Luiperd val personeellid aan in reservaat

(Argieffoto: Pixabay)

’n Luiperd het Sondag ’n werknemer van die Sabi Sand-wildreservaat – wat aan die Krugerwildtuin grens – aangeval.

Luidens ’n verklaring deur die reservaat het die luiperd die werknemer op die stoep van haar woning aangeval.

Sy het veelvuldige beserings opgedoen en is per helikopter na ’n nabygeleë hospitaal geneem.

Die reservaat sê die luiperd, ’n mannetjie, was oud en in ’n slegte toestand.

“Dit is ongewone gedrag vir ’n luiperd, en daar word aanvaar dat sy ouderdom en slegte gesondheidstoestand tot hierdie desperate aanval gelei het,” lui die verklaring.

Die luiperd is volgens die protokol vir voorvalle van hierdie aard, van kant gemaak. Dit is gedoen met die nodige goedkeuring van die betrokke provinsiale owerheid, die Mpumalanga-toerisme-en-parkagentskap (MTPA).

’n Volledige ondersoek na die voorval sal volg.

Maroela Media het vroeër berig ’n personeellid van die Skukuza-gholfklub in die Krugerwildtuin is op 26 Junie buite sy woning deur ’n luiperd aangeval. Die personeellid het wonderbaarlik oorleef.

’n Maand daarna is nog ’n werker in die Kruger Shalati-konsessie in die wildtuin op pad werk toe deur ’n luiperd aangeval.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

PieterJ ·

Groot jammerte, maar ongelukkig nodig. ‘n Ou en beseerde luiperd sal weer mense aanval.

SjN ·

Die ou luiperd het seker gereken dit is n maklike prooi, natuurlike instink, gelukkig het die werknemer oorleef.

Chantel ·

Ek SWEER ek weet nie hoekom wilde diere ELKE keer moet van kant gemaak word, wanneer hulle in hul natuurlike habitat aanval nie. Dis nie asof daar ‘n werklike onderskeid getref word tussen mens en dier wanneer dit as prooi gesien word nie. Maak my siek!!! Swak verskoning dat dit a.g.v ouderdom en siekte is nie. TWAK man!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.