Lang herstelpad wag, maar brandslagoffertjie kan weer ‘loop’, ‘hoop’

Klein Arno en sy rugbyheld, Victor Matfield (Foto: Albert Bredenhann)

“Die trauma wat hierdie jong lyfie die afgelope vier en ʼn half maande moes verduur, kan nie in woorde beskryf word nie. Sy lewe is vir altyd verander, sy ouers sʼn ook.

“Dit is wat die meeste mense nie van brandwonde verstaan nie, dit is ʼn lewenslange besering.”

Só sê Annerie du Plooy, stigter van die Hero Burn-liefdadigheidsorganisasie, wat rotsvas agter klein Arno Geldenhuys en sy gesin staan nadat die negejarige seuntjie op 1 Desember ernstige brandwonde oor byna sy hele lyf opgedoen het.

Maroela Media het vroeër berig Arno, ʼn regte plaasjapie en rugbyliefhebber en met ʼn wil van sy eie, het ʼn leë voëlnessie aan die brand gesteek toe dit skielik vlamvat. Arno het geskrik, petrol oor homself gestort en ook aan die brand geraak.

Hy is tot verlede maand in die intensiewesorgeenheid by die Chris Hani Baragwanath-akademiese hospitaal vir sy brandwonde behandel en het in hierdie tydperk vier keer ternouernood aan die dood ontkom.

Arno het baie ernstige brandwonde opgedoen. Du Plooy sê die oorlewingskoers van hierdie soort wonde, wat by staatshospitale behandel word, is bitter laag.

Herstel, gebede en hoop

Die jong vegtertjie kon egter Dinsdag weer vir die eerste keer in sy eie bed slaap en hy loop weer.

Bowenal “kan hy weer glimlag”.

Arno se ma, Bernadette, sê hy was skaars ses dae uit die intensiewesorgeenheid by die Chris Hani Baragwanath- akademiese hospitaal toe hulle hom skielik ontslaan het.

“Hy was nog baie swak, ons het eintlik nie geweet wat ons gaan doen nie.”

Arno kon egter kort daarna te danke aan twee enorme anonieme skenkings van R60 000 aan Hero Burn en R50 000 aan Caring Daisies, in die Mediclinic Muelmed-rehabilitasiesentrum opgeneem word. Daarna het “wonderwerk op wonderwerk” weer die jong man se lewe verander.

Dit was ʼn opdraande stryd tot hier, sê Bernadette. Maar Arno, te danke aan dié wonderlike rehabilitasiesentrum en die terapeute wat hom ondersteun, kan nou weer loop en hoop.

(Foto: Annerie du Plooy/Hero Burn-stigting)

“Dit was verskriklik om ons klein seuntjie in so ʼn hulpelose toestand te sien. Hy het besef hoe aktief hy altyd was en dit het hom baie seer gemaak om te dink dat hy nie weer so aktief sal kan wees nie.

“Medici van die Chris Hani Baragwanath- akademiese hospitaal het gesê Arno sal ʼn rolstoel vir die res van die jaar benodig. Hulle het gesê hy sal nooit weer die volle funksie van sy liggaam herwin nie.”

Du Plooy sê Arno kon vir maande nie loop nie; “hy kon nie eens sy kop optel nie”.

“As dit nie vir die duisende gebede en donasies van barmhartige samaritane was nie, en as hy nie te danke daaraan by hierdie rehabilitasiesentrum beland het nie, sou Arno nie vandag gewees het waar hy is nie.

“Hy is ʼn kampioen, ʼn regte vegter. Hy het so hard saam met die terapeute gewerk want hy wil net weer kan skool toe gaan en rugby speel,” sê Du Plooy.

ʼn Lang herstelpad lê egter nog voor. Du Plooy praat van ʼn vyfjaarplan wat beteken dat groot rekeninge nog op die Geldenhuys-gesin wag.

Arno kan onder meer nie sy regterbeen heeltemal reguit maak nie en “volgens die terapeute gaan hy waarskynlik nooit weer kan nie”, sê Du Plooy.

“Maar die mannetjie loop en hy oefen op ʼn fiets. Sy grootste droom is om weer op die rugbyveld saam met sy spannetjie waarvan hy die kaptein was uit te draf. Hulle mis hom so baie.”

Annerie du Plooy van die Hero Burn-stigting en klein Arno (Foto: Verskaf)

Bernadette sê hulle weet nog nie wanneer Arno sal kan terugkeer skool toe nie.

“Hy is nog lank nie reg daarvoor nie. Hy is ongelooflik getraumatiseerd na die voorval en het nog nie die volle funksie van al die spiere herwin nie, maar hy kan weer loop en dit alleen is ʼn wonderwerk.”

Sy sê hulle weet nie hoeveel geld nog nodig gaan wees om Arno in hierdie stryd te dra nie. Hy het ernstige post-traumatiese stres ná die voorval en moet gereeld ʼn berader sien.

Hy sal ook drukverbande moet kry om te verhoed dat littekenweefsels op sy lyf groei.

(Foto: Annerie du Plooy/Hero Burn-stigting)

“Arno sal nog geruime tyd moet tuis skoolgaan omdat hy nog nie gereed is om terug te keer skool toe nie. Hy moet elke tweede week vir terapie gaan en verskeie mediese prosedures en wondbehandeling gaan nodig wees sodat hy weer kan rondhardloop soos hy altyd het.

“Hy het nog baie seer met al die oefeninge wat ons daagliks moet doen, maar dit raak beter. Sy gemoed is ook soveel beter vandat hy weer self kan beweeg.”

