Leerders met spesiale behoeftes jaar later steeds sonder klaskamers, toilette

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Meer as ʼn jaar sedert ernstige strukturele probleme aan klaskamers by ʼn laerskool in Pretoria by die departement van onderwys aangemeld is, het die departement steeds nie ʼn vinger verroer om van dié klaskamers reg te maak nie.

Dié klaskamers aan die Laerskool Wonderboom-Suid het boonop ten doel om leerders met spesiale onderwysbehoeftes te onderrig en is die enigste skool in die omgewing vir dié leerders.

Die skool ervaar boonop ʼn dringende tekort aan hulpbronne om dié leerders behoorlik te onderrig en al wat die Gautengse departement aan die skool voorsien, is nóg leerders. Die skool het tans 102 leerders met spesiale onderwysbehoeftes.

Volgens ʼn toonaangewende lid van die skoolgemeenskap, wat verkies het om vandeesweek anoniem met Maroela Media te gesels, staan sommige klasse al langer as ʼn jaar steeds toegespan en het die skool nie genoeg onderwysers om leerders in klein genoeg klaskamers te onderrig nie. Die skool kan ook nie bekostig om nog onderwysers aan te stel nie, aangesien die meeste van dié leerders se ouers nie die skoolfonds kan bekostig nie.

Maroela Media het in Oktober 2019 oor die toestand van sommige klaskamers berig. Kragdrade het toe reeds uit die skool se plafon gehang en oop kragbokse het ʼn veiligheidsrisiko vir leerders ingehou. Verteenwoordigers van die departement het toe reeds die skool besoek en die erns van die probleem beaam.

Tog is niks tot op hede aan die klaskamers gedoen nie, hoewel tydelike klasse opgerig is in ʼn poging om die probleem aan te raak, sê die betrokke lid van die skoolgemeenskap. “Die krake in die mure word ál groter.”

Nog ʼn groot kopseer is die badkamergeriewe vir leerders met spesiale onderwysbehoeftes, aangesien die bestaande badkamers nie vir hulle toeganklik is nie. Dit het daartoe gelei dat onderwysers leerders oor die pad moet vergesel indien hulle ʼn draai wil gaan loop.

Volgens die lid van die skoolgemeenskap het die skool die departement oor dié probleem genader, waarna die departement onlangs draagbare toilette by die skool afgelewer het. Dié toilette is egter nie ʼn oplossing nie aangesien leerders gereeld hul hande moet was te midde van die Covid-19-pandemie en dit nie by dié toilette kan doen nie.

Volgens Marius Botha, ’n onafhanklike onderwyskonsultant, het die skool steeds probleme met die elektrisiteit nadat die departement die afgelope jaar onbevoegde elektrisiëns gestuur het om aan die kragdrade te werk.

Die betrokke lid van die skoolgemeenskap meen egter die grootste probleem is die gebrek aan finansiële ondersteuning vanaf die departement wat leerders met spesiale onderwysbehoeftes betref.

Die draagbare toilette wat onlangs aangebring is. (Foto: Verskaf)

“Die skool kry nie geld [of bykomende hulpbronne] vir hierdie leerders nie en 90% van leerders [se ouers] dra nie by tot die skoolfonds nie. Maar die departement hou net aan om vir ons nog leerders te stuur.” Volgens Botha ly die Laerskool Wonderboom-Suid jaarliks ʼn verlies van sowat R1 miljoen weens die gebrek aan ondersteuning vir leerders met spesiale onderwysbehoeftes.

Die lid van die gemeenskap sê die skool het te min onderwysers om vir leerders met spesiale onderwysbehoeftes klas te gee, aangesien die klasgroepe nie te groot mag wees nie. Elke onderwyser het ook ʼn assistent nodig. Om meer onderwysers aan te stel, het die skool meer geld nodig.

Tog is die wegwys van kinders die allerlaaste uitweg en word dit sover moontlik vermy. “Ons is in die beroep om kinders te help. Ons kan nie kinders net wegjaag nie,” sê die lid van die skoolgemeenskap.

Die betrokke persoon verduidelik dat lede van die skoolbeheerliggaam Vrydagoggend met die departement vergader het, waartydens verskeie beloftes gemaak is. Die beloftes sluit in die voorsiening van water en elektrisiteit aan die skool binne die volgende twee weke.

Maroela Media het vroeër vandeesweek die departement genader vir kommentaar, maar die departement het teen Vrydagmiddag steeds nie gereageer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

WLM ·

Mense verstaan nie die uitdagings in ons land vir ouers met kinders wat spesiale behoeftes het nie. Die kinders het meer individuele aandag nodig en klasse kan nie groter as 10 leerlinge per klas wees nie. Leerprogramme moet aangepas word en spesiale toerusting is nodig. Die res van die land gooi net ‘n dowe oor en jy moet jou kind in ‘n private skool sit wat ook min gesaai is. Jy kan ook verwag om ten minste R6000 pm te betaal (as jy gelukkig is) en dan moet terapie nog bykom. Die hartseer van die verhaal is dat elke ouer steeds die beste geleenthede vir sy kind probeer skep want elke ouer ken sy kind se potensiaal maar die regering voel absoluut ‘n veer.

Remlut ·

Daar is nie ‘n regering in die land nie, net skurke, boewe, lang vingers, bedrieërs en dies meer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.