Makwarela by die polisie aangekla

Dr. Murunwa Makwarela. (Foto: Twitter)

Die koalisie in die Tshwane-metro het Vrydagmiddag ʼn strafregtelike klag by die Brooklyn-polisiestasie in Pretoria teen die omstrede dr. Murunwa Makwarela gelê.

Dit volg nadat die Pretoriase hooggeregshof gesê het dat die rehabilitasiesertifikaat wat Makwarela by die stadsbestuur ingedien het, vervals is. Makwarela het ná die hof se aankondiging as burgemeester en raadslid bedank.

Makwarela het in ʼn brief aan die stadbestuurder van Tshwane, Johann Mettler, gesê sy bedanking is nie ʼn erkenning van skuld nie, maar eerder om Tshwane toe te laat om op dienslewering te fokus.

Om die beeld van die burgemeester se kantoor en die naam van die stad te beskerm, het Makwarela gesê hy het besluit om “homself te verwyder” uit die pos van burgemeester.

“Dit is in geen vorm of die ander ʼn erkenning van skuld op die heersende openbare aantygings nie, maar ʼn begeerte om die stad te laat fokus op dienslewering en ander belangrike sake,” het hy gesê.

Jacqui Uys, DA-raadslid en een van die koalisielede wat Vrydagmiddag by die polisiestasie was om die klag in te dien, sê dit is tyd vir “geloofwaardige leierskap” wat voldoende dienste aan die stad lewer.

Hiermee verwys sy na DA-raadslid Cilliers Brink wat reeds in die vorige burgemeesterverkiesing as kandidaat gestaan het.

Die DA wys vinger na Panyaza Lesufi, premier van Gauteng, en Uys sê dit word al hoe duideliker dat Lesufi dringende vrae het om te beantwoord.

“Lesufi, wat die grens tussen die belange van sy party en die beste belange as die mense van Gauteng vervaag, het onbeskaamd aangekondig dat die ANC-EFF-koalisie voornemens het om die plaaslike regering uit die DA se hande te vat,” sê Uys.

“Inwoners van Tshwane is geregverdig om die politieke chaos wat hulle die afgelope dae toegedien is te verbind met die onverskoonbare pogings van Lesufi om plaaslike bestuur in Gauteng met sy planne te ontwrig en om korrupsie te laat seëvier deur skelmstreke en leuens.”

George Matjila, streeksekretaris van die ANC in Tshwane, sê die party distansieer hom van Makwarela en het sy bedanking as burgemeester verwelkom.

Hy sê gesprekke gaan so gou as moontlik nou volg om ʼn plaasvervanger vir Makwarela aan te stel.

“Die ANC wil sien dat ʼn speaker en burgemeester so gou as moontlik aangestel word om balans, orde en stabiliteit in die Tshwane-raad te herstel,” sê Matjila.

Obakeng Ramabodu, streekvoorsitter van die EFF in Tshwane, sê die aanstelling van Makwarela as burgemeester moet voor die deur van die 214 raadslede geplaas word.

Hy sê daar moet nie nou vingers na sekere persone of partye gewys word nie, maar die fokus moet eerder nou wees om ʼn geskikte kandidaat vir die posisie van burgemeester te identifiseer.

“Ons verantwoordelikheid teenoor die inwoners van Tshwane is om vir hulle ʼn regering te bied wat vry is van korrupsie; daarom verwelkom ons Makwarela se bedanking,” sê Ramabodu.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.