Leerders van Estralita Spesiale Skool is ‘pionne in magstryd’

(Foto: Estralita School/Facebook)

Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) en die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) het ʼn dringende hofaansoek gebring om die onderwysdepartement in Mpumalanga en vakbonde te dwing om ʼn arbeidsgeskil op te los wat daartoe gelei het dat die Estralita Spesiale Skool vir die hele tweede kwartaal gesluit was.

Volgens Fedsas en die SAOU word kwesbare leerders van die Estralita Spesiale Skool in Mpumalanga word van hul grondwetlike reg op onderwys ontneem deur die optrede van lede van onder meer die vakbond Nehawu. En deur sy gebrek aan ingryping en leierskap is die Mpumalanga-onderwysdepartement aandadig aan hierdie skending van leerders se regte, meen die organisasies.

“Arbeidsonrus by dié skool het al verlede jaar in Mei begin. Die situasie het sodanig versleg dat die skool vir die hele tweede kwartaal van vanjaar gesluit was omdat veral koshuisleerders nie die gespesialiseerde versorging kan ontvang wat hulle benodig nie,” sê Juané van der Merwe, adjunkhoof van Fedsas, en Chris Klopper, uitvoerende hoof van die SAOU, in ’n gesamentlike verklaring.

Estralita bied onderrig van graad R tot 6 vir leerders met ernstige intellektuele gestremdhede. Die skool huisves tans sowat 200 leerders tussen die ouderdomme van vyf en 21, met die meeste van die leerders wat in die skool se twee koshuise versorg word.

Skofwerkers weier egter onder meer om nag- en naweekskofte te werk. Die ernstige intellektuele uitdagings van die leerders verg die teenwoordigheid van minstens twee skofwerkers en ’n opvoeder tydens nag- en naweekskofte in die koshuise.

“Indien voldoende personeel nie diens doen tydens skofte nie, kan dit lewensbedreigende gevolge vir hierdie kwesbare leerders inhou.”

Die skoolbeheerliggaam, Fedsas en die SAOU het reeds herhaalde pogings aangewend om die situasie te beredder. Klagtes van die werkers behels onder meer vergoeding maar die departement is traag om te reageer. Hoewel die departement opdrag gegee het dat die skool vir die derde kwartaal moet heropen, is talle ouers steeds huiwerig om hul kinders skool toe te stuur omdat hulle nie die versekering het dat hul kinders die nodig sorg sal ontvang nie.

“Dit lyk asof die provinsiale onderwysdepartement verwag dat die skoolbeheerliggaam en personeel teen die werkers moet optree ten spyte daarvan dat die departement sélf die werkgewer is. Baie van die leerders het reeds soveel onderrigtyd verloor dat dit onwaarskynlik is dat hulle dit vanjaar sal kan inhaal.

“Hoewel Fedsas en die SAOU regsaksie as ’n laaste uitweg beskou, het dit duidelik geword dat ’n dringende hofinterdik die enigste uitweg is. Die skoolbeheerliggaam het ’n plig om die skool in samewerking met sy onderwysvennote te bestuur. Dit is egter nie moontlik wanneer daar geen samewerking van ’n belangrike vennoot soos die provinsiale onderwysdepartement is nie.”

Fedsas en die SAOU is dit ook eens dat hierdie situasie ’n ernstige gebrek aan toewyding tot die regte van leerders aan die kant van die provinsiale onderwysdepartement en die betrokke vakbonde ontbloot. “Kwesbare leerders word hier as pionne in ’n magstryd gebruik. En ongelukkig is die leerders die enigste verloorders. Ons kan nie toekyk dat dit gebeur nie en sal daarom alles in die stryd werp om toe te sien dat hierdie leerders se onderrig kan voortgaan in die veilige omgewing waarop hulle geregtig is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Marthinus Johannes ·

Kan verseker wees dat as hulle terug gaan werk toe gaan hulle die kinders benadeel/viktimiseer net om julle te wys.

Francois ·

Fire die hele lot. Ons land is mos nou diw land van unies en we demand.

Chris ·

Ek sal nie omgee om daar ‘n onderwysbetrekking te bekom nie. Daar kan do baie met sulke leerders vermag word, as hul die geleentheid gegun word. Maar nee, daar word eerder gekla oor wat die werkers nie kry nie. Vergeet wie en wat jy is en doen reg aan die leerders wat bitter graag ‘n staanplek in ons deurmekaar land wil hê.

MJLS ·

Die arme kinders wat so geboelie word deur sodanige ” volwassenes”

Die skuldiges weet seker nie wat in die Bybel staan betreffende dat diegene wat iets wat nadelig is aan die kinders/geringstes dit aan God doen. Hý sal rekenskap eis.

Pandora ·

Wat dit erger maak is dat hierdie skool tans op baie onveilige eiendom gelee is. Dit is letterlik in ‘n oopte tussen die industriele gebied en die informele nedersetting van die dorpie – die arme kinders en onderwysers is daagliks blootgestel aan gevaar. Dis selfs onveilig om na die skool te ry.

Hierdie kinders is werklik afhanklik van die instansie vir behuising en skolastiese hulp en onderrig. :(

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.