Ma verdrink by Vleesbaai

Omstanders het met swemhanddoeke ‘n laer getrek terwyl daar probeer is om die vrou by te bring. (Foto: Facebook)

Vakansiegangers in Vleesbaai in die Wes-Kaap het Donderdag met afgryse toegekyk hoe tevergeefs probeer is om ’n ma van drie op die strand by te bring nadat sy in die see verdrink het.

Sers. Christopher Spies, woordvoerder van die polisie, sê inligting dui daarop dat die vrou (47) Donderdagoggend saam met familie op die strand uitgespan het voordat sy in die see gaan swem en toe verdwyn het.

Lewensredders is ontbied en die vrou se liggaam is omstreeks 11:40 uit die water gebring. Daar word vermoed dat sy deur ’n systroom meegesleur is.

Volgens ’n ooggetuie op die strand het paramedici en vakansiegangers met mediese agtergrond sowat ’n uur lank om die beurt probeer om die vrou by te bring terwyl lewensredders almal beveel het om uit die water te kom.

“Omstanders het met hul handdoeke en sambrele ’n veilige plek probeer skep waar daar om die beurt probeer is om haar by te bring,” vertel die ooggetuie aan Maroela Media.

Die vrou is egter later deur paramedici op die toneel dood verklaar.

Volgens die ooggetuie waai die suidweste wind al ’n paar dae lank in Vleesbaai. “Die see was baie rof met sterk seestrome.

“Vakansiegangers is baie getraumatiseerd, veral omdat dit net twee dae voor Kersfees is en almal hier [in Vleesbaai] saam met familie is om die Kerstyd te vier,” vertel die ooggetuie.

Spies sê ’n geregtelike doodsondersoek word gedoen.

Kind, tiener verdrink

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Pixabay)

Polisieduikers is vroeg Donderdagoggend na die Soutrivier naby Nature’s Valley buite Plettenbergbaai ontplooi waar hulle later die liggaam van ’n negejarige meisie uit die water gebring het.

Die meisie en haar maats het reeds Woensdag in die rivier gaan swem waartydens sy onder die water verdwyn het. Die meisie se ma is in kennis gestel en sy het die polisie ontbied om na haar kind te help soek.

Polisieduikers het ook Donderdagmiddag die liggaam van ’n 17-jarige seun uit ’n dam naby die Outeniekwa-stasie in die omgewing van Glentana gehaal.

Spies sê ’n voorlopige ondersoek dui daarop dat die seun en twee ander met ’n tydelike vaartuig op die water was toe die seun gegly en onder die water verdwyn het. Polisieduikers is dadelik uitgestuur en die liggaam van die seun is later uit die water gebring.

“Ons wil ’n beroep op die publiek doen om tydens die feestyd ekstra waaksaam te wees, veral wanneer hulle ontspanningsplekke besoek. Waterveiligheid is uiters belangrik en daar word aanbeveel dat die volgende veiligheidswenke gevolg word wanneer mense uitstappies na riviere, strande, damme en swembaddens onderneem,” sê Spies.

Die wenke sluit in:

  • Moet nooit ’n jong kind sonder toesig naby water los nie en moet nooit ’n kind verantwoordelik maak vir ’n ander kind nie.
  • Indien ’n kind vermis word, gaan soek dadelik in die water.
  • Gaan die weer en die getye na voor jy die huis verlaat – as die see te rof is, kan jy meegesleur word.
  • Kontroleer met die lewensredders aan diens wat die brandertoestande is voordat jy die see ingaan.
  • Swem slegs in aangewese gebiede wat onder die toesig van lewensredders is.
  • Moenie onmiddellik na ’n groot maaltyd swem nie, aangesien jy moontlik krampe kan kry.
  • Moenie in riviermondings, in vuil water, baie vroeg in die oggend, vroeg saans of nadat dit gereën het, swem nie aangesien haai-aktiwiteit in hierdie toestande toeneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.