‘Lasbeperking’ in Goudstad ‘werk goed’

(Argieffoto: Maroela Media)

Eskom is besig om sogenaamde lasbeperking regoor Gauteng in te stel sodat inwoners sommige van hul noodsaaklike elektriese toestelle – soos ligte, televisiestelle en yskaste – tydens fase 1- tot fase 4- beurtkrag kan gebruik.

Die nasionale kragvoorsiener sê hy het aanvanklik lasbeperking op die inwoners van Fourways in Johannesburg getoets en dit is goed ontvang.

Slim meters sal nou in Buccleuch, Kelvin, Paulshof, Marlboro, Sunninghill en Waterfall geïnstalleer word om ook lasbeperking in dié gebiede te implementeer.

Lasbeperking vorm deel van ʼn inisiatief genaamd Demand Side Management (DSM) waartydens elektrisiteitverbruik bestuur en geoptimaliseer word om sodoende die vraag en aanbod van elektrisiteit op die kragnetwerk gedurende fase 1- tot fase 4-beurtkrag beter te bolwerk.

Dié inisiatief, verduidelik Eskom, fokus op uitgesoekte klante met slim meters aangesien hierdie slim meters oor ’n tegniese funksionaliteit beskik wat op afstand beheer moet word.

Só werk dit

Eskom verduidelik dat bereidwillige kliënte (met slim meters) se elektrisiteitskapasiteit deur middel van sogenaamde lasbeperking van 60/80 ampère tot 10 ampère tydens fase 1 tot fase 4 van beurtkrag verminder word.

Dít stel dan hierdie kliënte in staat om voort te gaan met die minimale gebruik van elektrisiteit vir noodsaaklike toestelle soos ligte, TV’s, Wi-Fi-versenders, yskaste en sekuriteitstelsels tydens beurtkrag.

Eskom verduidelik dat hy sowat ʼn uur voor beurtkrag ʼn boodskap aan die kliënt stuur waarin hy of sy aangespoor word om hul kragverbruik tot 10 ampère te verminder.

“Die stelsel sal die kliënt van vier geleenthede voorsien om hul verbruik te verminder. Indien die las nie verminder word nie, sal die meter outomaties die elektrisiteitstoevoer vir 30 minute afskakel voordat die toevoer weer herstel word.

Die kragvoorsiener doen nou ʼn beroep op al sy kliënte met versoenbare meters waar lasbeperking geïmplementeer sal word om die inisiatief te ondersteun wat sal verseker dat hulle elektrisiteit het vir die duur van beurtkrag.

“Die sukses van die projek hang af van die vennootskap tussen Eskom en die samewerking van kliënte, en hul bereidwilligheid om hul elektrisiteitsverbruik tot minder as 10 ampère te verminder.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Manie ·

Ek beheer dit alreeds self dankie. Solank ek dit self kan beheer, goed en wel, maar dis sekerlik net ‘n kwessie van tyd voordat Eskom self die beheer daarvan oorneem en daarvoor sê ek nee dankie.

Aai ·

Ek stem sal dit self beheer genoeg dat die ANC nie die land kan beheer.

Johanncb ·

Daar word fondse bestee aan “slim meters”! Los eerder beurtkrag op!

Martie Smartie ·

Bolwerk, ja goed gestel, als waaraan ANC en Eskom raak word bollie

Witwax ·

Die son beheer my elektrisiteit, as hy skyn gebruik ek meer elektrisiteit as hy nie skyn nie gebruik ek minder . Die son is darm nie korrup nie.

Josua ·

Geen probleem om so n meter te gebruik nie as dit wel verniet verskaf en geinstalleer word nie. My vraag egter is, wie het die “tender gekry” om die meters te verskaf???? Daar is nou al so baie korrupsie gepleeg, wie sê nie die is net weer een van Eskom se ondergrondse Tjommies wat op die manier geld wil maak met Eskom se toestemming nie! Die veit bly staan, Eskom moet beurtkrag opskort punt want elke jan en sy maat maak nou geld met een of ander wonderlike oplossing vir beurtkrag en die ondergrondse kaders glimlag bank toe.

Hennie ·

Dit los nie die probleem op nie. So gaan dit as onkundige mense in beheer is.

Hendrik ·

So 15 jaar gelede het ons mense wat op kleinhoewes al baie slegte diens verkry vanaf Eskom. Ek het my belowe om nooit weer in my huis Eskom te gebruik nie. Ons is 10 jaar heeltemal ontkoppel van die Eskom netwerk af en het nog nooit beurtkrag gehad nie. Dit is belangrik dat mense die realiteite in die oë kyk en besef dat in die toekoms Eskom net aan nywerhede , hospitale, skole ens beskikbaar sal wees en dat huis inwoners maar vir hulle self sal moet sorg.

SwartBees ·

No thank you. Ek stel nie belang in enige iets afkomstig van die anc/eksdom nie. Ek vat maar my kans en vertrou my batterye.

Wondermaarnet ·

Hoeveel geld wil eskom nog mors? Met hierdie geld kon hulle seker begin het om die kragkrisis op te los.

vuurvliegie ·

Wat verstaan die mense wat kommetaar lewer nie? Het julle nie eers die berig deurgelees nie maar julle wil kla? Met ‘n smart meter kan jy 10A se toerusting gebruik in die loadshedding tyd vir stage 1 tot 4. Sonder ‘n smart meter is jy nog steeks onderworpe aan loadshedding soos wat tans die geval is. @ Hendrik. Jy slaan die bal raak. Loadshedding is vir altyd hier.

The ·

@vuurvliegie. Mens kan nie vir ewig op ‘n “workaround” werk nie. Dit is wat nou gebeur. Eskom maak gebruikers gewoond aan die swak diens wat hulle lewer en ons is tog te bly om ‘n morseltjie te ontvang wat vanaf die ANC tafel afval. Ons probleem is ons is tevrede met die verotte wond wat ons gedurig pleisters op plak en nie skoonmaak en behandel nie.

vuurvliegie ·

@The. Die lewe gaan oor keuses. Jy en ander het die keuse om Eskom te grbuik of nie. Daar is baie alternatiewe opsies. Ek gebruik solar en ‘n generator met ‘n bietjie Eskom. Om heeldag te kla maak jou siek. Daar is geen vinnige oplossing vir loadshedding nie. So jy het ‘n keuse, aanvaar loadshedding of kry ‘n smart meter waar jy ‘n tv, wifi, ligte kan aansit tydens loadshedding. Daar is ongelukkig nie pleisters vir sekere siektes nie.

MARELIZE ·

Televisiestelle noodsaaklik!
Die dag het te vér gevorder. Die skrif is aan die muur.

Televisie is g’n noodsaaklik nie. Van wanneer af?

Suurstofmasjiene, dialise-masjiene … ja, dis noodsaaklik. Televisie, mense, nee… dis hoogstens ‘n luuksheid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.