Mafe betwis psigiatriese verslae

Zandile Mafe (Foto: Gianluigi Guercia/AFP)

Zandile Mafe, die man wat daarvan beskuldig word dat hy verlede jaar se verwoestende brand by die parlementêre kompleks in Kaapstad gestig het, betwis nou die bevindings van ’n paneel psigiaters en ’n onafhanklike deskundige wat deur sy eie verdediging gekies is.

Hy is verward oor waarom daar gesê word dat hy nie in staat is om hofprosedures te volg en te begryp nie.

Mafe se regsverteenwoordiger, Luvuyo Godla, het Vrydag buite die hof bevestig dat Mafe albei verslae betwis waarin aanbeveel word dat hy ongeskik is om tereg te staan op aanklag dat hy die parlement afgebrand het.

Volgens Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), sal ’n ondersoek nou volg rakende Mafe se begrip van die onregmatigheid van sy optrede nadat hy die verslae verwerp het.

Mafe sal op 2 en 3 November ingevolge artikel 77 van die Strafproseswet ondervra word om vas te stel of hy wel die hofproses sal kan volg.

“Artikel 77(4) van die Strafproseswet (Wet 51 van 1977) handel oor die behandeling van ’n beskuldigde wat weens ’n geestesongesteldheid of intellektuele gestremdheid ongeskik is om verhoor te word. Terwyl só ’n persoon nie verhoor kan word nie, word hulle nie vrygespreek en ontslaan nie, aangesien die hof ingevolge die wet moet bepaal of die betrokke persoon die actus reus van die misdryf waarvan hy aangekla is, gepleeg het,” verduidelik Ntabazalila.

“Indien die beskuldigde ongeskik bevind word om verhoor te word, laat dit die hof met geen ander keuse nie as om aanhouding in een of ander vorm, soos ’n psigiatriese hospitaal, te beveel nie.”

Mafe is ná sy inhegtenisneming na ’n distriksgeneesheer geneem om te bevestig dat hy nie aangerand of beseer is nie, toe hy op die punt was om te bieg. ’n Distriksgeneesheer, dr. Zelda van Tonder, het paranoïese skisofrenie by hom gediagnoseer en op grond van daardie aanbeveling het die staat aansoek gedoen dat hy by Valkenberg Psigiatriese Hospitaal opgeneem word. Dit is by die hooggeregshof tersyde gestel nadat die destydse regterpresident, John Hlophe, die bevel om Mafe op te neem, onwettig verklaar het.

Alhoewel die kwessie van verwysing vir evaluering vir ’n kort tydperk van die tafel was, het die verdediging dit teruggebring, en Mafe is vir 30 dae na die Fort England‑ psigiatriese hospitaal in die Oos-Kaap verwys. Na afhandeling van die evaluering het regter Nathan Erasmus aan die hof gesê dat Mafe nie in staat sal wees om hofverrigtinge te volg en ’n behoorlike verdediging te maak nie, aangesien hy nie die onregmatigheid van sy optrede kon besef nie. Hy het nie die hele verslag bekend gemaak nie.

Mafe het in Julie tydens ’n uitbarsting in die hof erken dat hy die parlementsgebou aan die brand gesteek het en dat “hy dit weer sal afbrand tensy dit na Bloemfontein of Pretoria verskuif word”. Hy het ook politieke uitsprake gemaak waarin hy gesê het dat betogings in die land plaasgevind het weens sy aanhouding.

Die verdedigingsadvokaat het ʼn uitstel van ses weke versoek om ʼn psigiater van hul keuse te kry wat met Mafe en die paneel van deskundiges sal konsulteer en dan ʼn verslag sal saamstel. Dit sal hulle help om te bepaal of hulle die verslag van die paneel van die Fort England- psigiatriese hospitaal sal betwis.

Lees die vorige berigte oor die saak hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.