Lesufi wil nie meer dranklisensies uitreik nie

Panyaza Lesufi (Foto: Jairus Mmutle/GCIS

Die Gautengse drankhandelaarsvereniging (GLTA) is besorg oor Panyaza Lesufi, premier van Gauteng, se uitlatings dat “die uitreiking van alle dranklisensies opgeskort word in die stryd teen dwelmmiddels en die verkope van onwettige goedere”.

Khaya Kraai, woordvoerder van GLTA, sê Lesufi het dié uitlatings Dinsdag by die Birchwood-hotel in Boksburg gemaak.

GLTA verteenwoordig meer as 35 000 drankhandelaars in Gauteng.

“Die premier het aangevoer alkohol is die ‘poort tot dwelmmisbruik en dit is waaruit ander, sterker dwelmmiddels spruit’. Volgens die premier sal die uitreiking van dranklisensies opgeskort word om kapasiteit te bou om nakoming van gelisensieerde ondernemings te monitor.”

Kraai sê die organisasie is verstom oor Lesufi se bewering dat “ʼn vergadering belê is met alle drankorganisasies in die provinsies in die alkoholbedryf” en dat die alkoholbedryf hom “geloof het vir die besluit om nie meer dranklisensies uit te reik nie”. “Hierdie bewering is betreurenswaardig en onwaar. Ons ontken ten sterkste dat ons ingestem het tot ʼn opskorting van die uitreiking van dranklisensies in die provinsie en dat die verkope van alkohol lei tot dwelmmisbruik en die verkope van onwettige goedere.”

Volgens Kraai sal die organisasie poog om met die premier en die Gautengse regering in gesprek te tree vir minder beperkende maatreëls om die maatskaplike probleme te takel wat met die verkope van alkohol verband hou.

“Die verkope van alkohol is wettig onder ʼn relevante dranklisensie wat wettiglik deur die betrokke owerheid uitgereik is, in hierdie geval die Gautengse alkoholraad. GLTA het ʼn wetlike plig, saam met die Gautengse alkoholraad, om nakoming te bevorder met die voorwaardes van die lisensie, verantwoordelike verbruik van alkohol en omsigtigheid onder sy lede en filiale. Ons sal steeds met die regering, gemeenskappe, geloofsgemeenskappe en ander belanghebbendes saamwerk om ʼn vriendskaplike en volhoubare oplossing te vind vir dié betreurenswaardige en irrasionele besluit om die uitreiking van dranklisensies op te skort.”

EFF veroordeel Lesufi se skynheiligheid

Die Ekonomiese Vryheidsvegters in Gauteng het intussen Lesufi se “skynheiligheid en bevordering van alkoholisme” veroordeel.

Lesufi het Dinsdagaand op sy amptelike X (Twitter)-profiel ʼn foto gedeel waar hy ʼn vennootskap tussen die Gautengse regering en Heineken vier. Volgens hom sal die “kroeë van die toekoms” in die provinsie opgerig word.

“Toe die publiek hom veroordeel het vir sy skynheiligheid en onverantwoordelikheid, het Lesufi aangevoer dat sy standpunte teen die verkope van dwelmmiddels en alkohol slegs van toepassing is op hom – nie as ʼn leier nie, maar as ʼn individu. Hy voer aan dit is ʼn geleentheid om werk te skep,” het die party in ʼn verklaring gesê.

“Die EFF is nie verbaas oor sulke karakters nie. Dit is die aard van ANC-leiers om uit twee monde te praat en morele posisies vir politieke dienstigheid op te offer.”

Die party meen die oprigting van kroeë in gemeenskappe bevorder nie net alkoholisme nie, maar onthul ook die ANC se “oningeligtheid” oor werkskepping en hoe om die benarde ekonomiese situasie van Gauteng om te keer.

“Die EFF verwerp dié kroeë; daar is reeds te veel daarvan in ons gemeenskappe. In teenstelling met dit wat Panyaza Lesufi voorstel, is ons toekoms nie alkohol nie. Die toekoms van die samelewing is toegang tot grond, onderwys, en massa nywerheidsontwikkeling. ʼn Regering wat omgee, sal met die bestaande drankhandelaars saamwerk om regulasies af te dwing wat veilige en verantwoordelike verbruik bevorder.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Johann ·

Lepoefi is nou maar bloot in sy eie nagmerrie van leuns wat hy slaafs najaag. Totaal verwyderd van die proses van logika en feite.

Jan Jacobs ·

Nee dit gaan net meer onwettige drinkplekke tot gevolg he, wat nie vervolg gaan word nie, wat Lei tot meer geweld misdade

Truman Burbank ·

Jan. Wil jy se daar is geen of min onwettige drink plekke?

Karoo ·

Hier in die Karoo het elke bekende supermark ook hulle eie drank winkel, tot die 2 skroot werd besighede het “cash only” drank winkels. Hou op SASSA geld uitbetaal want die kinders en oumense kry niks, as al die duisende polisie wat jaarliks opgelei word ook net uitgeplaas word om te werk sal dit ook beter gaan.

Stephen ·

Mr Lesufi. What a stupid idea. Have you heard of “prohibition” in the 20’s in the USA? When liquor were destroyed and declared illegal? The illegal moonshine and liquor trade went through the roof.

Truman Burbank ·

As hul wil aanhou drank lisensies uitreik, laat asb by elke kroeg uitgang n blokkade hou waar almal moet blaas voor hul in hul motors klim

Aggie ·

Ek het nooit kon dink dat ek met die eff oor iets kon saamstem nie, maar hier is ek dit eens met hulle. Wat sal lefoesie dan verder doen? “Wettige” dwelmwinkels laat skep om werk te skep. Kan ‘n persoon so kortsigtig wees??

Delia ·

Dit klink na n briljante idee. Maar ons het nie genoeg polisie en holding cells vir die idee

Juanita ·

Hy het gesien in lockdown wat mense vir drank sal betaal as hulle moet, miskien beplan hy om sy eie besigheid te begin.

Marisa W ·

Nou waarom het hulle dan dagga gedekriminaliseer as sy eintlike doel is om dwelmmisbruik te bekamp…?!

Lood ·

Wat rook die ou wat hom so deurmekaar laat praat? Of is dit dalk iets wat hy drink?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.