Ma het meer vrae as antwoorde ná soektog na vermiste seun in Viëtnam

Coleen Bothma by die hostel waar John die aand voor sy verdwyning in Ho Chi Minh City geslaap het. (Foto: Verskaf)

Coleen Bothma het met meer vrae as antwoorde vanuit Viëtnam teruggekeer nadat sy verlede maand na haar vermiste seun, John, gaan soek het.

Dit is vandeesweek vyf maande sedert sy verdwyning, sê Coleen Woensdagoggend aan Maroela Media.

“My hart is so seer. Ek kan nie vir jou sê hoe ek gehuil het toe ek op die lughawe met sy paspoort en van sy ander goed gestaan het nie. Dit was my grootste begeerte om hom terug te bring. Ek het nie.”

Coleen het op 15 Mei die laaste keer met haar seun gepraat voordat sy familie sedert 18 Mei hom nie meer in die hande kon kry nie. Hy is die laaste keer in Ho Chi Minh City gewaar.

Daar was aanvanklik ʼn betaalde vliegkaartjie vir Bothma om op 1 Junie huis toe te kom. Dié kaartjie is toe na ʼn later datum gewysig in die hoop dat hy dan sy opwagting in Suid-Afrika sou maak, maar toe hy nie opdaag nie, is dié kaartjie gekanselleer. Sy paspoort is kort ná sy verdwyning in die Nine-hostel in die stad opgespoor en by die Suid-Afrikaanse ambassade in Hanoi ingehandig.

Coleen het gedurende haar nege dae lange besoek aan Viëtnam onder meer na die ambassade gegaan om John se paspoort te gaan afhaal. Hiér het al haar vrae op dowe ore geval. “Ek het seker honderde vrae aan hulle gevra. Hulle kon niks beantwoord nie.”

Die vrae het die besonderhede rakende haar seun se bankrekening ingesluit, aangesien sy kort voor sy verdwyning geld in dié rekening vir hom oorbetaal het.

‘n Emosionele oomblik tussen Coleen Bothma en Faheema Daniels. (Foto: Verskaf)

Die Viëtnamese owerhede het haar egter na die Suid-Afrikaanse owerhede verwys, wat haar op hul beurt bloot terugverwys het.

“Niemand kan iets sê nie. Die een blameer die ander. Dit laat ʼn mens wonder of hulle regtig moeite doen om na John te soek.”

Later het sy die hostel waar John die aand voor sy verdwyning in Ho Chi Minh City geslaap het, besoek. “Ek het John se paspoort aan ʼn vrou gewys en vir haar gevra wat het die aand van 18 Mei by die hostel gebeur. Sy wou my nie antwoord nie. Dit was vir my verskriklik.”

Coleen vertel dat sy veronderstel was om ʼn aand by dié hostel te oornag, maar nie verder kans daarvoor gesien het toe die vrou nie haar vrae wou beantwoord nie.

Sy kon ook geen plakkate gewaar van haar vermiste seun in die stad waar hy verdwyn het nie, maar wel van Mushfiq Daniels, die Suid-Afrikaanse onderwyser wat ook vroeër vanjaar in Viëtnam verdwyn het.

Coleen het toe sowat 200 plakkate van John in Engels asook Viëtnamees laat druk en op ʼn bromponie deur die stad gery en plek-plek John se plakkaat opgesit.

“Ek was by sowat 30 polisiestasies om John as vermis aan te meld. Ek het plakkate orals opgesit, by die polisiestasies en by hotelle …”

Niks het egter tot dusver inligting oor John opgelewer nie.

ʼn Hoogtepunt gedurende Coleen se tyd in Viëtnam was wel haar besoek aan die skool in Hanoi waar John voor sy verdwyning skoolgehou het.

Faheema Daniels en Coleen Bothma in Viëtnam om na hulle seuns te soek. (Foto: Verskaf)

“Dit was die wonderlikste ervaring om in daardie klaskamer te staan. Ek het daar besef ek het ʼn goeie kind grootgemaak wat ʼn positiewe invloed op die skool gehad het.”

Coleen het kort voor haar terugkeer na Suid-Afrika vir Faheema Daniels, Mushfiq se ma wat ook in die vreemde na haar seun soek, ontmoet. “Dit was ʼn hartseer oomblik. Ons voel presies dieselfde. Die verlange raak net erger. Dit raak nie makliker nie. Om nie te weet nie is die ergste,” verduidelik sy.

