Luukse passasierskip kom in Durban aan

Die Queen Mary 2 het vroeër vandeesweek by Durban aangegaan. (Foto: EThekwini Municipality/Facebook)

Een van die langste passasierskepe ter wêreld is vroeër vandeesweek met singende Zoeloe-dansers begroet toe dit by die Durbanse hawe aangekom het.

Meer as 1 000 bemanningslede van die skip Queen Mary 2 en sy meer as 2 000 passasiers het aan land gegaan om Durban te besoek.

Die Queen Mary 2 is 345 m lank, skaars 15 m korter as die langste twee skepe ter wêreld, Allure of the Seas en Oasis of the Seas. Dit is die eerste keer in drie jaar dat dié gewilde skip weer in Durban vasmeer.

Die burgemeester van eThekwini, Mxolisi Kaunda, en verskeie ander rolspelers het Maandag by die hawe vergader om die besoekers aan land te verwelkom.

Lindiwe Khuzwayo, woordvoerder van die eThekwini-munisipaliteit, sê Kaunda het tydens sy verwelkomingstoespraak Durban uitgelig as ʼn toonaangewende toeristebestemming.

“Hy het ook ʼn geskenk aan die skip se kaptein, Andrew Hall, oorhandig.”

Die reis het in New York afgeskop en die skip sal onder meer in Mauritius, Durban en Kaapstad aan wal gaan.

Die passasiers van oor die wêreld heen het dele van Durban besoek terwyl die skip by die hawe geanker is. Van die passasiers het die stad met die Rickshaw-bus besoek, ʼn kulturele toer na die Victoria- Indiese mark gedoen of ʼn geskiedkundige besoek afgelê waar besienswaardighede soos die Durbanse stadsaal, die Playhouse-teater, die KwaMuhle-museum en ander historiese gebiede besoek is.

Die burgemeester het ‘n geskenk aan die kaptein van die Queen Mary 2 oorhandig. (Foto: EThekwini Municipality/Facebook)

Die Queen Mary 2 is ʼn luukse passasierskip wat gereeld transatlantiese reise doen. Die skip het boonop 13 vlakke wat alles bied van restaurante, ʼn teater, ʼn kunsgalery, ʼn reusebiblioteek en spa- en ander ontspanningsgeriewe.

Die skip vaar onder die vaandel van Cunard en is een van 248 skepe wat die wêreld in luuksheid platvaar.

Tydens die goue era van vaartuie het baie van Hollywood se grootste name saam met Cunard gevaar. Bekendes soos Cary Grant, Elizabeth Taylor en Charlie Chaplin was onder die gaste wat gereeld van dié skepe gebruik gemaak het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Gawie ·

As ek reg onthou van skooldae af – ‘n Skip meer vas en passasiers gaan aan wal. Volgens hierdie berig gaan die skip aan wal by verskeie hawens – Ek hoop regtig nie so nie, want dit kan nogal ‘n gemors afgee!

SjN ·

Hoop hulle het al die vullis en riool om die hawe op geruim en die toeriste ook die haglike plakker toestande gaan wys.

Di ·

Hoop van harte net dat hierdie toeriste nie weer geteiken word deur die kriminele nie.

Dries ·

Ja, ek was ooggetuie toe Japanesse met n bus by die hotel in Durban afgelaai word, hulle kameras en handbagasie uit hulle hande gegryp word. Ek het hulle baie jammer gekry vir die warm verwelkoming.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.