Ligte vliegtuig stort in Kraaifontein neer

(Foto: Facebook/Titanium Securitas)

ʼn Ligte vliegtuig het Dinsdagoggend naby die Kraaifontein-rioolaanleg neergestort.

Titanium Securitas, ʼn gewapende reaksie- en nooddiensverskaffer aan Brackenfell, Kraaifontein en omliggende gebiede, het net ná 11:00 noodoproepe rakende die voorval ontvang.

“Die Titanium Securitas- mediese span en al die relevante rolspelers het dadelik op die oproepe gereageer en hulle na die gegewe ligging gehaas,” lui ʼn verklaring van die betrokke maatskappy.

Met hul aankoms is twee beseerde vlieëniers buite die vliegtuig gevind.

“Een van die vlieëniers het ernstige beserings opgedoen en moes deur Air Mercy Service (AMS) na ʼn vlak-een-traumasentrum gevlieg word.”

Die ander vlieënier het net matige beserings gehad en is per voertuig na die gepaste fasiliteit vervoer.

Albei pasiënte is eers op die toneel deur paramedici gestabiliseer voordat hulle vir verdere mediese behandeling vervoer is.

Die Burgerlugvaartowerheid (BLO) is bewus van die ongeluk, maar wag nog om ʼn verslag daarvan te ontvang voordat verdere inligting daaroor bekend gemaak sal word.

(Foto: Facebook/Titanium Securitas)

(Foto: Facebook/Titanium Securitas)

(Foto: Facebook/Titanium Securitas)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.