Lugversorging by Gautengse hospitale gee die gees

Die Steve Biko- Akademiese hospitaal in Pretoria. (Foto: ANA)

Die DA sê chirurge werk in gevaarlike hoë temperature by die Charlotte Maxeke Johannesburg Hospitaal (CMJH) nadat die lugversorging vandeesweek – te midde van hemelhoë temperature – die gees gegee het.

Dit is die tweede groot hospitaal wat se lugversorging in die warm weer ingekonk het. Die lugversorging by die Steve Biko-hospitaal in Pretoria het verlede week gebreek.

“Dit is ʼn risiko om in die hoë temperature operasies uit te voer omdat dit die gevaar van infeksie verhoog, maar chirurge is huiwerig om operasies by CMJH te kanselleer omdat die operasie-waglyste so lank is,” sê Jack Bloom, die DA se woordvoerder oor gesondheid in Gauteng.

“Staatshospitale het dringend opknappingswerk nodig. Dit word swak gedien deur ʼn berugte en korrupte Gautengse departement van infrastruktuurontwikkeling.”

Die VF Plus sê die gebeure is ʼn voorbeeld van hoe sake in hospitale gaan uitsien indien die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) deurgevoer word.

Philip van Staden, die VF Plus se woordvoerder oor gesondheid, sê die party het reeds met die minister van gesondheid, dr. Joe Phaahla, oor die krisis geskakel en gevra dat die nasionale departement van gesondheid ingryp.

“Dit is onaanvaarbaar dat pasiënte konstante pyn moet verduur weens ʼn gebrek aan beplanning en instandhouding,” sê Van Staden.

Hy sê die wetsontwerp op die NGV moet dadelik onttrek word en eers weer oorweeg word wanneer alle gebreke in staatshospitale reggestel is. Die NGV kan nie met die huidige krisis in die openbare gesondheidstelsel enigsins oorweeg word nie.

“Daar is reeds ʼn enorme agterstand van 175 000 operasies landwyd weens verskeie tekortkominge wat deur die regering self in die Covid-19-tydperk veroorsaak is en die onbevoegdheid wat tans aan regeringskant bestaan om dit reg te stel, spreek boekdele.

“Die huidige krisis by Steve Biko is nie ʼn nuwe krisis nie,” sê Van Staden.

Hy sê die provinsiale en nasionale departemente van gesondheid moet ophou om elke keer die blaam te verskuif na die provinsiale en nasionale departemente van infrastruktuur en openbare werke en toesien dat die kantoor vir die nakoming van gesondheidstandaarde behoorlik toegerus word.

“Dié kantoor moet ten volle funksioneer sodat alle hospitale en klinieke behoorlik geïnspekteer kan word om toe te sien dat daar aan wetlike voorskrifte voldoen word om veilige gesondheidsorg van gehalte aan Suid-Afrikaners te lewer.”

Van Staden sê die politieke wil ontbreek om op te tree en dat die ANC-gedrewe beleid en ideologie eenkant toe geskuif moet word en daadwerklik aandag gee word aan die probleme in die openbare gesondheidsorgsektor.

Bloom sê ook groot hospitale soos Steve Biko en CMJH moet toegelaat word om hul eie instandhouding te doen en moet kontrakteurs aanstel wat die werk behoorlik kan doen.

Die afwenteling van instandhouding- en kleiner kapitaalprojekte behoort ook te help met probleme soos die watertekorte wat tans by die Helen Joseph- en Rahima Moosa-hospitaal in Johannesburg ondervind word.

“Die groot slagoffers is pasiënte wie se operasies gekanselleer word en personeel wat ongelooflik gespanne is weens die swak toestande waaronder hulle werk,” sê Bloom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Manie ·

Daar is niks meer om te vernietig nie. Die SAL, Spoornet, Poskantoor, Eskom, SAPD, SANW, Gesondheidsdienste, Ekonomie, SARS, Regstelsel, Munisipale Owerhede, die Rand se waarde, Landbou, Onderrig, absoluut alles is deur die regering vernietig oor ‘n bestek van 28 jaar. Wat moet nog vernietig word om die land as ‘n mislukte staat te kwalifiseer?

Kokerboom ·

Niks . Ons is klaar!
Nou is uitdaging: Raak ontslae van die regime en begin herbou!Dit kan werkloosheidsyfer drasties verlaag en nuwe hoop vestig

Elma ·

Dalk eerder Eskom se skuld, as die hitte s’n. Hulle aan en af en aan en af honderd maal sonder ophou.

vuurvliegie ·

‘n Aircon remote sit dit ook aan en af en aan en af. Haha

Antie Sarie ·

Remote veroorsaak nie die surges wat aan en af krag veroorsaak nie, Het jy daaraan gedink?

JohanR ·

In 1989 toe die hospitaal Hendrik Verwoerd was het alles gewerk en Pretorianers was trots. Nou werk niks nie by Steve Bike en niemand wil daarheen gaan nie.

Di ·

Verkeerd – duisende immigrante stroom daagliks soontoe. Vanaf 6uur in die oggend kan jy skaars daar ry, karre en taxis staan in strepe en wag om mense daar af te laai

Antie Sarie ·

Nee. Jy is verkeerd. Niemand wil soontoe gaan. Immigrante het net geen keuse nie

Atta ·

Verlede week toe ek by Steve Biko was, was ek aangenaam verras dat daar nou nuwe, werkende hysbakke is. Die toilette in die publieke areas is ook nuut en baie netjies oorgedoen so paar maande gelede. Darem is alles nie net “doom and gloom” nie.

Marelize ·

Ek is jammer om te sê ek sien nie dinge beter raak nie. Daar word gesê daar is altyd lig aan die einde van ‘n tonnel, maar huidiglik sien ek nie eers die tonnel nie.

Joggie ·

Sal dit nie ‘n blye dag wees as die ANC regime die gees gee nie!

Kortbroek en plakkies ·

Miskien moet die ministers en hoog geplaastes in staats departemente gedwing word om van die publieke fasiliteite gebruik te maak sodat hulle die pyn kan voel van die wat dit nie kan bekostig om duur mediese fondse te hê nie. Nee wat hulle sal nooit so iets oor hulle pad bring nie.

Lugversorger ·

The tenders are being awarded to contractors who cannot do the work. Those who CAN do the work are ignored, yet their job specs and figures are used just like that during invitations to bid! My quotes have been ignored since 2020!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.