Lise Brink gaan huis toe: “Wat die Here gegee het, is groter as wat ons verloor het”

Dr Brink en sy vrou, Lise en hul kinders. Links onder is Rachel, baba Daniël, André, Johann en agter hom Mieke.

Dr Brink en sy vrou, Lise en hul kinders. Links onder is Rachel, baba Daniël, André, Johann en agter hom Mieke.

deur Cyril Blackburn en Susan Lombaard

Haar oë is vriendelik en haar glimlag opreg toe sy stadig na my toe aangestap kom. ʼn Tree met die krukke, dan ʼn treetjie vorentoe – een been, ander been. Weer die krukke, een been, ander been. Tot Lise voor my tot stilstand kom en haar hand uitsteek.

Elke beweging is versigtig. Elke tree is ʼn geskenk.

Daar wás kere dat hy gewonder het of Lise ooit weer oorkant hom teen die groot ruit van die sitkamer in hulle Groenkloof-huis sou sit en tee drink, vertel Danie Brink. Daarom is elke stap vorentoe ʼn geskenk.

Vrydag het hulle een van die grootste geskenke nóg gekry: Lise is uit die hospitaal ontslaan en kon uiteindelik huis toe gaan. Toe Danie ons dié nuus laat weet, het hy sommer uit sy eie gevra of ons lus is om ʼn draai te kom maak en self by Lise te hoor hoe dit met haar gaan, eerder as dat hy boodskapper speel. Dis ʼn groot mylpaal; ʼn wonderwerk wat hulle graag met die hele wêreld, en veral almal wat die afgelope maande getrou vir hulle gebid het, wil deel.

Vandag gesels sy met my in haar eie huis. Dankbaar, sê sy. Haar lang krulhare is afgeskeer en ʼn wond aan haar agterkop is met ʼn pleister toegeplak. Sy het Donderdag haar prostese gekry, en dié is vir haar ʼn groot seën.

Lise se fisieke gesondheid lyk baie goed. Sy het 13 kg verloor, maar die span dokters wat na haar omsien, sê sy hoef nie meer ʼn arm- en rugoperasie te ondergaan nie. Sy het nie meer haar rolstoel of loopraam nodig nie en loop goed op haar eie, en die rug- en armstut is ook nie meer nodig nie. Hoewel sy nog fisioterapie kry, is haar vordering baie positief.

“Ek het laas week nog nie geweet of ek ontslaan sou word nie. Ek het gedink ek sal ná die naweek dalk weer moet teruggaan na die rehabilitasiesentrum, en ek het my verwagtinge probeer bestuur. Ek was hier by die huis as ʼn pasiënt, nes die vorige twee kere wat ek vinnig by my huis kon draai,” vertel sy.

Haar oë soek na dié van haar man voor sy voortgaan.

“Maar vandag is ek dankbaar om tuis te kan wees. Om by my kinders te kan wees, is soos manna uit die hemel. Dis ʼn gróót geskenk.”

Huis-toe-kom is die eerste tree op ʼn lang herstelpad wat maar nou eers begin. Hoewel sy reeds haar prostese gekry het, moet die hegstuk waarmee die prostese aan die been vasgesit word, nog drie of vier keer vervang word. “Die plek waar die been geamputeer is, gaan nog baie gaan ‘krimp’ en van vorm verander voor dit stabiliseer,” verduidelik Danie.

Saam met die prostese, wat slegs gedeeltelik deur die Brinks se mediese fonds betaal word, is hierdie hegstukke en die terapie wat daarmee saamgaan, ʼn lang en duur proses.

Danie Brink en sy vrou Lise (Foto: Facebook)

Danie Brink en sy vrou Lise (Foto: Facebook)

“Die dokters reken dit gaan ʼn jaar tot agtien maande duur voor sy weer een oggend sal kan opstaan, die prostese aansit soos ek en jy ʼn skoen aantrek, en daarvan vergeet,” sê Danie. “Daar lê nog maande se fisioterapie en mediese en ander behandeling voor, voor sy met haar prostese iets sal kan doen soos ʼn skinkbord dra. Haar wens om weer te kan oefen en uiteindelik te kan draf, is dus nog baie ver in die toekoms, maar te danke aan die prostese is dit nou ʼn werklikheid.”

