Lotery finansier weer dierewelsynsgroepe

Die lotery het in die vorige boekjaar sy finansiële steun vir dierewelsynsorganisasies opgeskort. (Foto: Ashraf Hendricks/GroundUp)

Deur Liezl Human, GroundUp

Dierewelsynsorganisasies is in hul noppies oor die Nasionale Loterykommissie se besluit om weer dierewelsyn as prioriteit vir finansiering in die 2023-’24-boekjaar in te sluit.

Die lotery het in die vorige boekjaar sy finansiële steun vir hierdie organisasies opgeskort – ʼn besluit wat talle organisasies as onbillik en oningelig bestempel het.

Jodi Scholtz, kommissaris van die Loterykommissie, sê die besluit om “dierewelsyn in te sluit, is geneem ná deeglike oorweging van die saak en ʼn herbeoordeling van gemeenskappe se behoeftes”.

Die kommissie sê sy doelwit is “om die welsyn van diere te verbeter … tot die voordeel, gesondheid en veiligheid van arm gemeenskappe”.

Die loterygeld sal beteken dat verskeie dierewelsynsorganisasies bekostigbare of gratis veeartsenykundige dienste vir diere in arm gemeenskappe kan lewer. Dit sal ook bewusmakingsprogramme, voorspraakveldtogte en dierewelsynsinspektorate finansier en diere van veilige skuilings voorsien.

Noodroep gehoor

Karen de Klerk, voorsitter van die Kaapse Dierewelsynsforum (CAWF), wat sowat 60 organisasies in die Wes-Kaap verteenwoordig, het in Maart vanjaar ʼn voorstel aan die Loterykommissie gerig waarin hy versoek word om weer die befondsing van die dierewelsynsektor vir die volgende boekjaar toe te staan.

De Klerk het in die voorstel gesê finansiering is veral belangrik om die verspreiding van siektes soos wurms en bosluise in arm gemeenskappe te beperk, asook om die sterilisasie van diere en ander mediese veldtogte te verseker.

De Klerk sê dat dierewelsynsorganisasies sukkel om kop bo water te hou en die kommissie se vroeëre besluit om finansiering te staak het die situasie vererger.

ʼn Groot probleem was dat die kommissie nie verstaan het ​​wat dierewelsyn behels nie, sê sy.

“Dit gaan nie net oor huise vir hondjies en katjies soek nie. Dit handel eerder daaroor om kritieke mediese dienste aan diere in arm gemeenskappe te verskaf.”

Die kommissie se opskort van finansiering het boonop ʼn groot uitwerking op die salarisse van werkers in die bedryf gehad.

“Dit is ʼn baie belangrike deel van enige organisasie sonder winsbejag; jy kan niks sonder kundige mense doen nie,” sê De Klerk.

Marcelle du Plessis, woordvoerder van die Mdzananda-dierekliniek in Khayelitsha, sê dié kliniek gaan aansoek doen vir veeartssalarisse, dierewelsynassistent-salarisse en noodsaaklike toerusting sodra hy die kans kry.

“Sonder dié mense in die organisasie is daar geen hulp vir die diere nie.”

Sy sê dit is moeilik om geld vir die dierewelsynsektor in te samel, aangesien dit nie ʼn topprioriteit vir korporatiewe maatskappye is wat gewoonlik skenkings aan liefdadigheidsorganisasies doen nie.

“Dit is te verstane want daar is baie menslike kwessies wat ook befondsing benodig.”

Mdzananda het in 2015 laas om finansiering by die Loterykommissie aansoek gedoen. Volgens Du Plessis het hulle dié toelaag ook eers twee jaar nadat hul aansoek ingestuur is ontvang.

“Weens die uitgerekte proses het ons besluit om nie aansoek te doen toe die volgende befondsingsronde geopen het nie. In die huidige ekonomiese omstandighede sou ons egter verlede jaar wou aansoek doen en ons was moedeloos toe die befondsing vir dierewelsyn geskrap is.”

Scholtz sê die uitdagings wat die dierewelsynsektor geopper het, het bygedra tot die besluit om die sektor weer by die aansoeke in te sluit.

“Die Loterykommissie poog om ʼn sensitiewe befondser te wees, terwyl die behoeftes van die verskillende waardige sake wat ons moet ondersteun, gebalanseer word,” het sy gesê.

“Hoewel ons spyt is oor die negatiewe uitwerking op die betrokke organisasies, word befondsing vir ʼn bepaalde subsektor nooit gewaarborg nie.”

Keshvi Nair, woordvoerder van die nasionale vereniging vir die voorkoming van dieremishandeling (NSBV), het die kommissie se besluit verwelkom, veral omdat die NSBV nie enige regstreekse finansiering van die staat kry nie.

“Diere is lewende wesens wat ons deernis en beskerming verdien,” sê Nair.

“Deur dierewelsyn as ʼn befondsingskategorie in te sluit, erken die Loterykommissie die fundamentele rol wat diere in ons lewe speel en die verantwoordelikheid wat ons ten opsigte van hulle welstand het.

“Hierdie besluit sal ongetwyfeld ʼn positiewe en blywende impak hê op talle diere in nood regoor ons land.”

  • Hierdie berig is oorspronklik deur GroundUp geplaas en word met vergunning gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Delia ·

Tong in die kies. My belastinggeld is ook bloedgeld. Dit word wanaangewend..maar ek verstaan jou punt.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.