‘Lekker mense, tasbare gees’ op Super Sokkie-bootreis

Daar was ‘n tasbare gees van opgewondenheid op vanjaar se Super Sokkie-bootreis. Hier is Kurt Darren saam met ‘n aanhanger. (Foto: Verskaf)

“Dit was ongetwyfeld een van my gunstelingbootreise tot dusver – en ek het al talle kere op bootreise opgetree.”

Só sê Lianie May, die “Bietjie Benoni”-sangeres wat vroeër vandeesmaand die Super Sokkie-bootreis saam met ʼn hele rits van Suid-Afrika se grootste kunstenaars meegemaak het.

Lianie was in die geselskap van ander Afrikaanse gunstelinge soos Kurt Darren, Juanita du Plessis, Jakkie Louw, Nicholis Louw, Jay du Plessis, Ray Dylan, Dirk van der Westhuizen en Samantha Leonard.

JD Mars en Anzélle het as nuwelinge onder Maroela Media se vlerk die bootreis meegemaak en ook blitsvinnig harte van almal op die MSC Splendida gesteel.

“Dit was net regtig ʼn ander tipe bootreis. Soos wat ons ook deur die dag op die dek van die skip tussendeur die mense beweeg het, het almal net gesê hoe lekker is die atmosfeer. Ons almal het dieselfde gevoel en beleef,” sê Lianie.

“Die passasiers se gees was heeltemal anders. Die mense het gedans en heeltyd gevra vir nog en nog musiek. ʼn Vriendelike gehoor wat jou geniet herinner jou altyd dat jy iets reg doen. Ek sal die Super Sokkie-bootreis uit en uit aanbeveel.”

Dirk van der Westhuizen beaam Lianie se stelling. Hy het self al tydens ʼn paar bootreise opgetree en sê vanjaar se Super Sokkie-bootreis was vir hom ʼn persoonlike hoogtepunt.

Jakkie Louw, Dirk van der Westhuizen en Jay du Plessis kuier saam op die bootreis. (Foto: Verskaf)

“Die groep kunstenaars wat op die bootreis was, het soveel respek en liefde vir mekaar en dit het amper gevoel of ons met vakansie is saam met ons naaste familie en vriende.

“Ons besef ons saam is deel van die Afrikaanse musiekbedryf en dat ons mekaar moet oppas. Dit is ʼn wonderlike plek om as kunstenaars daar te kom waar jy als vir mekaar gun.”

Hy sê die liefde en gees van die passasiers was tasbaar. “Dit het vir my soos ʼn kunstefees op die water gevoel. Ek sal enigiemand aanmoedig om dit te kom beleef.”

Volgens Annelize Brits, bedryfsbestuurder by Maroela Media, is die Super Sokkie-bootreis ʼn gulde geleentheid om met die lesers kennis te maak.

“Vir Maroela Media is die bootreis ʼn heerlike geleentheid waar ons bietjie ons lesers in die oë kon kyk, met hul kon gesels en sommer ook saam foto’s kon neem. Dit is dié een geleentheid waar ons met mense van reg oor die land en Namibië kan skouers skuur,” sê Annelize, wat vanjaar haar vierde bootreis onderneem het.

JD Mars en Anzélle. (Foto: Verskaf)

“Die bootreise is vir my ʼn behoorlike wegbreek. Weg van die bekende, van alledaagse nuus wat mens soms onderkry. Vir drie volle dae is jy afgesny van enige verantwoordelikheid. Wat natuurlik nog lekkerder was, is dat daar soveel Afrikaans op die boot gehoor is. Al wat ek kan sê, dit was groot pret!”

Daar was groot teleurstelling toe die kaptein van die boot Saterdag besluit het daar kan nie van die boot afgeklim word nie weens gure weersomstandighede op die Portugese Eiland.

“Dit het egter nie die Maroela Media-span gekeer om in te spring en die dag te red nie. Die strandspeletjies is na die swembaddek geneem en die bonus was dat die twee opkomende sterre, JD Mars en Anzélle, die passasiers vermaak het met lekker musiek wat behoorlik die voete laat jeuk het. Daar was ook heerlike pryse om te wen.”

Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media, sê hoe langer ʼn mens op die boot is, hoe lekkerder raak dit om van alles te vergeet en jou oor te gee aan die luukse van doen presies net wat jy wil.

“En elke keer as almal op die boot ‘Kaptein’ en ‘Jy soen my nie meer nie’ so lekker uit volle bors saamsing terwyl die Maroela-strandballe deur die lug vlieg, dink ek: Dis ons lesers dié, en hulle is lekker mense.”

Die Super Sokkie-bootreis vind weer van 21 tot 24 Februarie 2025 plaas en sal weer vanaf Durban na die Portugese Eilande reis. Die Piesangskille is die eerste kunstenaars wat vir die bootreis bevestig is.

Besprekings vir Super Sokkie-bootreis 2025 kan hier gemaak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

annie ·

Spaar my uit! Dit sal die ergste straf ooit wees om op so ‘n boot vasgekeer te wees tussen ‘n dolle jolige menigte wat nooit ophou nie… Bisar om die minste te sê. Nie almal wil heeldag en aldag smile en eet en uithaak nie! Meer is nie werklik meer nie. Minder is meer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.