Net span in Baai om plaasmoord-verdagte

Een van die gesteelde vuurwapens wat teruggevind is. (Foto: Verskaf)

’n Dag nadat ’n man op ’n plaas in die omgewing van Rouxville in die Vrystaat doodgeskiet is, is ’n verdagte in Gqeberha in die Oos-Kaap vasgetrek.

Die verdagte het glo op die plaas gebly waar Lance Arthur da Silva (62) se liggaam Donderdagmiddag met ’n skietwond aan sy kop in sy huis aangetref is.

Daar was egter geen teken van Da Silva se wit Isuzu-bakkie óf twee vuurwapens nie. Daar was ook geen teken van die man wat saam met Da Silva op die plaas gewoon het nie.

Kol. Priscilla Naidu, Oos-Kaapse polisiewoordvoerder, sê die Vrystaatse polisie is ontbied en ’n saak van moord is onder meer aanhangig gemaak. ’n Kennisgewing is ook aan die onderskeie provinsies se polisie gestuur om op die uitkyk te wees vir die gesteelde voertuig.

Inligting het in daardie stadium daarop gedui dat die bakkie op pad Gqeberha toe is.

Daar is Vrydag omstreeks 12:45 vasgestel dat die bakkie in die omgewing van Walmer in Gqeberha is. Die polisie se blitspatrollie en honde-eenheid is ontplooi en die bakkie is omstreeks 15:00 op die hoek van Vyfdelaan en Unieweg opgemerk.

Die verdagte is in hegtenis geneem en die bakkie deursoek. ’n Vuurwapen is op die agterste sitplek gevind.

Nog gesteelde eiendom van Da Silva, waaronder nóg ’n vuurwapen, is later in Airport Valley en die Walmer-nedersetting gevind. Nog drie verdagtes is in die proses in hegtenis geneem vir die besit van gesteelde eiendom.

Naidu sê die moordverdagte en sy medebeskuldigdes sal Maandag in die landdroshof in Gqeberha verskyn op aanklagte van die besit van ’n gesteelde voertuig, die onwettige besit van ’n vuurwapen en die onwettige besit van ammunisie.

Die moordverdagte sal dan Vrystaat toe oorgeplaas word om dáár op aanklagte van moord, die diefstal van vuurwapens en die diefstal van ’n voertuig tereg te staan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Di ·

Boere moet GEEN een van hulle nie meer op hulle plase laat werk nie. Meerderheid van plaasmoorde word deur hulle eie werkers geokestreer of inligting word aan aan makkers deurgegee

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.