Lift, Disney gaan saam die lug betower dié feesseisoen

Lift-passasiers gaan kans kry om op ʼn Disney-geïnspireerde vliegtuig te vlieg. (Foto: Verskaf)

“Be our guest, be our guest,” lui die bekende lirieke van die ikoniese Disney-treffer, Beauty and the Beast, en dít is presies wat die Walt Disney Afrika en die plaaslike Lift-lugredery vir Suid-Afrikaanse reisigers hierdie feesseisoen uitnooi om te doen.

Dié handelsmerke het Donderdag tydens ʼn toweragtige funksie naby die O.R. Tambo-lughawe hul gesamentlike “May Your Wishes Come True”-veldtog afgeskop, wat beloof om jong én ouer Disney-liefhebbers na hul Mickey Muis-ore te laat gryp.

As deel van dié veldtog gaan Lift-passasiers vanaf 20 Oktober die geleentheid kry om op ʼn Disney-geïnspireerde vliegtuig tussen Johannesburg, Kaapstad en Durban te vlieg.

Ikoniese en onvergeetlike karakters van Disney, Marvel en Star Wars, insluitend Mickey en Minnie Muis, Moana, Black Panther, Baby Yoda, Elsa van Frozen, asook ʼn splinternuwe karakter van Disney se opkomende fliek, Wish, pronk op die buitekant van dié vliegtuig.

Aan boord kan passasiers uitsien na spesiale Disney- en Lift-verrassings, sowel as kinderaktiwiteitspakke om die kleingoed mee besig te hou. Diegene wat tussen 1 en 12 Desember op uitgesoekte Lift-vlugte reis, kan volgens die lugredery ook bykomende Disney- geïnspireerde verrassings verwag.

Gidon Novick, ʼn medestigter van die Kulula-laekosteredery, en Jonathan Ayache, ʼn voormalige bedryfshoof vir Uber in Afrika suid van die Sahara, het Lift te midde van die Covid-19-pandemie begin.

Die lugredery het in Desember 2020 vir die eerste keer sy vlerke gesprei en is bekend vir hul buigbare-model en die toelaat van passasiers om vlugte 24-uur voor die tyd teen geen bykomende koste of boetes te verander.

Volgens Ayache was daar geen twyfel toe Disney na Lift uitgereik het vir dié samewerking nie.

Selfs die peuselhappies en nagereg was Disney-geïnspireerd. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

“Dit is ʼn ongelooflike voorreg vir ons dat ʼn groot, geliefde en ikoniese handelsmerk soos Disney ons genader het, veral omdat ons as maatskappy nog baie jonk is. Ek dink dit getuig van die goeie werk wat ons ongelooflike span in ʼn baie kort tyd vermagtig het,” het hy aan Maroela Media tydens die bekendstelling vertel.

“Ons wil met dié veldtog ook die liefde, bekoring en familiesamesyn waaraan die feestyd gekoppel word, aanwakker. Ons droom is dat dit ʼn gevoel van pret, verwondering en opwinding vir die hele gesin tydens die komende skoolvakansies sal bied.”

Hy het ook die publiek vir hul ondersteuning die afgelope drie jaar bedank.

“Ons besef hoe geseënd ons is dat passasiers gekies het om ʼn nuwe lugredery te vertrou. Ek glo ons sukses kan toegeskryf word aan ons span se persoonlikhede en hardwerkendheid.”

Christine Service, senior visepresident en algemene bestuurder van Walt Disney Afrika, sê dié unieke samewerking sal reisigers van alle ouderdomme boei.

“Om ons 100ste herdenking te vier, vier die Walt Disney-maatskappy juis die aanhangers en storievertellers wat die vreugde en towerkrag van Disney help skep en omarm het.”

  • Passasiers kan lift.co.za besoek om vlugte te bespreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johan ·

So Lift gaan nou ook “Woke”…sal maar n ander lugredery moet begin gebruik. “Go-Woke-Go-Broke” moet ook maar hier begin geld.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.