Werker oorleef luiperdaanval in Krugerwildtuin

Die Skukuza ruskamp. (Foto: Kruger National Park)

ʼn Personeellid van die Skukuza-gholfklub in die Krugerwildtuin het wonderbaarlik oorleef nadat ʼn luiperd hom skynbaar uit die bloute aangeval het.

Isaac Phaahla, woordvoerder van SANParke, het bevestig dat die aanval op 26 Junie buite die slagoffer se woning by die park se personeelwoonkwartiere plaasgevind het.

“Ons weet nie waar die dier vandaan gekom het nie, maar natuurlik bly en werk al ons personeel in ʼn wilde gebied waar hulle altyd op hul hoede moet wees,” het Phaahla gesê.

Die slagoffer, wie se naam weens privaatheidsredes weerhou word, was glo die dag naby die woonkwartiere doenig toe ʼn luiperd hom aangeval het. Hy het onder meer beserings aan sy kop opgedoen en is na ʼn hospitaal geneem.

Volgens die betrokke gholfklub sterk die slagoffer goed aan. Hy is steeds in ʼn hospitaal, maar sal na verwagting eersdaags ontslaan word.

“Hoewel die beserings wat hy opgedoen het ernstig is, is ons verlig om te hoor dat hy ten volle sal herstel,” het die klub in ʼn verklaring gesê.

Die klub het reeds maatreëls getref om te verseker dat die slagoffer se gesin voortdurend emosionele en finansiële ondersteuning ontvang terwyl hy herstel.

“Ons wil almal opnuut bedank wat bel en ondersteuning, skenkings en gebede aangebied het.”

SANParke se wildbewaarders is op die spoor van die luiperd en sal die dier monitor om die veiligheid van alle personeel en besoekers te waarborg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Oom Jaap ·

En gratis. Moenie vergeet dat jy dit 100% gratis kry nie

SjN ·

Die woonkwartier moes seker ook skoongemaak word na die aanval?

T-Man ·

“Verseker om die slagoffer en sy gesin voortdurend finansiele bystand te gee tot volkome herstel…” ek voorsien n baie lang herstel proses haha

Cherokee ·

re
wildbewaarders is op die spoor van die luiperd en sal die dier monitor
stop
Ja, maklik om die luiperd te herken aan sy kolle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.