Luukse ‘Bloutrein’ nou (effe) meer haalbaar vir SA’ners

Deesdae is die meeste gaste Suid-Afrikaners en nie buitelanders nie. (Foto: The Blue Train/Facebook)

Suid-Afrika se luukse Bloutrein was jare lank oorwegend die speelplek van buitelandse toeriste wat die betreklik stywe koste daaraan verbonde veel makliker kon bekostig. Selfs dié gekoesterde wêreld kon egter nie die Covid-19-pandemie vryspring nie.

Ironies genoeg kon talle Suid-Afrikaners – vóór die pandemie – skaars daarvan droom om hierdie soort luuksheid te bekostig.

Reisbeperkings wat ingestel is om die verspreiding van die virus te verminder het die kraantjie skatryk buitelandse toeriste wat gewoonlik die oorheersende groep passasiers op die trein was, egter toegedraai. Hulle was meestal van Australië, Brittanje en Japan.

Die treindiens is in November hervat – teen beduidend verminderde toerpryse – en deesdae is die meeste passasiers op die luukse trein Suid-Afrikaners. Toeriste sal egter steeds ʼn hele paar duisend rand vir ʼn kaartjie moet opdok.

“Ek het grootgeword en geweet daar is ʼn Bloutrein – maar dit was heeltemal onbekostigbaar,” sê Mashiko Setshedi, ʼn Kaapstadse dokter wat saam met haar 67-jarige ma die reis onderneem.

“Danksy Covid-19 het dit ʼn werklikheid geword,” sê sy.

Almal aan boord! (Foto: The Blue Train/Facebook)

Bennie Christoff, ʼn 54-jarige finansiële raadgewer, sê hy en sy vrou sou verlede jaar na die VSA reis, maar dié planne moes weens die pandemie laat vaar word.

“Ons is ingeperk en ʼn rit op die Bloutrein is een van die dinge wat ek nog wou doen. My grootouers het ons daarvan vertel,” sê hy.

Omring deur luuksheid

Personeel staan reg om gaste op die luukse trein te verwelkom. (Foto: The Blue Train/Facebook)

Kelners in grys onderbaadjies met borde fyn kanapees (southappies) beman die private sitkamer by Kaapstad se hoofstasie, terwyl die geklingel van vonkelwynglase gehoor kan word. Passasiers wag om aan boord van die trein te gaan vir dié luukse twee nagte lange trek oor Suid-Afrika.

Passasiers word taktvol in klein groepies afgekeer en na ʼn snel-koronatoetssentrum geneem. Indien die uitslag negatief is, ontvang die passasier ʼn SMS en ʼn elegante vingermiddagete – die laaste stap voor “almal aan boord!” uitgeroep word en die avontuur begin.

Digby staan die legendariese Bloutrein, gereed vir die passasiers wat in 19 weelderige waens met houtpanele en gepoleerde koper sal tuisgaan.

Die roete kronkel van Kaapstad deur die binneland tot in Pretoria. (Foto: The Blue Train/Facebook)

Die 48 uur lange bederf begin wanneer die trein stadig uit die stasie rol op sy reis van 1 600 km deur die Karoo, sentraal-Suid-Afrika en tot in Pretoria.

Die dorbruin landskap verander mettertyd na heuwels en groen landerye, en myndorpe en informele nedersettings vlieg verby.

Hulle sê die Bloutrein is die perfekte ontsnapping van die wêreld se bekommernisse.

Die dekades oue trein word bedryf deur Transnet, wat die afgelope ruk veral sukkel weens die ekonomiese houe wat die Covid-19-pandemie uitgedeel het. Boonop besorg ʼn toename in kabeldiefstal die onderneming hoofbrekens.

Drome bewaarheid

ʼn Goedkoper kaartjie is volgens die meeste mense se standaarde dalk steeds nie “goedkoop” nie: Dit gaan jou steeds sowat R23 000 uit die sak jaag.

“Dit is selde dat gaste ʼn tweede keer terugkeer,” sê kroegman Simon Moteka terwyl hy drankies behendig oor die toonbank skuif.

