Leerder sterf op ‘geheimsinnige wyse’ by skool

Foto ter illustrasie. (Argieffoto: Unsplash)

Die Gautengse departement van onderwys het ʼn onafhanklike ondersoekspan aangestel nadat ʼn leerder van dié provinsie op “geheimsinnige wyse” dood is.

Sibongiseni Khoza, ʼn gr. 7-leerder aan Laerskool Protea South in Soweto, is Woensdag by die skool dood. “Inligting tot ons beskikking dui daarop dat Sibongiseni die oggend voor eerste pouse lighoofdig gevoel en kort daarna in die klaskamer ineengestort het,” lui ʼn verklaring wat die departement Donderdag uitgestuur het.

“Sy onderwyser het verskeie kere probeer om hom te help om sy bewussyn te herwin, terwyl sy ma gekontak en na die skool vervoer is,” lui die verklaring.

Paramedici is ook na die skool ontbied, maar hulle kon niks vir die seun doen nie en Sibongiseni is net na 12:00 dood verklaar.

Panyaza Lesufi, LUR van onderwys in die provinsie, het sy medelye met Sibongiseni se familie betuig en ʼn span beraders is na die skool gestuur om leerders te help om die trauma te verwerk. “Die dood van ʼn leerder aan die begin van die akademiese jaar is werklik ʼn neerdrukkende voorval,” het Lesufi gesê.

Maroela Media het verlede Januarie by verskeie geleenthede berig oor sterftes onder leerders in Gauteng.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Moedeloos ·

Nou wat is so geheimsinnig hieroor. Ek is glad nie ongevoelig nie maar hene mens sou dink daar het iets vreeslik gebeur wat tot sy dood gely het. Sterkte aan die ouers want dit is vir geen ouer lekker om n kind aan die dood af te gee nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.