Lewenslank ná dubbelmoord op bejaarde winkeliers

(Foto: Facebook/Helena Da Silva)

Die hooggeregshof in Klerksdorp het Quinton Brits (38) en Mabote Ernest Lishea (31) tot twee keer lewenslange tronkstraf gevonnis vir die moord op ʼn bejaarde egpaar van Christiana in Noordwes.

Maroela Media het vroeër berig dat die 74-jarige Diniz Fernandus da Silva en sy vrou, Maria Goretta da Silva (71), se liggame in Augustus 2020 by hul kafee in Christiana gevind is. Twee klante het destyds op die egpaar se liggame in hul kafee afgekom nadat hulle deur ʼn venster geloer het toe die kafee ná 08:00 steeds nie oop was nie.

Die klante het die polisie ontbied en die egpaar se lewelose liggame is op die vloer van die kafee aangetref.

Volgens Henry Mamothame, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Noordwes, was die kafee baie deurmekaar. Die geldlaaie het wawyd oopgestaan en Diniz Fernandus da Silva was met kabelbinders vasgebind.

Daar was ook droë bloed op albei slagoffers se neuse.

Nadoodse ondersoeke het gewys dat Maria Goretta da Silva verwurg is, terwyl haar man se oorsaak van dood as koronêre hartsiekte aangedui is.

Helena da Silva, die egpaar se dogter, het later bevestig dat selfone en geld uit die winkel vermis word.

Polisie-ondersoeke het in September 2020 tot Brits se inhegtenisneming op Jan Kempdorp gelei. Van die gesteelde items is by hom gevind.

Lishea, ʼn burger van Lesotho, is kort daarna by Durban Deep naby Roodepoort in hegtenis geneem. Tydens sy inhegtenisneming is nog items gevind wat tydens die aanval gebuit is.

Die staatsaanklaer, adv. Kgalalelo Molefe, het gevra dat ʼn vonnis opgelê word wat as afskrikmiddel sal dien. Volgens haar moet die erns van die oortreding in ag geneem word, asook die feit dat die slagoffers bejaardes was. Sy het die hof versoek om ter verswaring van die vonnis nie van die minimum voorgeskrewe vonnis af te wyk nie.

Brits en Lishea is tot nóg 20 jaar tronkstraf gevonnis: vyf jaar tronkstraf vir huisbraak met die doel om te roof en 15 jaar tronkstraf vir roof met verswarende omstandighede.

Dr. Rachel Makhari, die direkteur van openbare vervolging in Noordwes, en lt.genl. Sello Kwena, provinsiale polisiekommissaris, het die span van die vervolgingsgesag asook die polisie se ondersoekspan geloof vir hul samewerking om te verseker die oortreders word swaar gestraf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.