Likwidasie-aansoeke om MTI-geld terug te kry

hof-hamer

(Argieffoto)

ʼn Sakeman van Empangeni in KwaZulu-Natal, Anton Lee, gaan Donderdag ʼn dringende aansoek in die hooggeregshof in Kaapstad bring vir die likwidasie van die Suid-Afrikaanse Bitcoin-handelaar Mirror Trading International (MTI).

Volgens Lee se beëdigde verklaring skuld MTI hom US$34 708,77 of sowat R500 000. Hy sê die maatskappy is nie in staat om die bedrag te betaal nie op grond van die feit dat dit geen bates besit en geen inkomste verdien nie.

Lee het gister aan Maroela Media gesê hy het lont geruik toe MTI nie ʼn betaling aan hom kon maak wat hy op 1 Desember aangevra het nie.

Goedgelowige beleggers het honderde miljoene rande by MTI belê en dieselfde hof het intussen nog ʼn soortgelyke aansoek van ʼn ander belegger, Steven Watkins, ontvang. Hy het R150 000 belê en kon sedert 21 Desember nie onttrekkings maak nie.

MTI se enigste direkteur, die 37-jarige Johann Steynberg van Polokwane, het volgens berigte aan die begin van Desember landuit gevlug en bevind hom tans in Brasilië. Na sy verdwyning het MTI se bestuurspan ʼn verklaring uitgereik waarin hulle gesê het dat MTI se bankbesonderhede verander is en dat hulle nie kan waarborg dat beleggings veilig is nie.

Die tweede respondent in die saak is die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA) wat reeds in Augustus gewaarsku het dat MTI nie gelisensieer is om finansiële dienste te lewer nie en ook nie om so ʼn lisensie aansoek gedoen het nie.

Kort daarna was MTI ook in die nuus toe ʼn groep kuberkrakers die volledige transaksiegeskiedenis van die maatskappy op die internet vrygestel het. Daar is toe reeds maande lank beweer dat MTI niks anders as ʼn piramideskema bedryf nie en beleggers is wêreldwyd gemaan om hul beleggings te onttrek.

Die FSCA. Foto; Facebook

Maroela Media het vroeër hierdie week berig dat die FSCA ʼn strafregtelike klag by die polisie aanhangig gemaak het omdat gemeen is dat MTI en sy senior bestuur ʼn onwettige onderneming bedryf, kliënte mislei en verskeie wette oortree. In ʼn verdere verwikkeling het MTI se regsverteenwoordiger, Ulrich Roux, ook sy dienste aan MTI beëindig omdat Steynberg nie gekontak kon word nie.

Lee sê in stukke voor die hof hy het in Januarie vanjaar van MTI se uiters winsgewende beleggingsmoontlikheid gehoor wat ʼn profyt van tot 10% per maand oplewer. Sy aanvanklike belegging was R3 000 en hy was in sy skik met die wins wat hy daarmee verdien het. In die maande daarna het Lee verskeie bedrae geld sowel as Bitcoin by MTI belê wat by tye met soveel as 10% per dag gegroei het.

Hy was so beïndruk dat hy sy uitgebreide familie oorgehaal het om ook in MTI se onderneming te belê. Teen die huidige uitruilkoers beloop hul gesamentlike beleggings tans meer as ʼn miljoen rand.

Ondersoekers beweer dat dieselfde name in die topbestuur van verskeie “word-vinnig-ryk-skemas” voorkom en dat al die skemas na ʼn ruk in duie stort en ʼn klomp goedgelowige beleggers dan in sak en as sit omdat hulle al hul pensioen of spaargeld verloor het.

Lee sê dit is jammer dat hulle nie vooraf geweet het van die MTI-bestuurspan se agtergrond en hul vorige betrokkenheid by ander soortgelyke skemas soos BTC Global nie. Dié het ook op dieselfde wyse tot ʼn einde gekom as wat tans die geval met MTI is.

Intussen het Maroela Media van verskeie beleggers gehoor wat gister nog beweer het dat die nuus oor MTI se ineenstorting vals is. Dit het veral op WhatsApp-groepe gegons. Meer as een belegger het geglo dat hul nog vinnig hul geld kon onttrek, maar die spreekwoordelike skrif was aan die muur toe hul nie toegang tot die MTI-webwerf kon kry nie.

ʼn Belegger wat anoniem wil bly, het vertel dat hy deur iemand gewerf is wie se hele gesin by MTI belê het. Hy het dit selfoorweeg om ook namens sy seun wat nog op skool is aan te sluit.

Nog ʼn belegger het glo gister voor MTI se kantore in Stellenbosch in trane uitgebars toe hy besef dat dit die balju is wat saam met hom probeer om toegang tot die maatskappy se kantore te verkry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.