Liggaam van ontvoerde onderwyseres gevind

Die polisie het ’n man in hegtenis geneem in verband met die dood van Naadira Vanker, ʼn 31-jarige onderwyseres van Lenasia in Gauteng. (Foto: Facebook)

Die polisie het ’n 36-jarige man in hegtenis geneem in verband met die dood van Naadira Vanker, ʼn 31-jarige onderwyseres van Lenasia in Gauteng. Dit volg nadat haar liggaam Dinsdagaand in ’n vlak graf in ’n informele nedersetting gevind is.

Die polisie het verneem dat Vanker, ’n onderwyseres by Progress Primary in Lenasia, Dinsdagoggend deur twee verdagtes by haar huis ontvoer is. Die verdagtes het in Vanker se voertuig gevlug, wat later in Ennerdale gevind is.

Lede van die gemeenskap het toe reeds ʼn beroep gedoen op enigeen met inligting oor waar Vanker haar bevind, om na vore te kom.

“Die ondersoek het polisie na ’n sinkhuis in Phumlamqashi in Lenasia-Suid gelei, waar een van die verdagtes gevind is. Dié verdagte het die polisie na ’n vlak graf in die erf geneem waar die slagoffer begrawe was,” het kapt. Mavela Masondo, polisiewoordvoerder, gesê. Die polisie soek steeds na die tweede verdagte.

Die lyk is later deur Vanker se familie uitgeken. ’n Nadoodse ondersoek sal gedoen word om te bepaal hoe die slagoffer dood is.

Die nuus oor Vanker se dood het reeds soos ’n veldbrand op sosiale media versprei en dit blyk dat die gemeenskap in rou gedompel is.

“Rus in vrede. My hart is werklik gebreek. Mag God haar familie krag gee en gedurende hierdie moeilike tyd beskerm. Juffrou Vanker, jy sal altyd onthou word vir die goedhartige mense wat jy was. Hailey gaan jou verskriklik mis,” het Amrita Naidoo op die Facebook-groep, Proudly Lenasia, geskryf.

“Dit is só hartseer. Wanneer gaan geweld teenoor vroue stop?” het Jessica Christian geskryf.

Die plasing oor Vanker se dood op dié Facebook-blad is reeds meer as 450 keer gedeel met talle simpatieke boodskappe van hartseer en woedende inwoners.

Dit is nog nie seker waarvan die verdagte aangekla word, of wanneer hy in die hof sal verskyn nie.

 

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Jack ·

Daar is nie politieke munt uit haar dood te slaan nie. Sy is nie swart genoeg nie en tot hulle verleentheid is haar aanvallers nie wit genoeg nie. Dit is dus ‘n “no-issue”. Wys jou net hoe skynheilig die ANC is met hulle kamma veldtogte van geen geweld teen vroue en kinders.

Androclus ·

Was dit van hulle dan het hulle weer oorlog gemaak klomp kaders

Androclus ·

“Rus in vrede. My hart is werklik gebreek. Mag God haar familie krag gee en gedurende hierdie moeilike tyd beskerm.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.