Lewenslank vir man wat Bellville-vrou vermoor

(Foto: Facebook/Daily Talk)

Waarskuwing: Die berig is grafies van aard en kan sensitiewe lesers ontstel.

Die man wat aan die gru-moord op Lynette Volschenk skuldig bevind is, is Donderdag tot lewenslange tronkstraf in die hooggeregshof in Kaapstad gevonnis.

Die 28-jarige Kyle Ruiters is in Mei vanjaar daaraan skuldig bevind dat hy Volschenk in Augustus 2019 in haar Seesig-woonstel in Welgemoed in Bellville doodgesteek, haar liggaam opgekap en dit in verskeie sakke versteek het.

Ruiters, wat homself as ʼn “sjarmante psigopaat” en “ʼn slim reeksmoordenaar” beskryf, is ook op aanklagte van lykskending en poging tot regsverydeling skuldig bevind.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag in die Wes-Kaap, het die lewenslange vonnis deur regter Robert Henney verwelkom.

“Regter Henney het tydens die vonnisoplegging gesê die beskuldigde is sonder twyfel ʼn gevaarlike misdadiger, wat veral ʼn bedreiging vir vroue inhou.

“Die regter het bevind dat die beskuldigde weer misdade sal pleeg indien hy in die samelewing vrygelaat word. Hy het hom tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir moord met voorbedagte rade, 15 jaar vir lykskending en vyf jaar vir regsverydeling,” sê Ntabazalila.

Maroela Media het vroeër berig dat Ruiters tydens sy verhoor na die Valkenberg Psigiatriese Hospitaal vir evaluering geneem is. ʼn Aanvanklike verslag het verklaar dat hy “nie aan enige geestessiektes ly nie, maar beslis psigopatiese eienskappe toon”.

Volgens Ntabazalila het Ruiters in sy skulderkenning aan die hof gesê hy is ʼn dwelmgebruiker en het sy dwelmhandelaar R30 000 geskuld. Dié handelaar het hom glo met ernstige gevolge gedreig as hy nie betaal nie, wat sy plan na bewering in werking gestel het om iemand te vermoor en van hul waardevolle besittings te beroof.

Ruiters het verskeie moontlike slagoffers geïdentifiseer en dopgehou – ook op sosiale media. Hy het dieselfde met Volschenk gedoen en aantekeninge gemaak van sy voorneme om haar te vermoor. Hy het selfs ʼn boodskap vir haar familie en vriende opgestel ingeval hulle haar kom soek. Hy het nooit die boodskap geplaas nie, maar dit wel op sy foon gehou.

Ruiters het op 21 Augustus 2019 na Volschenk se woonstel, wat bo sy eie geleë was, gestap. Hy het gewag tot sy die deur oopsluit het waarna hy haar agternagesit en in die woonstel vermoor het.

Hy het ʼn mes op die toonbank gegryp en haar verskeie kere in die nek en lyf gesteek. Hy het haar liggaam daarna met ’n handsaag opgekap en in sakke versteek. Ruiters het ook probeer om van verskeie ander bewyse ontslae te raak.

Volschenk se kollegas het alarm gemaak nadat sy nooit by die werk opgedaag het nie. Volschenk se suster is eindelik saam met nog ʼn inwoner van die woonstelkompleks, twee van Volschenk se kollegas en ʼn veiligheidswag van die kompleks na haar woonstel om ondersoek in te stel.

Ruiters, steeds met geel handskoene aan, het vir hulle die deur oopgemaak. Hy het aangevoer dat hy vir Volschenk werk en aangestel is om haar woonstel skoon te maak. Daar was steeds bloed aan die mure en sommige liggaamsdele was nog in die woonstel.

Die polisie is gevolglik ontbied en Ruiters is op die toneel in hegtenis geneem. Sakke met haar liggaamsdele is later in sy woonstel gevind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Karoo ·

Dankie, hy is van die straat af. Meegeveol aan die familie en vriende wat iemand kosbaar so wreed verloor het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.