Magudumana kry verlof tot appèl oor aanhouding

Dr. Nandipha Magudumana (Argieffoto:)

Nadat die hooggeregshof in Bloemfontein vroeër haar aansoek dat haar inhegtenisneming en uitlewering uit Tanzanië onregmatig was van die hand gewys het, het Nandipha Magudumana nou ʼn reddingsboei in die appèlhof gekry.

“Verlof tot appèl tot die appèlhof word toegestaan,” het die uitspraak wat Vrydagmiddag gelewer is, gelui.

Die bevel lui voorts dat Magudumana egter die koste daarvan moet dra indien sy nie voortgaan met die aansoek nie.

Magudumana, vriendin van die veroordeelde verkragter en moordenaar Thabo Bester, het die polisie vroeër daarvan beskuldig dat hulle haar ontvoer en na Suid-Afrika teruggebring het.

Regter Philip Loubser het egter in die hooggeregshof bevind sy het vrywillig ingestem om na Suid-Afrika teruggebring te word.

Magudumana is in April saam met Bester in Tanzanië aangekeer op aanklag dat sy hom gehelp het om uit aanhouding uit die Mangaung-maksimumveiligheidgevangenis in Bloemfontein te ontsnap. Sy staan ook tereg op aanklag van bedrog, korrupsie, brandstigting, die skending van ʼn liggaam en regsverydeling.

Magudumana het vroeër ook ʼn strafsaak teen die departement van korrektiewe dienste (DKD) aanhangig gemaak nadat sy glo in aanhouding aangerand is.

Die saak teen Bester, Magudumana en hul medebeskuldigdes word in Februarie voortgesit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.