Mabalingwe-brand: ‘Verklaar Warmbad tot rampgebied’

Brande word by Mabalingwe bestry (Foto verskaf)

Die brand wat Saterdagmiddag op ʼn berg langs die Mabalingwe-wildreservaat buite Bela-Bela (Warmbad) ontstaan het, word beheer, maar is nog nie onder beheer nie.

Só sê die plaaslike VF Plus-raadslid, Jee-Dee Cloete, wat deurentyd betrokke was by bestrydingsaksies. Duisende hektaar grond en vakansiehuise by veral die Mabalingwe-natuurreservaat is in puin gelê.

Volgens Cloete is ongeveer 80% van die weidingsgebied in Mabalingwe afgebrand. “Dit sluit nie die gebiede rondom Mabalingwe in nie. Dit is ʼn totale ramp.”

Brandbestrydingspanne is steeds op die toneel. “Die brand word beheer en ons weet waar dit brand, maar dit is nog steeds nie onder beheer nie.”

Daar is teen Sondagaand besluit om die verkeer op die Thabazimbi-pad (R516) tussen Mabalingwe se hek en Ingolozi Park, tydelik te reguleer aangesien die rook van voorbrande wat gemaak is om te keer dat die vuur oor die pad spring, motoriste se sig sou belemmer. Dié pad is nou weer oop, maar daar is steeds baie rook in die omgewing.

Cloete sê minstens 50 huise is afgebrand.

Mabalingwe-brand (Foto verskaf deur die VF Plus)

Boere, plaaslike gemeenskappe en brandverenigings veg steeds onverpoos om die brande in bedwang te bring. Cloete sê die boere sal voer moet inkry. Die behoeftes sluit in wildblokke, wildpille, lusern, tef, hawer, bloubuffelsgras en soutlekke.

Marcelle Maritz, provinsiale leier van die VF Plus in Limpopo, sê die party het Maandag in ’n skrywe aan die premier van Limpopo, Stanley Mathabatha, daarop aangedring dat Bela-Bela en omliggende dele tot rampgebied verklaar word.

Die party is veral bekommerd oor die swak kommunikasie tussen brandweer-owerhede van dorpe in die Waterberg-distriksmunisipaliteit (Nylstroom, Naboomspruit, Warmbad, Thabazimbi, Ellisras). Brandweerstasies en personeel is eers teen Sondagaand geaktiveer.

“Distriksmunisipaliteite moet rampbestuur prioritiseer en hul toepaslike toelae gebruik om hul werk na behore te doen,” voeg Maritz by.

Enigiemand wat die boere finansieel word ondersteun, kan die volgende rekeningbesonderhede gebruik:

Ludum Game Consortium (Edms) Bpk
Bank: FNB
Rekeningnommer: 62782734985
Takkode: 250855

Die Mabalingwe-reservaat het intussen gesê sy wildbewaarders is in die veld ontplooi om die wild en hul gesondheid te monitor. Alle diere by die Boschpoort-roofdierreservaat is lewend en in ʼn goeie toestand.

“Ons waardeer die publiek se kommer en betrokkenheid. Julle ondersteuning beteken vir ons baie,” lui ʼn plasing op die reservaat se Facebook-blad. “Ons versoek die publiek se geduld terwyl ons werk om akkurate inligting te versamel en die situasie te assesseer. Bespiegeling en ongeverifieerde inligting kan ons pogings verhinder en moontlik onnodige paniek veroorsaak. Ons toewyding tot deursigtigheid bly onveranderd. Ons sal amptelike inligting deel sodra ons kan.”

Die reservaat sê van die eienaars het hul permanente verblyf weens die brand verloor. Enigiemand wat bystand wil lewer, kan 083 600 9006 kontak vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.