‘Lugmag is nasionale krisis’ – DA

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Africa Aerospace and Defence/Facebook)

Die minister van verdediging, Thandi Modise, het onlangs in ʼn skokkende onthulling die haglike stand van sake binne die Suid-Afrikaanse Lugmag (SALM) bekend gemaak. ʼn Verbysterende 85% van die SALM se vliegtuie is tans onbruikbaar, wat die land uiters kwesbaar vir veiligheidsbedreigings maak.

Volgens Kobus Marais, die DA se woordvoerder oor verdediging, is 188 vliegtuie ondiensbaar, 60 wag om oorgebou te word, drie is weens ouderdom onttrek, 27 wag op herstelwerk en ses ondergaan tans herstelwerk.

“Die minister het ook vergeet om te noem dat slegs twee van die 26 Gripen-vegvliegtuie, en drie van die 24 Hawk-vliegtuie tans bruikbaar is,” sê Marais.

“Maar die mees kommerwekkende feit is dat meer as die helfte van die  vliegtuie weens ʼn gebrek aan onderdele of begrotingsbeperkings tans onbruikbaar is. Dit beteken dat, in die geval van ʼn nasionale veiligheidskrisis, minstens die helfte van ons lugmag nie ontplooi kan word om ons land te beskerm nie.”

Marais sê die DA glo vas dat die ANC-regering se wanbestuur, gebrek aan politieke wil en verwaarlosing die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) se gevegsvermoëns ernstig in gedrang gebring het.

“Ons land se gevegsgereedheid het verswak tot die punt waar dit nie meer net ʼn blote bekommernis is nie, maar in ʼn nasionale krisis ontwikkel het.

“In ʼn toenemend gevaarlike wêreld hou ons militêre vermoë ʼn ernstige risiko vir ons nasionale veiligheid in.”

Marais meen dit is veral ontstellend om daarop te let dat die SALM se gevegsvliegtuie, insluitend die Oryx, Rooivalk-aanvalshelikopters, BK 117-helikopters en die LUH 109, van dié is wat die ergste geraak word.

“Die ANC-regering se onverskillige benadering het Suid-Afrika se lugverdedigingsvermoë onthoof en ons blootgestel en kwesbaar gelaat.

“Die DA doen ʼn beroep op die ANC-regering om op te hou belowe en onmiddellik op te tree om aandag te gee aan hierdie nasionale krisis van epiese afmetings.

“Die veiligheid van ons nasie moet altyd die topprioriteit wees. Ons doen beroep op die regering om die nodige hulpbronne toe te wys en doeltreffende strategieë te implementeer om die Suid-Afrikaanse Lugmag tot sy volle glorie te herstel,” sê Marais.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

24 Kommentare

57 Chevy ·

Presies wat ek bedoel het in n ander nuus berig . Hierdie gan S.A nog duur te staan kom en ons gewone burgers gan die prys betaal …nie die anc regime nie .

Jakes ·

Wat kan n mens anders opmerk as dat dit n skreiende skande is dat die ANC regering alles waarmee hulle gemoeid is, verpletter. Die SAW was voor 1994 gereken as een van die bestes ter wereld en sekerlik nou as een van die swakstes.

Snakes@58 ·

Ek glo dit is strategie van die anc om die Weermag en Polisie so te verswak sodat daar geen kans van ‘n staatsgreep van daardie kant is nie

Pannies ·

Is daar ooit nog bevoegde mense in die lugmag om die vliegtuie in stand te hou en te vlieg?

Chris ·

Ek leef in vrees dat die Lesotho se infanterie, Swaziland se vloot en Botswana se lugmag ons aanval. O bloed hier kom in iets en dis nie modder nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die buurlandjies moet hul miljoene burgers hier beskerm, BN.Dis baie gevaarlik hier.

Aggie ·

Nie “nou” nie. Alles het lankal uitmekaar geval. Maar nou wonder ek, waarteen moet ons beskerm word? Wie wil teen ons oorlog maak. Kan mos net die land binne stap en vat wat hulle wil hê.

Bekkie ·

En so blaker hul alles op sosiale media uit……………net vir die vyand om te weet….

Pieter ·

Hulle moet alles ontbloot ons weermag is oom M T daar gaan niks aan nie alles het het verval staan en is stukkend hulle le in die kampe rond en doen niks behalwe om vet te word dit is so hartseer

Yolandie ·

Surprise surprise, die regering kan nie eers aan alle Suid Afrikaners beskerming bied met die huidige korrupte, verswakte polisiemag nie. Dis deurspek van onbevoegdheid en boetie help vir ander boetie om die magsleer te klim maar wat hulle weet van die weermag absoluut niks nie. Dan wonder ek hoekom mense ooit hierdie mense kon glo dat die vax actually werk en veilig was. In watter universe het hierdie regering ooit enigeiets gedoen wat in die land en sy mense se beter belang gedoen is of word???? Maar nou ja……en so jaag hulle net elke dag hierdie land verder in die skuld grond in wat ons nageslagte nie eers sal kan uitwis nie.

Anonymouse ·

Ons het nie ‘n lugmag nodig nie. Ek kan nie glo dat soveel geld aan dit gemors word nie.

Prikkie ·

Ek sou van mening wees dat ons eerder nie ‘n Vloot benodig nie, want as jy darem die NSRI moet inroep (om die VLOOT te kom red) by ‘n ramp soos onlangs gebeur het, dan moet jy darem nou weet hoe laat dit geword het.

Adele ·

‘n Lugmag is van kardinale belang. Lugaanvalle is uiters belangrik in tye van oorlog.

Prikkie ·

My hart pyn by die lees van hierdie berig. Ek was tussen 1972 en 1983 staandemag in ‘n lugmag met diensbare vliegtuie en ander diensbare masjienerie.

Die lugmag was paraat en het op talle plekke en gebeurtenisse gehelp en dankie tog aan Mnr Marais dat hy praat van “onbruikbaar en ondiensbaar” en nie die sinnelose onklaar nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Prikkie, wat beteken bruikbaar, onbruikbaar, diensbaar en ondiensbaar? Dit is tegniese SALM taal wat baie van ons nie verstaan nie.

Adele ·

Volgens wat ek al uitgevind en gesien het is al die top vlieëniers veterane, afgetrede kolonelle en generaals. Hier en daar is nog gesoute vlieëniers wat nog in die mag dien, maar bitter min.

Brombeer80 ·

Dis al vir jare so n storie en die wapentuig wat Suid afrika gehad het is verkoop aan ander lande. Die Atlas Cheetah is n goeie voorbeeld hiervan. Dis waar die regerende party nooit hulle vingers in moes steek nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.