Ma se hofafspraak met seun se moordenaar: ‘Ek vergewe hom nie’

Francois Swart. (Foto: Verskaf)

Kristi Theron het ’n afspraak met haar kind se moordenaar gehad toe sy Donderdag ter strafverswaring in die streekhof op Lichtenburg in Noordwes getuig het. Abraham Abebe Ergicho is kort daarna lewenslange tronkstraf opgelê vir die moord op die 21-jarige Francois Swart.

“Ek het ’n afspraak met hom gehad om vir hom te sê wat in my hart aangaan en gister het ek die geleentheid gekry om daardie afspraak in die hof na te kom,” sê Theron oor die aangrypende slagofferimpakverslag wat sy Donderdag in die hof aan haar seun se moordenaar voorgelees het.

“Ek het vir hom ’n paar lewenslesse probeer gee oor wat dit is om ’n ordentlike mens te wees. En ek het vir hom gesê hy het die toets gedruip.

“Ek het vir hom gesê dat hy my kind deur ongelooflike pyn gesit het.

“Ek het ook vir hom gesê ék vergewe hom nié. Ek haat hom met elke asemteug.”

Theron sê sy kon nie anders as om eerlik te wees nie. “Dit is hoe ek voel.”

“As jy vir my tien jaar gelede gesê het dat jy hierdie woorde uit my mond sou hoor kom, het ek vir jou gesê jy ken my nie. Dit is nie wie ek is nie. Maar trauma bring jou op plekke wat onbekend is. Jy ervaar emosies wat jy nie kan vertolk nie.”

Abraham Abebe Ergicho (Foto: SAPD)

Ergicho, ’n Ethiopiër, is Donderdag lewenslange tronkstraf opgelê vir die moord op Francois, asook 15 jaar elk vir twee aanklagte van roof met verswarende omstandighede.

Theron vertel aan Maroela Media dat sy deur die loop van die saak drie keer vir Ergicho in die hof gesien het. “Dit het my siel tot stilstand geruk toe ek hom vir die eerste keer in lewende lywe sien,” onthou sy. “My emosies het daardie dag die oorhand gekry.”

Theron was rustig toe sy Donderdag haar getuienis in die hof voordra.

“Maar binne-in my het alles geruk.”

Nou voel sy geestelik gedreineer, maar ook verlig dat Ergicho eindelik gevonnis is.

“Ek het eintlik tot nou toe nie erken dat my kind weg is nie, want ek wou dit nie erken nie. Nou kan ek vir die eerste keer daarmee deal dat hy nie meer hier is nie en berusting vind. Hy moet nou rekenskap gee oor wat hy gedoen het in daardie oomblik.”

Francois is in 2018 tydens ’n rooftog in Lichtenburg met ’n gaspistool in die nek geskiet. Hy is later in die hospitaal dood.

Maroela Media het vroeër berig Francois het die betrokke nag in Mei 2018 omstreeks 01:00 ná werk saam met Jan Louw (21), ’n kollega, gaan koeldrank koop by ’n vulstasie op die dorp.

Francois was in daardie stadium die bestuurder by die Spur-restaurant op Lichtenburg.

Twee mense het met die man agter die toonbank van die winkel by die vulstasie gestry toe een van die mans skielik ’n gaspistool teen Swart se nek gehou en drie skote afgevuur het. Die man agter die toonbank het gevlug en die polisie ontbied.

Ergicho (37) is ná meer as twee en ’n half jaar op vrye voet eindelik op 17 Desember 2020 in hegtenis geneem. Hy is later borgtog geweier en het een keer tydens sy verhoor onsuksesvol probeer ontsnap.

Theron sê Ergicho het boonop geen berou in die hof getoon nie. “Niks. Dit is so goed jy praat met ’n muur. Maar ten minste kon ek ná vyf en ’n half jaar sê hoe ek voel.

“Of hy een woord daarvan gehoor het, weet ek nie. Maar dit was die afspraak wat ek aan myself belowe het ek gaan nakom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Karoo ·

Kristi…. jy het jou seun se lewe vereer deur om jou hart skoon te maak. Geen Ma, geen Ouer moet hulle kinders op so ‘n manier begrawe nie. Ek wens jou liefde en sterkte toe oor die Kers seisoen en nuwe jaar en elke dag daarna. Mag jy alles ervaar wat nodig is vir jou om deur hierdie beproewende tyd te beweeg.

Waarnemer ·

En na 3 mnde of selfs 3 jawr kom die ou uit die tronk op parool en is Francois steeds dood.Tyd dat die doodstraf vir moord/verkragting/msnslag terug gebring word.

Marius ·

Liewe Heer asb laat dit nie met my gebeur nie my besluit sal nie die regter sm wees nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.