Lisa-Marie Beyers: ‘Ons is só trots op haar’

Lisa-Marie Beyers (Foto: Facebook)

Die blondekop Lisa-Marie Beyers met die aansteeklike glimlag het vroeër vandeesmaand haar stryd teen sistiese fibrose verloor. Haar pa, Pieter, sê dit is ʼn verskriklik moeilike tyd vir die gesin, maar hulle is trots op hul Lisa se nalatenskap.

Lisa-Marie is op tweejarige ouderdom met sistiese fibrose gediagnoseer nadat sy lank bronchitis gehad het en nie gesond kon word nie.

Hoewel Lisa met die siekte moes leef, het sy nie toegelaat dat dit haar terughou nie, vertel Beyers aan Maroela Media.

“Sy was baie vasberade om sekere doelwitte te bereik. Sy wou nooit anders behandel word nie, sy wou op haar maats se vlak wees. Sy moes ekstra hard werk om te bereik wat sy graag wou, maar dit het van haar ʼn vegter gemaak,” sê Beyers.

“Sy het natuurlik haar af dae gehad wanneer sy moedeloos geraak het, maar sy het ongelooflike deursettingsvermoë gehad om net aan en aan en aan te hou.”

Lisa-Marie het in 2018 ‘n dubbele longoorplanting ondergaan, maar haar liggaam het nie die nuwe longe aanvaar nie.

Lisa-Marie Beyers (Foto: Facebook)

“Hulle moes baie hard baklei. Hulle het selfs dokters van oorsee geraadpleeg, maar haar immuunstelsel het die longe aangeval. Hulle kon die agteruitgang nie stopsit nie,” vertel Beyers.

In Oktober 2020 het Lisa-Marie slegs 30% van haar longfunksie oorgehad en later slegs 10%. Haar pa sê haar toestand het aan die einde baie vinnig versleg.

“Sy was weer op ʼn lys om ʼn longoorplanting te ontvang, maar daar was nie vinnig genoeg geskikte longe vir haar nie.”

Beyers vertel dat hy en sy vrou aan die einde om die beurt by Lisa-Marie geslaap het, haar medikasie gegee het, gevoer en gebad het.

“Dit was vernederend vir haar om so afhanklik van ons te wees. Maar dit was haar wens – om by die huis te wees as sy sou sterf.”

Lisa-Marie is op 22 Februarie 2021 oorlede en haar begrafnis het op 27 Februarie, presies een week voor haar 21ste verjaarsdag, plaasgevind.

Duisende mense, onder wie talle bekendes, het Lisa-Marie se lewensreis op haar Facebook-blad, “Just Breathe – Lisa-Marie Beyers”, gevolg. Haar begrafnis is ook daar regstreeks uitgesaai. Bekendes soos Steve Hofmeyr het die begrafnis persoonlik bygewoon.

Beyers sê hy was verstom oor hoeveel mense omgee oor Lisa-Marie en hoeveel mense se lewe sy aangeraak het.

“Ons het verleë gestaan. Nooit in my beste drome kon ek dink aan die invloed wat my kind op ander mense het nie. Dit was ongelooflik toe hierdie magdom mense na vore kom vir die begrafnis en op sosiale media – ek het nie eens geweet so baie mense ken my kind nie!”

Hy sê hulle is uitgeput en hartseer ná Saterdag se begrafnis, maar is trots op die kind wat Lisa-Marie vir hulle was.

Lisa-Marie Beyers (Foto: Facebook)

“Dit is baie erg; ons het ons kind gegroet. So ʼn diens is baie finaal; jy laat gaan, jy sê baai. Maar ons is só trots op haar. Sy was ʼn bakleier. Sy wou van alles ʼn sukses maak. Lisa het ʼn ongelooflike lewenslustigheid en energie gehad.”

“Just Breathe – Lisa-Marie Beyers” gaan nou in ʼn niewinsgewende organisasie omskep word om ander kinders te help wat dieselfde soort uitdagings het. Beyers sê hy en sy vrou gaan die organisasie bestuur en hulle hoop dat Lisa-Marie op so ʼn manier kan aanhou om mense te help.

Beyers en sy gesin is tans by die see op Hondeklipbaai, waar hulle tyd afstaan om alles te verwerk. Hulle beplan om op 6 Maart, Lisa-Marie se verjaarsdag, ʼn kruisie in ʼn vissersbootjie in hul strandhuis se tuin tot haar eer te plant sodat sy altyd daar kan wees wanneer hulle rus by die see gaan soek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Hester Wilhelmina ·

Wat ‘n ongelooflike getuienis en nalatenskap!

Stefan ·

Kyk daardie pragtige meisie met die pragtige glimlag.
Ons ‘gesondes’ is so gou om te kla oor niks, ek neem my voor om van nou af volgens haar voorbeeld minder te kla en meer dankbaar te wees vir ons gesondheid en ander seëninge.

Willem ·

Dankie vir julle as ouers om so jul kind by te staan. Julle is in ons gebede

Sêmanet ·

Dis die mooiste meisie. Kyk hoe groot smile sy, jy sal nooit sê sy is siek gewees nie. Dis so vreeslik jammer en hartseer.

Mariana ·

Innige simpatie aan haar ouers en familie. Wat ‘n pragtige verhaal oor so pragtige kind. Sy is ‘n voorbeeld vir ons almal. Moenie opgee nie, baklei tot einde. RIV

Mariaan ·

Dis so mooi berig..MAAR MY HART BREEK vir hierdie ouers…ek weet net nie hoe kom mens deur so iets nie….die lewe is darem wraggies nie maklik nie! Baie sterkte vir julle vorentoe…mag jul seer harte met tyd beter raak….

Tong in die kies ·

Baie jammer om te hoor van Lisa-Marie Wat ek graag wil weet is.
hoekon het die dr’s nie die vlies om haar longe verwyder toe sy met sistiese fibrose gediagnoseer was nie.
My skoonseun (38) en sy sussie (36) het alby sistiese fibrose. As baba het die spesialiste die vlies om sy long verwyder. En hy is vandag ‘n baie gesonde man..
Hulle alby is opgeteken in die mediese anale vir die langs lewendes met sistiese fibrose.

Ek persoonlik dink daar moet meer inligting gegee word oor sistiese fibrose.

VannieBaai ·

My hart is so so seer. Maar die meisie het reeds meer in haar lewe bereik as baie ander mense wat ouer was as sy. My dogter is ook ‘n millinium baba en vier ook binnekort haar 21ste verjaardag. Ek is dankbaar om my dogter nog by my te kan hê. Rus sag meisie. Jy lyding is nou verby. ♥

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.