“Vir die meeste mense is dit ʼn eens-in-ʼn-leeftyd-ervaring.”

Dit is amper tyd vir aandete en ʼn luidspreker herinner gaste beleef om hul weg na die eetwa te vind.

Plakkies en kortbroeke maak plek vir donker pakke en swierige rokke en die reuk van parfuum hang in die nou gange. Die son gaan onder terwyl gaste na hul tafels begelei word en ʼn goue gloed hang oor die Karoo met sy troppe skape in die verte.

Elke dis op die spyskaart – wat wissel tussen drie en vyf gange – word vergesel van ʼn verskillende soort wyn.

‘n Sjokolademousse-nagereg is een van die disse op die spyskaart. (Foto: The Blue Train/Facebook)

Nagereg, ʼn gedekonstrueerde kaaskoek of suurlemoenskuimpietert, word gevolg deur ʼn skeut grappa of ʼn soet Suid-Afrikaanse wit van Klein Constantia.

“… Nelson Mandela se gunsteling,” sê restaurantbestuurder Sydney Masenyani, onberispelik geklee en gereed vir enige gebeurlikheid.

Ongesiens, maar sigbaar

Een van die kamers op die trein. (Foto: The Blue Train/Facebook)

Ná ete keer sommige gaste terug na hul pas opgemaakte kajuitbeddens. Ander vat die pad na die uitkykwa met sy oorgrote vensters, die sitkamer of die klub vir ʼn laaste sopie.

Alles aan boord van die trein, van die eerste koppie koffie in die oggend, tot ʼn middernagtelike sigaar, word by die kaartjieprys ingesluit.

Geen kontant word toegelaat nie en passasiers word gevra om hul beursies weg te pak en hulle te verlustig in die luuksheid aan boord. Tyd vervaag en tussen etes en middagslapies word die tyd verwyl deur te lees, kaart te speel of nuwe vriende te maak.

Snags vind personeel ongesiens hul weg tot in die kajuite terwyl aandete voorgesit word. Ferm matrasse kom uit die mure te voorskyn en vars beddegoed word oorgetrek.

Die kussings word opgepof en dan verdwyn dié personeellede weer terwyl net die nuut opgemaakte kajuit die bewys is dat iemand ooit daar was.

Gaste kan die vensters oopmaak en volkome sorgeloos tuur na die landskap wat onder die sterrehemel in die maanlig verbyrol – ten minste tot hulle deur die eentonige geluid van die treinwiele aan die slaap gesus word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Anoniem ·

Daar is nie EEN blanke personeellid op hierdie trein nie. Ek sal totaal onwelkom voel op so ‘n trein. Our people moet maar van die geleentheid gebruik maak.

Mallie ·

Dis alles goed en wel. Dis fantasties. Ek het groot geword met trein ry. Trans Karoo, ens. van Pretoria na Kaapstad, Durban, Hartenbos en Port Elizabeth. Toe was daar treinspore en skoonstasies. Genoeg kos, water en skoon toilette.

Sobymykoolkop ·

Mallie, glo my, jy wil nie die verval sien, AS die passasierstrein wel loop is hulle ure laat a.g.v die infrastrukture wat nie in stand gehou word nie asook die blatante stroping daarvan. Kompartemente so vuil en morsig dat jy self skoonmaakgoed saamvat om die plek NET leefbaar te maak volgens jou standaard. Dis om oor te huil.

Karel Kobus Kruger ·

Ek het so 2 jaar gelede met die Shosholoza Meyl tussen Johannesburg en Kaapstad gery. Geen klagtes nie.

Leon ·

As R23000 per kaartjie ‘n afslagprys is, wat was die normale prys ? Weet iemand ?

Chris ·

Leon verlede jaar het dit gewissel van R25800 buite seisoek tot R32135 per persoon wat deel. Vir enkel kaartjies R38725 per kaartjie buite seisoen en binne seisoen R48200 per kaartjie.

Johan ·

Dit moet lees “…het nie die Covid-19 Regulasies vrygespring nie”…dis net die regulasies wat verwoesting gesaai het, nie die “pandemie” nie.