Dis presies tien weke sedert die 16de Desember, die dag toe die Brink-gesin se lewe vir altyd omgedop is. Op pad na hul vakansiebestemming het hul motor se een wiel losgekom en die voertuig het gerol. Die egpaar se oudste seun, André (12), en jongste dogter, Rachel (8), is op slag dood. Johan (10) het ernstige kopbeserings opgedoen, terwyl Mieke (15), Daniël, die jongste (2), en Danie slegs ligte beserings opgedoen het. Vir weke na die ongeluk was Lise eers in ʼn koma, en toe in ʼn geïnduseerde koma weens die aard van haar veelvuldige beserings. In dié tyd is haar linkerbeen bokant die knie geamputeer. Maar ten spyte daarvan dat haar lewe vir ʼn ruk aan ʼn draadjie gehang het, het sy terugbaklei en almal verstom. Die herstelpaadjie, wat volgens dokters maande sou duur, het sy die afgelope twee weke prostese-en-al begin kafdraf.

En hier sit sy vandag op die oranje bank in haar eie huis, einde Februarie 2017. Maande vroeër as wat enigiemand ooit sou kon dink.

In die dae en weke ná die ongeluk is mense landswyd in reg oor die wêreld diep geraak deur die tragedie wat die gesin getref het. As uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand is Danie wyd bekend en geliefd, en die nuus oor die ongeluk het soos ‘n veldbrand versprei. ‘n Facebook-groep wat geskep is om die gesin se vriende en ondersteuners op hoogte te hou met Lise se vordering, het vinnig gegroei tot 20 000 mense.

Hulle is nie een kwaad nie – nie vir God nie, ook nie vir mekaar nie sê Danie en Lise terwyl hy vir haar ʼn beker rooitee aangee. Maar die realiteit ís seer. “Die eerste keer toe ek in hierdie huis instap ʼn paar naweke gelede, het die realiteit ingesink. Die eerste foto’s van André en Rachel het my gebreek. Ek het natuurlik geweet my kinders is oorlede, maar hier het dit waar geword. Ek het hulle hier gemis.”

Sy vou haar hande om die beker se warmte.

“Maar ek is vandag nog hier om om te sien na die groot geskenk wat God vir my gegee het. Hy het twee van my kinders hemel toe gevat, maar hy het my man en drie van my kinders vir my gespaar. Ek loof en prys die Here dat ons hier kan wees en mekaar kan liefhê,” vertel sy.

Die pad agter hulle is moeilik, en die pad vorentoe is ook nie sonder groot uitdagings nie. Maar sy het nog altyd die ‘moeiliker’ weg gekies as dit beteken het dat hulle saam sou kon wees, vertel Danie. En die feit dat sy hier sit en vir hom ʼn snesie kan aanbied wanneer sy hart breek, is ʼn bewys daarvan.

“God leer ons wanneer ons swak is, is Hy sterk. Ek verlang na my kinders. Maar ek klou vas aan God se beloftes vir ons, want sy genade vir ons is genoeg. Hy dra ons. Hier is my man en my drie kinders, en ek mag nie van hulle vergeet nie. Ons is hier in hierdie vertrek om hulle te koester en lief te hê, om vir hulle iets te beteken en hulle vrae te beantwoord. Wat die Here vir ons gegee het, is groter as dit wat ons verloor het,” verduidelik sy.

“Ek mag nie sit en sê ‘Ek het nie ʼn been nie, Here’. Ek het my twee arms om om my man en kinders mee te omhels. Ek kan hulle liefhê en hoor waarin hulle belangstel en sien waarmee hulle besig is. Dis ʼn wonderlike voorreg.”

Die seer wil egter nie gaan lê nie, en daarom klou hulle aan hulle geloof én mekaar vas. “Dit was ʼn té groot prys om te betaal vir niks om daarvan te kom nie. Ons moet glo dat die Here ʼn groter doel gehad het hiermee; dat ander se lewens nie onaangeraak sal bly nie. Ons lees God se beloftes, en ons weet dat die toekoms goeie goed inhou,” sê Danie.

Die gesin beplan tans André en Rachel se private begrafnis.

