Ma, baba dood ná brand huis verwoes

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Brian Fegter/Unsplash)

ʼn Ma en haar babaseuntjie is Woensdag dood nadat hul huis in Kensington, Kaapstad, aan die brand geraak het.

Die twee slagoffers was glo in die huis vasgekeer toe die brand in die vroeë oggendure uitgebreek het.

Jermaine Carelse, woordvoerder van die brand-en-reddingsdienste in Kaapstad, sê nooddienste is om 02:50 na ʼn huis in 14de Straat ontbied ná gerugte dat ʼn struktuur aan die brand geraak het en ʼn gesin daarin vasgekeer is.

“Bemanning van Epping, Brooklyn en Milnerton het hulle na die toneel gehaas waar hulle op ʼn 32-jarige vrou en haar 16 maande oue babaseuntjie afgekom het,” sê Carelse.

“Albei slagoffers het egter noodlottige brandwonde opgedoen en is op die toneel dood verklaar.”

Brandbestryders kon eers om 04:30 daarin slaag om die brand te blus. Die brand het egter reeds die hele huis in puin gelê en drie mense dakloos gelaat.

Volgens Carelse was die polisie op die toneel om die saak te ondersoek. Die oorsaak van die brand is nog onbekend.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.