Francois Le Cochon ·

Johan, die pandemie dikteer die regulasies. Dit is soos reen wat oeste dikteer.

Francois ·

Ek het net gekom tot by R23 000… Toe kon ek nie verder lees nie.

JohanR ·

R23000 vir ‘n aand se verblyf? Wag maar vir die toeriste met hulle ponde en dollars. Ons Suid Afrikaners moet maar karavan of tent opslaan en ‘n vleisie op die kole sit, want ons verdien net rande, en behalwe in SA is dit net useless geld. Ja, en dit pla my ook…..daar is nie een wit gesig op daai trein nie. Is BEE nie een wit, twee bruin of Indier en drie swart?

Jedi Knight ·

Sover ek weet is dit vir die hele pakket. Retoer met n aand se hotel verblyf tussen in. Nog steeds aan die stywe kant, maar nou ja……vraag en aanbod, soos alle ander produkte en dienste.

ElizeK ·

Vir R23 000 hak ek my 4×4 woonwa en gaan toer vir n maand deur die veilige, skoon en pragtige Namibia.
Daar loop jy in elk geval meer blanke Suid Afrikaners raak as in SA self. Hou heerlik daar vakansie tussen my EIE mense.

Johnny ·

“kanapees”? Werklikwaar, MM? Is dit nou Afrikaans – terwyl julle die regte woord in hakies langsaan skryf?

Kokerboom ·

Teen R46000 vir 2 kan ek dink aan ‘n langer vakansie selfs buite ons grense. Ek ondersteun ook Melaney se opmerking

Cherokee ·

Vir (heelwat) minder geld kan jy in Durban op ‘n passasierskip klim (ek sal vanaf my voorstoep vir jou kan waai) en ‘n LUUKSE TOER geniet vanaf Durban deur die Mosambiekse kanaal, waar jy wèrklik bederf word en die etes is wêreldklas, dieselfde groep elke aand by dieselfde tafel, waar nuwe vriende gemaak word, MAAR dop kos ekstra en word betaal met Amerikaanse dollar pryse, Jy sien die Portugese eilande, jy woon ‘n teater sessie by elke aand (as jy wil) en jy ontmoet vriende en vriende, jy kuier sonder ophou met die see op die horison in alle rigtings, jy koop by winkels wat vreemde produkte verkoop, en jy ervaar ‘n tyd sonder sorge, met plesier wat hang in die lug. Dit is niè net van die Kaap tot in Pretoria, maar van Durban tot hoog in die Mosambiekse kanaal langs Suid-Oos Afrika, tussen Suid Afrika en Madagaskar, en terug by die huis, waar die wêreld vir die volgende drie dae heen en weer tuimel, soos op die skip. Dìt kan jy doen vir minder geld.

Realis Thailand ·

Ek moet se vir minder as R23000 was ek vir drie weke in die VSA en het in die tyd Yellowstone Nasionale Park besoek en ook Montana en Wyoming en dit het my vliegtuigkaartjie ingesluit vanaf Bangkok na Korea en twee dae daar en toe na Seattle
Omdat ek n pensionaris is het ek gekwalifiseer vir gratis toegang tot Yellowstone
Ek sal definitief nie R23 K betaal vir twee dae op die Bloutrein kan dieselfde roete ry met n voertuig en lekker in gastehuise slaap en ook die mense leer ken langs die pad.
Dat daar ook geen blanke werkers op die Bloutrein is pla my ook.Op Asiana Air was daar pragtige Koreaanse meisies

Herms ·

Ek sal hulle nie ondersteun nie want hulle ondersteun nie want daar is geen witmense in die foto van wernemers nie.

Alet ·

Vir daai tipe geld gaan ek eerder weer terug Mauritius toe. Vir ‘n week lank. Maak nie saak hoe luuks dit is op die trein nie. Vir twee dae. Stem wag maar vir die buitelandse toeriste. En kanapees – is dit daai goed wat op bakkies kom :-) :-) :-)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.