'n Gedenkdiens is op 22 Januarie vir André en Rachel Brink gehou (Foto: Maroela Media)

‘n Gedenkdiens is op 22 Januarie vir André en Rachel Brink gehou (Foto: Maroela Media)

“Die hartseer volg ons nog oral. Jy kan nêrens daarsonder gaan nie. Maar God sal verligting bring. En dis die toekomsvisie: om weer vrede in ons harte te hê, gelukkig te wees en normaal voort te gaan.”

Hulle is huiwerig om té ver vooruit te kyk. “Normaliteit in ons gesinslewe lyk ver,” sê Lise. “Maar eendag gaan Danie met sy werk voortgaan en ek gaan hom bystaan – ek gaan elke minuut daar wees. Ek gaan weer soggens vir hom ʼn kosblik pak; hy gaan sy werk voluit geniet en ons gaan nou en dan êrens vakansie hou. Vir nou is die seer nog rou, maar ek is dankbaar om hier te wees.”

Sy grawe sommer ʼn bondel snesies uit die boks op die tafeltjie langs haar. Deur hulle trane glimlag sy en haar man vir mekaar.

“Ek het ʼn doel hier,” sê sy, ferm. “Eendag sal ek weer by André en Rachel wees, maar nou, hiér, is ek gespaar om te help om die doel wat God met my en my gesin het, te volbring.”

Lees alle vorige artikels oor die Brink-gesin hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

26 Kommentare

Elma Maartens ·

Prys die Here. Sulke goeie nuus. Lise jy is bewys van Wonderwerke wat kan gebeur. Sterkte met die pad vorentoe ,met n gesinnetjie soos julle en al die gebede vir julle kan dit net goed gaan

pamela Woest ·

Lisa en Danie, julle is ‘n groot inspirasie vir my en ek is seker vir vele ander mense. Julle is ook’ n groot voorbeeld van om. GOD te volg, ten spyte van al die hartseer. Baie dankie Maroela Media vir die berig, ek dink gedurig aan Lisa.

Rikku ·

Hier sit ek nou en huil van blydskap en hartseer. Dankie Here dat u elkedag saam met hierdie
gesin sal stap. Beskerm hulle met U Liefde en help hulle om genesing te vind vir die groot seerkry wat in hulle lewe gekom het.
Dankie Here vir al die harte wat aangeraak was deur wat met die Brink gesin gebeur het.
Here dit het ons weereens laat besef hoe kosbaar die lewe is en hoe groot U genade is.
Amen

Talita ·

Hoe verlang ek nou na my kind wat nie eens dood is nie, maar oorsee werk en bly. Sommer tranerig nou. Maar dank God dat ek nog sy stem kan hoor. Die gesin gee my moed.

annnemarie ·

Toe ek eers die opskrif lees dink ek:”Sjoe hoe kan iemand so iets se!”, maar na ek die artikel gelees het, het ek n hele ander uitkyk. Dankie Danie maar veral Lise dat jul vandag n hengse groot verandering in my gemoedstoestand en denke gemaak het. Vir dae loop ek al teneergedruk rond oor “alles wat ek nie het nie en oor hier te kort en daar te lank”, en jul het jul twee kinders aan die dood afgestaan en Lise jy het jou been verloor en amper jou lewe en nogsteeds sien jy kans vir die lewe. Ek het so ontsettend baie om voor dankbaar te wees; so ek het defnitief geen rede om te voel en dink soos ek doen nie. Weet dat deur jul hartseer jul ander se lewens aanraak……..Baie sterkte vir julle gesin en familie vir die klipperige pad na herstel, alhoewel ek vandag verseker is dat julle OK gaan wees, NET SOOS EK, want ons GOD is groot!!! Dankie Lise….

Hanlie ·

Julle verhaal laat my net weereens besef hoe dankbaar ‘n mens vir die lewe wat jy het moet wees. Vir my geleer om te waardeer en dankie te sê dat ek ook oorlewingspyne in my lewe het. Daaruit leer ek elke dag hoe groot God se genade en liefde is. Ek weet dat God julle toekoms as gesin sal seën want niks bring Hy sommer maar net op jou pad nie, Hy wil ons leer om saam met Hom tree vir tree die lewe te leef. Baie sterkte Danie, Lize, Mieke, Johan en klein Daniël met julle pad vorentoe.

wes kaap ·

Wonderlike nuus!!! Baie sterkte vir julle!!! GOD sal julle nog steeds dra, soos altyd.

afrikaans ·

Mense wat regtig glo in God, voorspoed en tonne seëninge

Santie ·

Ons dien n groot God en van wonders. Baie sterk en spesiale vroutjie. Baie sterkte steeds vir julle en weet Abba Vader dra julle elke dag. Sterkte

Franza ·

JA, Eendag sal ons weer by ons kinders wees. Ek glo ook God laat dinge toe met n doel, en Hy gee krag om elke tree te loop.

