Limpopo-inwoners word wakker van aardskudding

Argieffoto: Pixabay

’n Ligte aardskudding het Saterdagaand die Tzaneen-omgewing in Limpopo getref.

Mahlatse Mononela, woordvoerder van die Raad vir Geowetenskappe (CGS), het bevestig die CGS se seismologiese departement het ’n aardskudding omstreeks 23:20 in die Tzaneen-omgewing waargeneem.

“Daar is voorlopig bekendgemaak dat die sterkte van die aardbewing sowat 2,1 is,” sê Mononela.

Volgens Tony Long, ’n geoloog van Tzaneen, was die aardskudding se diepte sowat 10 km. Hy sê die episentrum blyk tussen Mieliekloof en Deer Park, sowat 15 km van Tzaneen, te gewees het.

Volcano Discovery het op sy webwerf ook die aardskudding bevestig en gesê die status van die aardbewing bly egter onbevestig totdat dit deur minstens een nasionale of internasionale seismologiese agentskap bevestig word.

Inwoners in en rondom Tzaneen het op sosiale media vertel dat hulle Saterdagaand dié ligte aardskudding gevoel het.

Dr. Theo de Jager, uitvoerende voorsitter van Saai, wat op ’n plaas 10 km buite Tzaneen woon, sê hy het omstreeks 11:25 wakker geskrik van die aardskudding. Hy sê die aarde het ’n hele ruk lank gedreun en geskud.

“Ek het eers gedink dis ’n vliegtuig wat laag oor my huis vlieg of ’n vragmotor wat oor die werf ry,” vertel De Jager.

Agri Limpopo en Evac911-nooddienste in Tzaneen het op Facebook gesê dat hulle ook verskeie berigte van die aardskudding ontvang het.

Van die inwoners het op Facebook gesê hul huise se dakke het ’n ruk lank geskud.

Volgens Long is dit die tweede aardskudding in ’n paar weke wat in die Mopani-gebied aangemeld is. Hy sê dié gebied is een van die streke in Suid-Afrika wat die meeste natuurlike seismiese aktiwiteite ondervind.

“Naas ons gebied, ondervind die Kaapse Plooigordel gereeld aardskuddings. Daar is in die literatuur melding gemaak van ’n ‘megaspoor’ wat ons streek met bogenoemde streek verbind. Dit word die sogenaamde ‘Tzaneen-Kaapse lynstruktuur’ genoem. Laasgenoemde kan dus as ’n onstabiele sone beskou word, wat aardskuddings tot gevolg kan hê. Ons kan dit egter nie bevestig nie,” het Long aan Maroela Media gesê.

“Dit lyk ook nie of daar geologiese bewyse is wat aandui dat ’n groot aardbewing in die afgelope paar miljoen jaar hier plaasgevind het nie.”

Volgens Long het Bernie Altenroxel van die Mopani-distriksmunisipaliteit se rampbestuursdepartement die CGS gevra om ’n seismiese studie in hul gebied te doen.

“As hierdie aardskuddings opbou, moet daar ondersoek ingestel word na die moontlike uitwerking daarvan op die damwalle en ander infrastruktuur in die omgewing.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Wonder ·

Goeie genade, ek kan onthou toe ons naby Klerksdorp gebly het was daar ook n aarbewing, dink amper 4.5 op die skaal, dit het ook vir my geklink soos swaar weer, is glad nie n lekker gevoel nie, ons het in n klein dorpie gewoon, waar ek besef het dit is nie normaal nie is die hele dorpie se honde het gelyk omtrent kan se n minuut voor die aarbewing almal gelyk begin tekere gaan, ek het daar geleer om vir die “natuur” te luister.

Elise Georgina Irene ·

Dit het net weergalm… dit was ‘n Zum wat gepraat het…!!!

Samuel ·

Dit kon erger gewees het. Kom nogal taamlik gereeld voor deesdae.

SomeOne ·

daar was nog nooit ‘n aardbewing in daardie area nie
en dan verontagsaam die mense wat in die Bybel genoem word

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.