daardie mense met ‘n swak immuunstelstel en indien ek hierdie virus sou opdoen gaan dit my dood beteken. Ek ondersteun Cyril Ramaphosa 100% met hierdie 21dae afsondering wat hy gisteraand afgekondig het.

Johan Venter ·

Nou blameer Cyril Ramaphosa die bydraende resessie in die wêreld wat baie mense in die land werkloos gaan laat, hy bly nog steeds in ontkenning van die werklike oorsaak vir die ekonomiese katastrofe in die land en dit is dat die toepassing van hul Kommunistiese Sosialistiese Ideologie vir al die jare ‘n totale mislukking was. Kom dit nie eens by hom op nie?

“Met alle respek mnr die president, ons was reeds diep in die moeilikheid voor hierdie resessie. Die virus maak dinge net erger en daar is nie veel wat ons daaraan kan doen nie. In plaas daarvan dat julle, die ANC-regeringsleiers, die land eerste gestel het toe julle die geleentheid gehad het, was julle meer besorg oor jul eie politieke agendas.

My voorstel is dus mnr die president, dat julle jul gedrag dramaties verander en in dié 21 dae van staat van inperking oor jul Kommunistiese Sosialistiese Ideologie herbesin.”

Jaco ·

Ander derde wêreld lande met hemelhoë misdaad is nie onder lockdown nie. Hierdie lockdown in SA gaan tot GROOT ontwrigting lei. Besighede gaan vou rn groot besighede gaan party werkers (seker meestal die wittes) oortollig maak. Misdadigers gaan nou nog meer inbreek, roof, moor en verkrag. Voeg beurtkrag by en dis 3 weke van totale anargie.

Johan Venter ·

Dit wil sê mense mag ook nie in die tyd ‘n paar kilometer (bv 6 of 10 ens) gaan draf of stap waar hulle om gesondheidsredes daagliks die oefening moet kry nie.

Neels ·

Sommige mense, veral kinders en jongmense, is immuun teen die kvirus. Die virus is egter baie aansteeklik. Ons moet, soos Ramaphosa, aanvaar dat baie mense gaan siek word, en daarom gaan relatief baie ongelukkig sterf. Die meerderheid siekes gaan gesond word en immuun word. Die virus gaan hom op hierdie manier uitwoed soos immuniteit toeneem en draers (ongelukkig) sterf. As die gety jou intrek in die see in, moenie daarteen veg nie. Hy spoel jou weer nader aan land. Sorg net dat jy nie verdrink nie, en jou energie soveel moontlik bewaar. Dus: Self-isoleer, was hande, al die dinge, vermy soveel moontlik gevaar-situasies, maar weet dat die siekte geweldig gaan toeneem en waarskynlik binnekort ‘orals’ gaan wees. As jy ‘n Christen is, bid, bid, bid.

my opinie ·

Baie mooi gestelNeels… Baie dankie. Sterkte vir almal.

Erik ·

Kinders en jongmense is nie immuun teen die siekte nie? Gaan kyk gerus die statistieke. Hul word as ‘n reël nie ernstig siek agv dit nie, maar is nie immuun nie.

Wondermaarnet ·

Die Ruperts word gedurig gestenig deur die ANC en EFF, maar noudat hulle geld skenk sal dit gegryp word en is hulle nou goed genoeg om te help.

Jims ·

Die geld gaan nie vir die ANC en EFF nie (hopelik nie) maar om te help om my en jou gesond te probeer hou. So natuurlik moet dit “gegryp” word.

Johan Venter ·

Jims, ek haal graag aan waaroor die skenkings gaan: “The two richest citizens of South Africa have turned up to the party – they’ve committed to a major financial investment aimed at keeping businesses going and looking after those whose lives are disrupted immeasurably by the coronavirus lockdown.”

Marie ·

En alleenlik gaan jy hulp kry as jou besigheid 51% BBEEE is.(volgens verslag wat ook uit is)

ameli ·

Isaiah 26:20
Go my people, enter your rooms and shut your doors behind you, take cover, for in a little while the fury will be over.

Porseleintjie ·

Weet enige iemand waar toestemming verkry word om jou woning te verlaat tydens die lockdown?

Erik ·

Jy het nie toestemming nodig nie… Dit hang af waarheen jy gaan. Apteek of koswinkel toe is reg, koffie en koeksusters by Tannie Koba is uit. Dis hoekom die weermag ontplooi is.

Hoe nou? ·

Is wit monopolie kapitaal weer goed genoeg om dié wa deur die drif te trek?. Waar is Motsepe en Ramaphoza se R1 Biljoen bydrae tot die Solidarity Fonds?. Ek sal R1000 bydra as hulle elk 1 Biljoen bydra.

Hoe nou? ·

Ek hoor jou Erik maar nee wat, ek dink weer dis hoogtyd dat ons toewyding sien van Swart monopolie kapitaliste in SA. Nogtans weet ek dit sal nie gebeur nie en sal eerder my bydrae plaaslik aanwend. So weet ek dan ook wie ek ondersteun. Kyk na die kommentaar, daar is mense wat juis klein besighede moes begin weens uitsluiting deur SEB. Hierdie mense leef dag to dag en hul inkomste is netso kortgeknip.