Lees alle berigte op Maroela Media oor Johan en Mushfiq se verdwyning hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Madeleine ·

Ai huil ek nou…
Hou aan bid dames en die Here vertrou

Hannetjie ·

Mens kan mos nie net verdwyn nie Die UN moet ingaan en gaan kyk na die verdwynings van soveel mense daar

Heksie ·

Ek kry sommer hoendervleis as ek dink waardeur hierdie 2 ma’s moet gaan … maar by God is niks onmoontlik nie!

Blommie ·

Klink meer of die regering presies weet wat aangaan en dit probeer toesmeer en geen beheer het oor daai tiepe mense handel nie.
Dis baie erg, my hart gaan uit na julle toe en sterkte.
Hou net aan met soek en krap!
Wonder hoeveel ander mense dalk van ander lande gaan dieselfde deur, dalk n petiese teken dat iemand iets iewers doen of tenminste mense bewus maak om nie soontoe te gaan nie.

Niklaas ·

Ai dit moet swaar wees daai soektog. Arme vrou. Hoop sy vind hom

Leon ·

Dit i \s hartseer om vir die ma te sê, maar ek dink nie jy sal ooit jou kind vind nie. Die mense handel vir “Snuff movies” is reuse groot. Hy is in ‘n plek gewees waar die handel baie groot is. Ek dink hy is lankal van ontslae geraak. Dit is waarom niemand wil praat nie. Baie mense is betrokke wat jy nie van weet nie. Die hostel mense en selfs die polisie kan betrokke wees en agente wees. Dit is net so gevaarlik soos die dwelm bedryf. Inteendeel, ek dink baie gevaarliker.

JohanL ·

Meeste Suid-Afrikaanse ambassade personeel (nie almal nie) is onbehulpsaam. Ons moet onthou wie word tipies na die ambassadeursposte uitgeplaas en as jy van die hoogste posisie af, lui en onbevoeg is, smeer dit af aan die personeel ondertoe. Ek herhaal, daar is uitsonderings. Maar baie is daar om die land te verken en die addisionele vergoeding.

My diepste simpatie aan beide families. Die ergste is om nie te weet of hulle lewe of nie lewe nie.

Penellope Jones ·

Ek kan my dit glad nie indink hoe dit moet wees om nie te weet waar mens se seun is nie!
Glad en geheel nie.
Dit moet ontsettend ontstellend wees, mens beangs maak.
Ek kan net hierdie twee mammas alle voorspoed toewens – hou moed, doen wat julle moet en kan.

Gallie ·

Hierdie twee moeders word in die steek gelaat deur die land se regering en die politieke partye wat saak maak. Waarom kan Cyril Ramaphosa nie iets doen nie. Hy is tog immers die leier van die land. As dit sy kind was of enige persoon in die parlement sou hulle baie vinnig ingegryp het. Ek dink dit is pateties dat hierdie families net aan hulle eie lot oorgelaat word. Daar is geen wil van die regering om hierdie moeders by te staan en te help nie. SWAK!!!!!!!!!

Adel ·

Shoe ek kan net dink waardeur hierdie mammas gaan. Ek bid saam dat beide julle seuns veilig sal terugkeer SA toe…… ñ Mens se hande is afgekap, veral omrede hulle so in die verte verlore geraak het, maar die dame by die hotel weet beslis iets…..

Attie ·

Die regering van hierdié land is pateties. Geen poging om te help nie.

JJ ·

Daar is onmiddelik regsmense aangestel om die 2 van SAL wat dwelms in hulle besit gehad het te help en by te staan in Hong Kong. Maar doen niks vir die 2 Suid Afrikaanse se mans in Vietnam.

Mikeg ·

Dom vraag maar mag interpol nie betrokke raak nie daar is dalk meer sulke vermiste persone in Vietnam maar vanaf ander wereld dele

Natascha ·

Kan ons regering nie ook ingryp en hulp aanbied nie?????

Jessica ·

God please step in help this mother who gave birth to the child that you gave her to bring into this world to love and take care off, please open a door to good news even if it means to bring his body back, but let she just find her son.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.