Man buite restaurant doodgeskiet

(Foto: Facebook/White River)

ʼn Middeljarige man is Saterdagaand buite Ocean Basket in Witrivier, Mpumalanga, doodgeskiet.

Volgens ooggetuies het die slagoffer in ʼn vurige argument met ʼn man buite die restaurant betrokke geraak. Die man het glo daarna ʼn vuurwapen uitgepluk en die slagoffer doodgeskiet.

Kyle van Reenen, woordvoerder van Emer-G-Med, sê paramedici is omstreeks 19:30 na die voorval buite die restaurant ontbied. By hul aankoms het paramedici egter gevind dat die slagoffer reeds aan sy skietwonde beswyk het.

Sommige mediaberigte het beweer dat die voorval in die restaurant self plaasgevind het, maar Andre Spyridis, eienaar van Ocean Basket in Witrivier, sê dit is van alle waarheid ontbloot. Geen kliënte of personeel van die restaurant was ook betrokke by die voorval nie.

“Ocean Basket het absoluut niks met die voorval te doen nie, dit was net toevallig dat die tragedie buite die restaurant plaasgevind het.”

Volgens Van Reenen is die verdagte in hegtenis geneem.

Maroela Media het die polisie vir kommentaar genader en wag nog vir terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.