Boertjie ·

Gits, mense wonder of asblikke leeggemaak gaan word en of die loodgieter die drein sal kan kom oopmaak, en al waaroor die Boertjie wonder is of hy sy gunsteling Germaanse skuimdrankie sal kan aankoop by die naaste hapteek. Of is daai ook onder slot-en-grendel?

Johan Venter ·

My voorstel is, in plaas van dat ons mekaar hier op die forum skewe of sarkastiese woorde in die kommentare toesnou, dat julle vir die volgende 21 dae, of hoe lank die inperking ook al mag duur, saam met my op die knieë fiks sal word in gebed.

SomeOne ·

ek hoop net dat ons veiliger sal kan slaap, nogsteeds paraat, want nag werkers sal dalk hul moses teekom, indien die weermag hul werk reg doen
dit gee ook ons gemeenskaps polisieforum lede kans om so ‘n ietwat van ruskans te kry – nagwerkers behoort mos minder te wees

Maria ·

Dis is goeie besluite en dankie aan almal ook die Ruperts en Oppenheimers. Sulke bydraes gaan n groot verskil maak. Kyk of u ook kan help en lewer n bydrae, Sterkte almal!!

Tinker ·

Ek het groot kommer oor die lockdown, ek weet dis nodig maar daar is mense wat glad nie kan bekostig om nie te werk nie. Hulle leef van die hand na die mond, my pa is een van hulle en dis regtig kommerwekend aan watse stress dit die mense gaan sit wat so leef. VADER weet aleen hoe hulle 21 dae gaan oorleef in n lewe waar hulle van maand tot maand sukkel om selfs net elke aand te kan eet, dan praat ons nie eers van huur of ander basiese lewens kostes wat hulle nie sal kan bykom nie.

Phoenix ·

Weet enige iemand dalk of die Howe ook gesluit sal wees tydens die afsonderings tydperk? Indien ‘n saak op die rol geplaas is vir ‘n datum tydens afsondering, sal die saak voortgaan of uitgestel word?

Megan Swart ·

Dagsê Phoenix
Dankie vir jou boodskap.
Die vakbond Solidariteit sal al jou navrae oor arbeidswetgewing kan beantwoord.
Vra jou vraag hier: https://corona.org.za/ (klik op die blokkie “vra jou vrae”).
Groetnis
Megan
nms Maroela Media

Phoenix ·

Ek neem aan dat kinders van geskeide ouers, wat gewoonlik elke 2de naweek by die ander ouer gaan kuier, nie sal kan gaan tydens die afsonderings tydperk nie?

ᛄᚪᚾ ·

Waarskynlik een van die beter maniere om hierdie krissis te bestuur. Wat ookal die geval is, dit is die instruksie van die Nasionale Rampbestuurraad af. Sterkte, mnr die President.

Nou, a.s.s.e.b.l.i.e.f. mede SA’ners, HOU OP KERM oor “die ekonomie”, “wat as iets skeefloop tuis” en “hoe ANDER mense hulle steur aan hierdie maatreels”. Ek is so keelvol vir n gekla. Zit niet te zeiken, sê die Nederlanders.

Doen jou deel. Dis juis omdat meeste mense dink disn vakansie dat hierdie stappe geneem word. Wees bietjie geduldig en wag op detail instruksies van hoe om dinge te hanteer. Skink `n dop, steek n vuurtjie aan en ry die storm uit. Afrikaners kan mos plan maak, nie waar nie? Lees maar weer die laaste paragraaf van die berig.

Ek gaan seker gekruisig word vir my skrywe. Opzouten, ek gaan my nie steur aan julle! Genugtig, as ek die woorde moes gebruik wat werklik deur my gedagtes maal, sou Maroela my vir baie lank verban het van hierdie platform…

Jaco ·

Die mite dat jong mense, immuun is teen die virus is vals en gevaarlik. Hulle nie immuun nie, maar reageer net beter op die behandeling. Hulle word steeds siek en gaan steeds op ‘n ventilator, maar meeste oorleef. Die millenniums wat dink hulle is immuun, weier om by sosiale verwydering te hou en beskou die feit dat soveel ouer mense (“boomers”) doodgaan, selfs as ‘n bonus. Herinner opstandige jong mense, dat selfs al oorleef jy die virus, die behandeling steeds brutaal is . Die mense wat dit oorleef het, beskryf dit soos om aan te hou verdrink. Hulle probeer selfs die ventilator pyp uitruk net om asem te kry. Jong mense moet ‘n bietjie bang wees, vir hulle eie veiligheid en almal om hulle. Die beste vir almal, is om seker te maak, niemand, kry die virus nie. Hy sal homself uitwoed en verdwyn. Na elke wêreldoorlog het die ekonomie nie net herstel nie, maar groter geword. Dit sal weer. Sterkte vir almal en veral vir ons entrepreneurs.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.