Franza ·

JA, Eendag sal ons weer by ons kinders wees. Ek glo ook God laat dinge toe met n doel, en Hy gee krag om elke tree te loop. Al word die seer sagter, groei die verlange

Dellaq ·

Alle sterkte vir julle swaar pad wat net julle kan stap. Julle is ‘n mooi voorbeeld vir menigte mense.

Louise ·

Dis ‘n vreeslike inspirerende berig gewees hierdie. Ek volg die storie van die gesin nou al vir die afgelope 2 maande. Eers het my hart saam met die pa gebreek, want terwyl sy vrou in die hospitaal in ‘n koma was, moes hy nog steeds die wereld ingaan, en daar wees vir die 3 kinders wat die ongeluk oorleef het. Toe breek my hart toe ek hoor dat mamma se been afgesit moes word, en sy nog steeds nie bewus was van die feit dat haar 2 kindertjies oorlede is in die ongeluk nie. Maar vandag juig my hart met vreugde vir hierdie gesin. GOD is groot, en dra hulle elke stap, want hulle bly getrou en standvastig glo in Hom. Strekte julle pragtige mensies! Dankie dat julle vir ons die “flip side” van die lewe wys, dat ‘n mens wel kan opstaan en kan aangaan, maak nie saak WAT oor jou pad kom nie, solank jy sterk staan in ons GROOT VADER se naam! Bid vir julle! XXXXX

Hannelie ·

Here ek haal my hoed vir hierdie vrou af. Mag U hul as gesin seën met U liefde, want sy is ‘n voorbeeld vir ons nietige mense wat oor onbenullighede kla. Sy het meer deurgemaak as baie mense saam, maar nogsteeds klou sy vas aan haar geloof. Dankie Here dat U haar so spoedig genees het en hul as familie omarm en U liefde in hul uitstraal.

rbee ·

Ek kry vir Johan jammer.
Sy boetie en sussie was sy maatjies waarmee hy elke dag gespeel het.

Belinda ·

Ek kan so baie deur dit leer…………Sterkte aan julle almal……………………

Claudette ·

Dis wonderlik, jy is sterk vrou en ‘n voorbeeld vir ons almal. Alles wat mooi is vir julle pad voor en toe. Met Jesus is alles moontlik.

Sommer net ·

Hartroerend. GOD IS GROOT. WELGEDAAN aan die verslaggewer van die berig wat dit met soveel deernis, begrip en menswees geskryf het.

Valie ·

Geen wiel ” kom (net) los nie” Is die moontlikheid van nalatigheid of opsetlikheid in ag geneem en ondersoek?

Hanalie Jonker ·

Xxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxx xxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxxx xxxxxxxxxxxx xxxxxxxxxxxxxxxxxxxxx

Alta Pelser ·

Wat n wonderlike getuienis van n gesin wat waarlik leef in die hoop en geloof waarmee God ons toe rus as ons Sy kinders is. Saam met julle dankbaar vir elke klein oorwinning en treetjie vorentoe. Mag die Hemelse Vader Sy liefde en genade mildelik uitstort oor julle gesin. Julle is n ongelooflike inspirasie.

Val Müller ·

Lise, Danie en familie, mag die Here julle die krag gee om elke dag aan te pak met moed !
Julle is in ons gebede ????

anita ·

Die lewe se klappe kan taai en hard wees. En soos hul sê net God kan hul hierdeur dra. Maar die insinking van hul kidd se dood gaan nog kom. Ek het na 2 jaar werklik eers begin rou en in depresie verval. Dit was n moeisame en n seer proses om daaruit op te staan. Maar met God se hulp doen ek dit nog elke dag tree vir tree. Dis hierdie jaar al 5 jaar en in my wese voel dit soos gister. Treur ek party dae asof dit gister is. Sterkte aan jul gesin.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.