Luister: Op die verhoog kan Nádine weer asemhaal

Nádine kuier by Maroela Media. (Foto: Maroela Media)

Ondanks die persoonlike uitdagings en onstuimige waters wat die sangeres Nádine die afgelope jaar moes trotseer, hou sy haar gesig na die son gedraai en floreer sy as kunstenaar en entrepreneur.

Sy het in Desember verlede jaar ʼn splinternuwe enkelsnit, “Liefde sonder ʼn maar”, met groot sukses uitgereik, en het ook ʼn leerproduktewinkel, Nellie Vellies, in die ooste van Pretoria geopen. Boonop werk sy ook vir die vierde jaar in ʼn ry aan ʼn pragtige dagboek wat haar aanhangers jaarliks gaande het.

Nádine het sowat twee maande gelede nuushoofopskrifte gehaal toe Derick Hougaard, die voormalige Springbok-losskakel, in die hospitaal opgeneem is nadat sy hom bewusteloos in sy huis aangetref het.

Hy het sowat drie weke lank op ventilators om sy lewe geveg in die waakeenheid van die Steve Biko- Akademiese Hospitaal, waar hy behandel is vir longontsteking weens aspirasie.

Weens die belangstelling in die gesondheid van dié gewilde sportster, wat op sy dag as “Liefling” bekend gestaan het, het medianavrae onophoudelik ingestroom, vertel Nádine.

“Dit was ʼn verskriklik uitdagende tyd vir my, emosioneel, fisiek en geestelik. As ʼn mens ná die tyd kan stop en asemhaal, dan vind ʼn jy tog weer jouself ná die hele proses.”

Sy hanteer die druk van die mediabelangstelling in haar lewe met grasie. “Ek probeer om dit te sien vir wat dit is. Jy gaan altyd mense kry wat opreg belangstel en wat vir jou bid en daar is vir jou.

“Ek dink nie daar kan iets erger wees as om langs ʼn bed te staan waar daar enige oomblik lewe of dood kan wees nie, en dit hou jou voete op die grond. Jy besef jy kan nie uit hierdie situasie nie en jy doen dit regtig met gebed, geloof en genade, ook vir jouself.

“Sodra jy in die oog van die storm is, raak dit amper half stil. Jy sien alles om jou gebeur en op daardie oomblik kan jy onderskei tussen wat goed en opreg is, maar jy kry ʼn goeie dosis ongemak saam met die opregte belangstelling.”

Sy voeg by die publiek het haar weggeblaas met hulle onwrikbare ondersteuning en konstante gebede.

“In sulke tye besef jy werklik wat die krag van gebed is en hoe mense jou dra met hulle liefde en aanhoudende liefde.”

Nádine is ook entrepreneur en eienaar van die leerproduktewinkel, Nellie Vellies. (Foto: Facebook/Nellie Vellies)

Die terugvoer wat sy kry oor “Liefde sonder ʼn maar”, wat deur Roux Cloete en Dirk van Niekerk geskryf is, getuig ook van die sangeres se aanhangers wat ná meer as twee dekades in die musiekbedryf steeds bankvas agter haar staan.

“Ek bepaal die sukses van die liedjie op die terugvoer wat ek kry wanneer ek vertonings doen. As ek êrens sing en mense sing saam of hulle vra waar kan hulle dit kry of die musiekvideo kyk. Ek is honger vir nuwe materiaal en nuwe liedjies en voor die einde van die jaar gaan daar nuwe goed gebeur.”

Nádine sê mense is onder ʼn wanindruk dat dit moeilik is om te sing wanneer jy deur ʼn moeilike tyd gaan, en pak sy nog gereeld die langpad aan om regoor die land vertonings te lewer.

“Soms is dit juis die plek waar jy asemhaal en waar jy voel daar is soveel liefde wat jou omvou en omarm.”

Nádine het pas ʼn paar suksesvolle vertonings getiteld Kleure gelewer. Dié konsert is saamgestel deur Johan Heystek en die eerste vertoning was in die Atterbury-teater in Pretoria.

Op 9 September is Nádine, Jak de Priester, Ruhan du Toit en Ray Dylan vir slegs een aand saam op die verhoog in die produksie Fluweel by Emperor’s Palace in Kempton Park se Theatre of Marcellus te sien.

Die 11-jarige sangeres Liney, ʼn boorling van Ellisras, sal ook die geleentheid kry om haar musiektalent ten toon te stel.

“Ek weet die gehoor gaan iets kry wat hulle nooit verwag het nie,” sê die sangeres opgewonde oor dié konsert, wat slegs vir een aand aangebied word.

“Mense gaan uitstap en vra wanneer is die volgende een, maar ons lewer die vertoning net een keer per jaar, so maak seker jy kry jou kaartjies!”

Die Fluweel-konsert word deur Numinous 102 en AE Switch aangebied. Kaartjies kos van R200 tot R360 per persoon en is aanlyn by Vtickets beskikbaar.

Besoek Nádine se winkel, Nellie Vellies, se Facebook-blad.

  • Luister boaan die berig na die volledige onderhoud met Nádine.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Nommer 7 ·

Nadine, jy is ‘n wenner, daarom omring jouself net met wenners.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.