Sy sê Arno se sterk wil is nog daar, “hy stry al klaar weer met sy boeties, ons hoop en bid dat hy weer een dag sy grootste droom sal bewaarheid, om weer op die rugbyveld uit te draf”.

Matfield bemoedig

Wat Arno veral bemoedig het, was toe sy rugbyheld, Victor Matfield, hom tydens sy behandeling in die rehabilitasiesentrum kom verras het. Caring Daisies het die spesiale besoek gereël en Arno het van oor tot oor geglimlag.

(Foto: Albert Bredenhann)

“Soveel ander groot rugbyhelde het daarna ook vir Arno sterkte toegewens en dit het ʼn groot verskil in die klein mannetjie se lewe gemaak”.

“Ons is regtig baie dankbaar vir almal wat so ʼn groot rol gespeel het hierdie afgelope paar maande, en veral hierdie laaste maand.

“Ons dank gaan uit aan die hele Mediclinic-groep wat uitstaande mediese behandeling aan Arno verskaf het, maar veral die Mediclinic Muelmed-rehabilitasiesentrum wat gesorg het dat Arno weer kan loop.

“Ons is regtig ook dankbaar teenoor die Intercare-groep en Rita Henn & Partners Inc wat wêreldklas-terapeute vir Arno beskikbaar gestel het.

Klein Arno en sy gesin saam met Mediclinic Muelmed Rehabilitasie Sentrum, Victor Matfield, Anria van Caring Daisies (Foto: Albert Bredenhann)

“En laaste, maar nie die minste nie, aan Caring Daisies wat soveel moeite gedoen het om geld vir Arno in te samel sodat hy hierdie gehaltesorg kon ontvang – en boonop sy rugbyheld gekry het om weer vir hom hoop te gee.”

Bernadette sê die Here was elke oomblik van die reis saam met hulle “en al was daar baie uitdagings het ons geweet Hy gaan ons seuntjie weer beter maak. Daar is nog ʼn baie lang pad, maar die krag van gebed sal ons deur alles dra.

“Dankie, dankie, dankie vir almal se gebede wat ons klein Arno se lewe gered het, en vir elkeen wat gehelp het om geld in te samel sodat ons klein plaasjapie weer kan loop en hoop.”

Victor verras vir klein Arno

Dankie vir almal wat n verskil gemaak het in die klein mannetjie se lewe. Maar ons kort nog … so ons kort julle hulp. BANK BESONDERHEDE VIR DONASIES Ref: Rand Merchant Bank (FNB) Tak: 222-026/Rek: 62321551906Verwysing: #heroburn

Posted by Caring Daisies on Monday, April 8, 2024

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Riette ·

O my goeie genade, hoe tjank ek nou! Baie dankie aan elkeen wat hierdie klein mannetjie en sy gesin ondersteun!!!

Ayvette ·

My Liefste Arno, die tannie volg jou al vandag een af, ek het al so baie gehuil en gebid vir jou, jy maak die tannie se hart so trots. Dankie ook weer aan elke liewe siel wat hulle harte oop gemaak het vir Arno.

Patch ·

Ai hoe breek my hart nou. Arno jy is n sterk seun en ek bid dat jy volkome sal herstel en weer rugby sal speel.

Melanie ·

jy is so sterk klein Arno, en ek kan so baie by jou leer. Ek salute jou ystertjie!!

Bolandse Nooi ·

Ek hoop dat ouers wat hier lees, besef hoe belangrik dit is om vir hul kinders die gevaar van vlamme en ontvlambare stowwe sommer van kleinsaf af te leer. ‘n Mens kan nie jou kind in watte toedraai en in ‘n glaskas sit nie, maar as klein Arno net geweet het … wel, dat hy met vuur speel, sou hy waarskynlik nie daardie voëlnessie met petrol aan die brand gesteek het nie.

Anel ·

So bly hy kon by ‘n oordentelike hospitaal gehelp word. Staatshospitale is deesdae net plekke waar mense doodgaan. Die klomp daar is net daar vir die geld, geen passie meer vir die pasiente nie. Sterkte seun en dankie aan mense wat hom kon help.

madels ·

Nou het lang trane gehuil ????… almal se nog ‘n lang pad na herstel, ek bid vir ‘n GROOT WONDERWERKA dat die herstel so vinnig sal wees dat dit ‘n getuienis sal wees van God se Almagtige Gebesings Hand.

Bolandse Nooi ·

As dit nie was vir die PRIVAATSEKTOR- in hierdie gevak, Muelmed Medi-Clinic Rehab nie, het hierdie seunskind dit nie gemaak nie. Hoe skokwekkend is dit nie, dat hy slegs 6 dae nadat hy uit ICU gebring is, ontslaan is nie?

In 2016 is my broerskind dood in Tygerberg se “ICU” na ‘n motorfietsongeluk waarin hy sy bene verloor het. Ek het gesê dit is inderdaad ‘n I C(S)ee U(Y)ou DEAD-eenheid, want dit was skokkend hoe dit in hierdie eenheid gelyk het. Stukkende/vuil/gebruikte toerusting, beddens en emmers met koue slopwater wat in die gange staan, monitors wat afgaan en BLEEEEEEP-BLEEEEEEPP-BLEEEEPPPPP dat jou ore daarvan tuit, maar nie een enkele “verpleegkundige” wat gaan kyk wat fout is nie.

Die trachea in my broerskind se keel het losgekom en slymerige bloed het daar uitgekom. Toe ek – as oud-verpleegster – die “verpleegkundige” daarop wys, toe sê sy vir my “Leave the stuff alone”. Sy kopwonde was smetterig en die ‘verbande’ het losgekom.
Genadiglik is hy dood nie veel lank daarna nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.