Man dood ná skietvoorval in KZN

Met paramedici se aankoms op die toneel het hulle die man daar aangetref. Hulle het sy toestand nagegaan en hom op die toneel dood verklaar (Foto: Verskaf)

ʼn 37-jarige man is Dinsdagmiddag tydens ʼn skietvoorval op die M4 digby die Himalayas-afrit in Bluff, KwaZulu-Natal, doodgeskiet.

Kol. Thembeka Mbele, woordvoerder van die polisie, sê die man is in sy voertuig op die M4 raakgeskiet. Hy het daarna beheer oor sy motor verloor en teen ʼn ander voertuig gebots.

Garrith Jamieson van ALS Paramedics sê paramedici is net ná 13:00 na die toneel ontbied.

“Met paramedici se aankoms op die toneel het hulle die man daar aangetref. Hulle het sy toestand nagegaan en hom op die toneel dood verklaar,” sê Jamieson.

Twee ander mense het matige beserings opgedoen en is op die toneel gestabiliseer voordat hulle na ʼn hospitaal in Durban gehaas is vir verdere mediese behandeling.

“In dié stadium is die omstandighede rakende die voorval nog onbekend.”

Mbele sê die polisie ondersoek ʼn saak van moord en niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.