‘Lesufi wen, maar kinders verloor’

Panyaza Lesufi. Foto: Flickr/GovernmentZA

Panyaza Lesufi. Foto: Flickr/GovernmentZA

Die grondwethof se onlangse uitspraak teen Fedsas bevestig net weer hoe dié hof getrou sy rol speel as die juridiese regverdiger en bevorderaar van die regerende party se ongenaakbare ideologie van rassetransformasie.

Dit is volgens Christoff van Wyk, bestuurder van die NP van Wyk Louw-sentrum vir gemeenskapstudies. Van Wyk het gesê Panyaza Lesufi se drogredenasie, dat die staat in die beste posisie is om seker te maak kinders wat in armer dele woon, kry toegang tot hulpbronne, niks anders as nog ʼn poging om Afrikaanse enkelmedium-onderwys te laat sneuwel.

“Lesufi en die regerende elite se politieke agenda geniet hoër prioriteit as kinders se behoefte aan gehalte-onderrig in hul gemeenskap. Lesufi se stryd is nie vir beter en toegankliker onderwys vir alle leerders nie, maar teen Afrikaans en haar sprekers. Sy verbete anti-Afrikaanse stryd is niks anders as sosiale ingenieurswese, waar groot getalle kinders teen hul sin buite hul gemeenskap verskuif moet word om die regerende party se ideologie van rassetransformasie te bevorder. Enige ideologie wat ras as ʼn hefboom gebruik om die samelewing te transformeer, is moreel verkeerd en onverdedigbaar.”

Volgens dr. Danie Langner, besturende direkteur van die NP van Wyk Louw-sentrum, versaak die Gautengse regering reeds jare lank hul plig om genoeg skole in armer gebiede te bou. Volgens Langner steun die NP van Wyk Louw-sentrum die noodsaaklikheid daarvan dat kinders in arm gemeenskappe uitnemende onderwys in hul moedertaal moet ontvang.

Langner waarsku “met dié uitspraak word nog hekkies in die pad van kinders in arm gemeenskappe, wat reeds talle struikelblokke moet oorkom, geplaas. Die gedwonge plasing van kinders in skole buite hul gemeenskap beteken onder andere dat kinders in arm gemeenskappe ure sal moet reis met onbetroubare openbare vervoer.

“Boonop is daar potensiële aanpassingsprobleme wat nog groter druk op die kinders en skole gaan plaas. ʼn Uitnemende skool in ʼn arm gemeenskap hef die hele gemeenskap op. ʼn Goeie skool skep ʼn gevoel van eiewaarde, eienaarskap en trots in enige gemeenskap. Lesufi ontneem arm gemeenskappe van die geleentheid deur die gedwonge verskuiwing van hul  kinders. Sy beleid hef nie op nie, maar versterk eerder die gevoel van minderwaardigheid en ontoereikendheid waarmee arm gemeenskappe dikwels sukkel.  Sy ooglopende agenda van rassetransformasie vervreem gemeenskappe van mekaar en maak die Gautengse departement van onderwys ontoeganklik vir konstruktiewe gesprek. Lesufi  wen die hofuitspraak, maar kinders verloor.”

Die NP van Wyk Louw-sentrum meen die hofuitspraak gaan lei tot versnelde privatisering van Afrikaanse skole. Die hofuitspraak laat geen ander alternatief vir Afrikaanse ouers wat hul kinders gehalte-onderrig in hul moedertaal wil bied, as om privaat skole te stig nie. Die sentrum meen “die wen-wen oplossing sou eerder wees om as saak van dringende prioriteit doelmatige skole te bou, toegewyde onderwysers op te lei, lui onderwysers wat hul leerders deur swak onderrig benadeel summier af te dank en beskikbare kundigheid van afgetrede onderwysers solank in te span om die kinders in armer gemeenskappe te help. Die Afrikaanse gemeenskap sal voor in die ry staan om kinders in arm gemeenskappe te help.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

21 Kommentare

jongste oudste gewildste
Hendrik

Ek raak nou moeg vir hierdie outjie se inmengery op funksionele skole. Wat gedoen moet word weet ek nie, maar dat die skole, ouers, Fedsas en Afriforum sal moet vasstaan die volgende paar jaar is ‘n feit. Privaatskole stig is nie so maklik nie en goeie ondewysers moet goed betaal word. Om ou afgetrede onderwysers te kry in die privaatskole is my ondervinding dat hulle eenvoudig net nie die energie en lus het om met die jonges te werk nie.

Leonard van der Dussen

Die beweging na privaatskool-opsie is waarskynlik, wat goed is, maar sy eie uitdagings het. Daar is ‘n groot verskil tussen werklike privaatskool wat vir sy eie grond, geboue en al die personeel moet betaal, teenoor ‘n staatskool waar die aanvanklike kapitaalbelegging deur die staat gemaak is in die terrein en geboue, en ‘n basiese personeel se salarisse deur die staat befonds word, en dit kan nie van huidige beheerraadslede verwag word om sommer net so aanpas om bestuurders van werklike privaatskole te word nie. Daar is reeds opsies beskikbaar, wat wisselend in gehalte en aanbieding is, en elkeen op meriete… Lees meer »

HEVW

Inderdaad ongenaakbare ideologie wat alle gesonde verstand en beredenering oortref. n Uiters sensitiewe saak wat die ganse toekoms van volk en nasie verwoestend gaan tref word op n gevoellose gorilla wyse hanteer. Behalwe die negatiewe psigiese gevolge wat dit inhou wanneer kinders met ongelyke vermoeens en lewensstandaarde saam gevoeg word, is die hoe onkoste wat dit gaan meebring ook te bereken.

M'Lady

Hierdie man het n haat vir alles Afrikaans en Afrikaner en n hovaardige houding. Hy moet net onthou “hoogmoed kom tot n val”.

Koos

Vriende daar is niks wat ons aan die huidige situasie kan doen nie ons sal ons eie instellings moet bou ,Afriforum se bou saam klink vir my die beste opsie maar elkeen van ons sal moet help met die finansiering en werf van nuwe lede totdat ons sterk genoeg is om mense soos Lesufi die middelvinger kan wys.