Man bly agter tralies ná moord op plaas

Armand Opperman (Foto: Verskaf)

Meer as tien dae nadat ’n verdagte in die Oos-Kaap in hegtenis geneem is vir die onlangse moord op ’n Vrystaatse plaas, het hy in ’n Vrystaatse hof verskyn.

Armand Opperman (38) het Woensdag in die Smithfield-landdroshof verskyn in verband met die moord op Lance Arthur da Silva.

Da Silva (62) se liggaam is op 4 Mei met ’n skietwond aan sy kop in sy huis op ’n plaas in die omgewing van Rouxville aangetref. Opperman het glo saam met Da Silva op die plaas gewoon en ná die moord soos ’n groot speld verdwyn.

Opperman is egter kort ná die moord in Gqeberha in die Oos-Kaap vasgetrek nadat die polisie Da Silva se gesteelde wit Isuzu-bakkie in die Baai opgespoor het.

Opperman staan tereg op aanklag van moord, die diefstal van vuurwapens en die diefstal van ’n voertuig.

Sers. Mahlomola Kareli, polisiewoordvoerder, sê Opperman het ná sy inhegtenisneming eers in die Gqeberha-landdroshof verskyn voordat die saak na die Vrystaat oorgeplaas is.

Die saak is tot Maandag uitgestel. Opperman verskyn dán in die landdroshof op Rouxville. Hy bly in aanhouding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Wonder ·

Met die “wet wat net vir sekeres tel” weet ek nie of dit gaan werk nie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.